Eie stories

Eksklusief vir SARIE – Anoeschka von Meck skryf ‘n kortverhaal

Doortjie, Dawid en die dealer

Deur Anoeschka von Meck
(Vir Broeder)

Dis dalk tyd om jou lewensuitkyk en geestestoestand ernstig in oënskou te neem as jou ma ‘n dringende SMS aan familielede en nasionale gebedsgroepe stuur: “Bid asb! Doortjie wil vir Dawid skiet!”

Want Doortjie het ‘n humeur.

En dit alles boonop laat op ‘n Vrydagmiddag.

Enige Suid-Afrikaanse vrou wat haarself daagliks teen die geweld van ‘n versteurde samelewing moet verdedig, behoort te weet: Om ‘n vuurwapen op die swartmark te koop só laat in die week kan problematies wees. Winskopies is teen hierdie tyd lankal deur die Kaapse gangsters en transitorowers opgeraap.

“You wanna shoot dead or net bang! for da skrik?” vra die dealer van sy hotel se balkon in Seepunt af waar hy besig is om ‘n huilende baba op sy arm te probeer troos. Om sy been hang nog ‘n kind soos ‘n uitgroeisel op sy knie.

“No, not kill, just vleiswond,” beduie ek op my eie lyf na die vet om my heupe asof ek by ‘n slagter ‘n bestelling plaas.

“Boyfriend?” wieg hy heen en weer op sy voete.

“Ja.”

Hy knik simpatiek.

“You white chick kan skiet? You want DVD? Microwave?” bied hy opportunisties aan terwyl ‘n gesluierde vrou rondskarrel om verskeie items van bo af oor die muurtjie aan my te vertoon.

“Boer,” wys ek weer na myself.

“Aah,” lig hy sy wenkbroue, blykbaar tevrede.

“Good price for nappies if you take gun . . . you vely nice, make many baba?” probeer hy vir oulaas. Ek skud my kop ongeduldig, my karsleutels nog in my hand. Die vrou katrol vies die doeke wat sy oor die muur vir my inspeksie laat sak het weer op terwyl sy onderlangs iets mompel. Sy en die dealer begin op mekaar skree, maar hou ewe vinnig weer op asof die man skielik skaam is om so ‘n bohaai voor ‘n potensiële koper te maak.

“Take,” wuif hy my weg en slinger ‘n kardoes na my toe, toe hy sien daar is te min note in my hand, “free, free!”

Die papiersakkie met speserye beland amper op my voete. Roesrooi kerriepoeier kom aan my vingers af toe ek dit optel.

Bloed aan haar hande, lees ek dramaties die koerantopskrif in my binnekop.

***

Dit het alles begin met ‘n oproep. By die werk. Van ‘n vrou.

Die stem aan die ander kant sê sy het iets op die hart, iets om met my te deel. Sy sê sy weet dit gaan seer maak, maar ek moet net onthou sy dink aan my.

“Ek is swanger . . . dis Dawid. Wanneer hy nie in jou bed is nie, is hy in myne,” hoor ek haar sê. En as ‘n soort nagedagte: “Daai camo-broek wat jy vir hom gekoop het, laat hom onweerstaanbaar sexy lyk, al moet ek dit self sê.”

Die kantoor se mure gly almal blitsig vorentoe en slaat my elkeen reguit tussen die oë. Al die rekenaars ontprop hulself en stapel op in ‘n hoë toring wat bo-oor my kantel. Drade gly soos bose slange om my nek en knoop hulself vas met groot strikke.

Dit moet wees, want ‘n verblindende pyn flits deur my frontale lobbe en iets wurg my keel toe. ‘n Paar ribbes kraak onder die druk.

Net met uiterste inspanning kan ek weer asemhaal. My stem bly nogtans kalm.

Ek is immers iemand wat daarvoor bekend is dat ek krisissituasies goed kan hanteer en nooit my cool verloor nie (goed, goed, soms wel my humeur), maar my bloed pols so verwoed deur my are dat ek my kop effe skuins moet draai om verder te kan hoor wat die vrou sê.

“Dis ‘n drieling, maar my ginekoloog sê net twee van die sakkies is bevrug en daar steek net ‘n beentjie by die derde enetjie uit, ag, shame.”

Beentjie? Wat?

Nee, ek het verkeerd gehoor. Daar is net ‘n hartkloppie by die derde roereier? Eiersak? Eiervrug?

My gehoor gee altyd in wanneer ek gespanne raak. Ek hoor net die gehamer van my weggesteekte, berserkte self wat skielik met gebalde vuiste uit haar hok breek.

Terwyl die stem praat, skribbel ek ‘n illustrasie van wat sy sê. Drie sirkels, een met ‘n been. Nee, krap dood. ‘n Hartjie, maar op die ou einde lyk dit eerder soos ‘n oog op ‘n bord. Ek sit met die pen gaatjies daarin en druk.

“O? Um? Ja? Hoeveel weke?” luister ek geduldig-mal terwyl ek die mure, rekenaars en drade van my lyf af skud.

“Ek e-pos vir jou die sonar,” lui sy af.

***

Die telefoon lui weer. Hierdie keer is dit my ma wat van die plaas op die randjie van die Namib bel. Haar stem klink krakerig asof die lyn vol sand is.

“My kind, moenie skiet terwyl jy emosioneel is nie. Dink aan daai gemors toe oom Koos Miergif sy buurman, Clutch Visagie, se blesholdonkie one shot geskiet het omdat hy vermoed het hy flerrie met sy vrou rond. Laat ons eers uitvind wat aangaan en as dit waar is, sal ek hom self kom skiet,” belowe sy.

Ek voel skielik ‘n oorweldigende waardering vir my ma. Ook dat ek as plaaskind grootgeword het en weet watter gevoel dit ‘n mens gee om ‘n sneller te trek as jy kwaad is vir die klippe. Dis asof jy jou pyn en woede saam met die koeël uitwerp.

Ons kom ooreen dat ek ‘n uur sal wag. Vir my ma om te bid, vir my om my berserkergeit weer veilig hok toe te lok en vir Dawid om ‘n goeie wegkruipplek te kry.

Nee, ek is nie onnosel nie en ja, ek weet presies waar om iemand “veilig” te kwes. Op kort afstand. Net naby genoeg dat hy vir my presies kan verduidelik hoe daardie bevrugting plaasgevind het.

***

In die uur wat ek ons almal gegee het, dink ek noodgedwonge terug aan die keer toe ek Dawid ontmoet het.

Dit was ‘n woes-en-onbeskofte dag en ek moes van die een dringende afspraak na die volgende nael. Een van daardie taai, warm dae wanneer jy pap soos nat sand aan jou kokende stuurwiel hang en dit aanhoudend voel asof goggas heeltyd by jou cleavage invlieg. ‘n Dag waarop almal in die suidelike halfrond op jou inzoem die oomblik as jy na ‘n parkeerplek mik.

Iewers in ‘n baie besige straat sien ek en twee ander ewe maniese bestuurders dieselfde parkeerplek raak. Nie groot genoeg vir ‘n maklike inswaai nie, maar eerder ‘n vinnige skuins injaag met die hoop jy was die een met die meeste guts van die drie van julle. Jy hoop ook jy tref nie die irriterende, selfaangestelde motoroppasser of een van die kollekteerders of die draadornamentverkoper van Uganda nie.

Wonderbaarlik mis ek hulle almal.

Maar toe ek bo die getoet van die verloorders my oë wyd genoeg oopmaak, die behoeftige skares skoon stil geskok, leun daar ‘n man met ‘n gepynigde uitdrukking links voor teen my kar en beduie iets.

Ek het op die man se voet tot stilstand gekom!

En nie net dit nie, maar toe ek besef wat aangaan, is ek so verbouereerd dat ek nie my Mini Cooper in rat kan kry nie. En wat maak dié man, eindelaas bevry van my voorwiel, toe ek stotterend om vergifnis vra en voor hom kniel om sy skoen uit te trek en sy gekneusde voet sopnat huil?

Hy glimlag skeef. Sy oë blink van deernis. (Of was dit pyn?)

“Bly te kenne, maar daar is ander maniere om iemand se aandag te trek, weet jy?” het hy dapper geskerts. Maar ek kan nie ophou huil nie. Die dag het te veel geraak. Ek snik so hartverskeurend dat hy my uiteindelik versigtig in sy arms neem -­ flentervoet eenkant – en troos.

En toe ek uiteindelik ophou huil oor my eie aakligheid, my humeur, die muggies en alle sosiale euwels, moes ek glimlag, want ek het daardie dag geweet my hart was geraak soos nog nooit voorheen nie. My bang hart.

Dit was Dawid.

Eers parkeer ek op sy voet. Drie jaar later wil ek hom skiet.

***

Dawid loop vooruit oor die bergpiek, terwyl ek al strompelend op elke klip wat groot genoeg is, gaan sit om asem te skep. Daar lê ‘n klein veldblommetjie en ‘n briefie op my volgende sitplek.

My hart se punt, dankie dat jy my destyds raak gery het, want jy het my lewe met ‘n slag getref om nooit weer dieselfde te wees nie. Maar ook dankie dat jy my nie geskiet het nie, hoewel ek gewillig is om selfs ‘n koeël van jou te vat. En dankie dat jy uiteindelik ingewillig het om my ring aan jou vinger te dra. You vely beautiful bruid, want to make many baba?

***

Want, blyk dit, die stem was net ‘n spook uit die verlede wat nie tot ruste kon kom nie. Daar was toe geen roereier of sonar nie.

En ek is besig om my lewensuitkyk en geestestoestand ernstig in oënskou te neem, om die onsekerheid en vrees vir verwerping wat agter my humeur skuil, bietjie vir bietjie te oorkom.

Om jou oor te gee aan die liefde ís vreesaanjaend, ja, vra enige bang hart.

Maar om dit van jouself te weerhou is om die lieflikste avontuur nóg mis te loop.