Eie stories

Antoinette Bloem van Benoni, skryf:

Q,

Ek kyk na jou, hou jou dop. Sommer so sonder dat jy weet. Nee, ek sien nie jou lyf nie – ek sien die lag in jou praat, die hande wat so vreeslik kan beduie, my hemel in jou oë. Ek sien my lewe, voel die sagtheid van jou arms. Ses maande … nie ’n vreeslike lang tyd nie, maar lank genoeg vir my om te besef wie jy is, wat jy vir my doen.

Jy’s groter as die lewe vir my. ’n Reus met hande wat kan vashou en ’n hart wat heel. Q, jy het my kom optel, uitgehelp uit ’n put van alleenheid. Jy het verby die uiterlike gekyk, die vrou binne my raakgesien wat seer was. Dag vir dag het jy my vasgehou, my gesond gemaak. My laat glo in liefde en in saamwees. Jy gee my jou hand as jy sien ek gaan struikel, jy het my storms met reënboë kom stil maak. Met soveel  teerheid, en liefde en geduld.

Ek is gelukkig – ek weet jy het my lief. Jy wys dit, sommer kaalkop met tye. Ander tye is dit die stil drukkie en ’n soen op die kop, of sommer net die tee waarmee jy my wakker maak.  Of die manier waarop jy groet, en sms’e, en gebel in die middel van die dag. Of e-posse, sommer net vir “hallo” sê of om my te laat lag.

Jou energie en uitbundigheid is aansteeklik. Jy maak my huis toe huppel ná ’n dag weg van jou. Hoe kan ’n werkdag so lank wees? Ek kan nie wag om jou te sien nie. Kan ’n grootmens weer so kind word? So lief en gelukkig?

Ek glo in jou en weet seermaak is nie deel van jou nie, ek is veilig by jou. Jou liefde vertel my dit. Jy dra my op jou hande, sal alles doen wat ek vra.  Jou leiding in my lewe is so positief, sonder om te oorheers. Jy gee vir my die beste, altyd. 

En soms verstaan ek nie so lekker nie, twyfel ek in myself. Waarom sal so ’n spesiale man by my wil wees? Jou antwoorde is altyd so eenvoudig – reguit. Want dis waar jy wil wees. Die eerlikheid in jou stem, die respek en liefde wat ek ontvang is so onmeetbaar.

Jy het my kind as jou eie aanvaar, sonder enige vertoon of grootpraterigheid. Julle speel saam, laat my huis weer lewe. Dankie dat my kind kan lief wees vir jou, dat jy hom ook liefhet en verstaan.

Ek wil vir God my dankbaarheid uitskree sodat die wêreld dit kan hoor. Die Here weet watter genade Hy aan my gegee het. Ek lag vir myself as ek huil van geluk. Die gevoel hier binne my is net so baie onbeskryflik groot. Ek moes wag vir die beste. Alles was so die moeite werd. As jy die eindpunt is, doen ek alles weer. So onverwags, die geskenk van Bo.

Hiermee wou ek my hart vir jou oopmaak, my gedagtes laat lees. Vir my is jy onvervangbaar, dierbaar. Jy is my man in my lewe en ek het jou so onvoorwaardelik lief soos wat jy my liefhet. My gedagtes dwaal altyd om jou, jou warm asem en arms altyd net ’n oomblik ver. Dankie dat ons twee lewens kon neem en een maak. Dankie dat jy myself en my siel vir my gevind en teruggegee het. Dankie dat ek hierdie brief kan skryf en glimlag deur die trane, Dankie God, hy is myne.