Eie stories

Anrika Breetzke van Wendywood, skryf:

Hier voel ek veilig … op die seesand agter die rots waar ek jou taal verstaan. Ek wil jou hitte in my toevou en na asem snak as iemand jou naam uiter. Tussen bloekombome en gras het ek jou heel eerste ontdek.
Vermenigvuldigde jare terug was jy slegs ’n droom – vasgevang in gekleurde botteltjies wat ek as dogtertjie iewers op die plaas ontdek het. ’n Skatkis vol onbekendheid, onskuldig, skaam, tog oorlopend vol ambisie.

Aan die oorkant van die dam was dit jy wat my vol kleilat-bloukolle gegooi het. Dit was jy aan wie ek vasgeklou het oor die gallop van perdehoewe. In die kloof se waters het ons tussen palings baljaar en foefie-slide gery tot die tou nie meer twee op ’n slag wou hou nie.

Glyend teen die helling af, gestroop van klere, swart geverf onder die modder – reën kon ons nie binne hou nie. Gebraaide duiwe maak nou my lyf ril, maar tóé was dit koningskos vasgetrek met die windbuks.
Met frangipani-blomme het jy vir my ’n halssnoer gemaak en met ongekunstelde liefde om my nek gehang. As ek maar vir ’n oomblik daai reuk in ’n botteltjie kon vasvang en vir ewig in my kas wegbêre.

Kan dit nie maar so eenvoudig wees as om mekaar op ’n skoolveld rond te jaag nie? Al wat jou terughou en aanhits, is daai eerste piksoen wat jou van kop tot tone maak bloos.

Hoe verwoord mens gevoelens wat jy nog nooit ervaar het nie? Die misterie van die onbekende knaag rou aan jou binneste, tog, ten spyte van alle waarskuwings, klim mens steeds op daai wankelleer, sélf moet jy tog afval en seerkry voor jy gaan besef hoe dit voel.

Op ons alleen-strand was dit jou borrelende vreugde vir die see wat my liefde gekweek het. Die dan-en-wan wat jy jou voete in die sand kom wegsink het, was ’n belewenis vir ’n dogtertjie van 9. Ontelbare skulpies was in jou sakke gestop om te koester in die kamer wat jy as huis ken. So bitter ver van my hart af op 9, vandag slegs ’n paar uur ver. 

Jare daarna ontmoet ek jou toe weer op ’n rugbyveld. Jou uiting aan emosies al skoppende oor die pale. Die onskuldige wat eens my sielsmaat was, toe amper al ’n man. So dra ons mekaar toe deur grootwordjare, met berge vol hoop en geluk, min wetend dat ons groei individueel was. En so, op ’n dag word my arms vasgepen en ons ketting word losgeskeur.  Jou vingers het bly klou na vashouplek, maar ’n onsigbare siel is moeilik om toe te sluit en veilig te hou. 

Gister loop ek deur die lang bome in hierdie mal stad waar ek jou ’n tydjie terug toe weer ontdek het. My senuwees het my asem ingesluk en die woorde weggevee waaraan ek soveel jare al oefen. Hoe werk dit dan dat ek vir jare aaneen op ’n verhoog kan perform, maar een kyk in jou rigting en my stem verbrokkel na ’n power asemhaling wat skaars my neus bereik. 

Jare se oefen aan ’n lewensoomblik en daar voel my hart toe soos stysel. Vasgevang in die mengelmoes van emosies met die een kyk in jou oë, en woorde word toe verswelg in die massa gevoelens en maal net in my kop rond sonder vastrapplek.

Van kindsbeen af klouter ek bome uit tot hoog bo. So sê ’n sielsvrou eendag vir my:  “Hoë bome kry altyd die meeste wind.” Hoekom voel mens juis dan so veilig en rustig daar bo, windverwaaid en al? Jou persepsie verander as jy ’n ding van so hoog af bekyk, dalk glo ek as mens eers die skraapsels van ’n uitdaging beleef, jy nie tevrede is met minder nie.

Ek bid die dag weg wanneer jou glimlag slegs ’n herinnering is en my hoop dalk net eenmaal te ver gestrek het. Vir nou klou ek vas aan ’n oomblik onder in die feetjiewoud waar jou glimlag lirieke komponeer het.

Miskien kon jy my hartsnare voel uitreik na ’n toekoms gevul met oneindige hoop, of dalk het jou flitslig-lewe die opperhand gekry. Tog sien ek steeds jou oë sprankel en die Vrystaatste plaasseuntjie hunker na eenvoud. Daai vrede wat jy gevind het in jou eerste ontmoeting met die blou. Daar, waar jy mens voel.

Ek koester die oomblikke as ek my hartswaardes in jou lewe sien weerspieël. Die ambisie in jou oë wat jou maak glinster. Intussen klou ek vas aan my boom, gereed as die wind jou weer teen my gaan vaswaai.

Hier wag ek vir jou