Eie stories

Arie Meulman van Century City, Kaapstad, skryf:

Margaret, my Lief,

Op hierdie dag ter viering van ons liefdesontdekking, bring die herinneringe weer die soete beloning
van ons lewe met mekaar. Dit is op hierdie dag, soos vyf-en-veertig jaar gelede, dat ek weer soos toe, vir die eerste keer jou stem hoor, weer in die blou poele van jou oë verdrink, weer die sagte luier van kerkklokke hoor en weer eens ons droom herleef.

My hart, hoe veel het ek jou lief? Hoeveel? Soveel sterre in die hemelruim. My liefde vir jou is volkome, vir ewig. Dit ken geen grense, geen tyd. My hart is steeds gevul met die beeld van jou aangesig, jou wese wat my siel oorheers, jou warmte wat my liggaam versadig, jou stille teenwoordigheid wat my lewe verlig. Vra nie hoeveel, my vrou. Weet net, ek het jou lief.

My Lief, weer sien ek die blye trane in jou oë toe ek jou ’n teddiebeer op ons eerste Valentynsdag gegee het. Min het ek geweet dat dit die eerste een in jou lewe was. Dit het ons liefde soveel dieper geanker, soveel meer waarde gegee. Ná al die jare is die beertjie steeds ’n spieëlbeeld van ons eie self. Die sagte dons is verweer en plek-plek deurgeskaaf. Die regteroog wat nou skeef oor die snoet loer en die pote wat paplam langs die sye hang. Tog sit die beertjie in die hoek van die kamer en hou wag oor dit wat verby is. Soos die beertjie het ons liefde alles deurgemaak en deur die jare ryker geword. Soos die beertjie het ons liefde ook die verslytende aanslag van die lewe deurstaan, gegroei en sterker geword.

My Lief, ek smeek om verskoning vir al die vergange jare se vergete sakke sout. Die hardkoppigheid, stryery en misverstande. Die onbedagte aanvaardings, woorde, pyn en trane. Ek sê dankie vir die belofte op ons troudag dat ons die skeure in ons hart van harte sal genees en mekaar vergewe voordat ons voete ’n tree weg gee, voordat ons oë slaap aanvaar, voordat bitterheid ons bekers vul.

My Lief, deur die vervloë jare was ons lewe ’n ware wipwaentjie, maar deur dit alles was jy my rots, my anker, my dryfveer, my vriendin, my minnaar en moeder van ons kroos. Op hierdie dag ervaar ek weer die onbeskryflike emosies van ons samesyn, die eerste geboortekreet van ons kinders, die geselskap van jou hoof op my skouer tydens ’n skildermooi sonsondergang op Tafelberg, die smaak van sjampanje op jou lippe in die flikkering van Nuwejaarsvuurwerke, die vriendskap van jou vingers gevleg deur myne in die groen wingerde van Provence, die belofte van jou kus op die oewers van die Seine, die asemrowende samesyn in ’n middernagmaanskyn op die strand in Waenhuiskrans en bo alles die eerlikheid, die eenvoudigheid van óns.

My Lief, hoe kan ek my liefde beskryf? Slegs die gevoel om van jou weg te wees is om ’n verterende leegte te trotseer. Om nie jou glimlag te sien nie is om rasende swaarmoedigheid te ontlok. Om nie jou stem te hoor nie is om die verdoemende duisternis te nooi. Om jou nie aan te raak nie is om ’n marteling te verduur.

My Lief, hoe kan ek my liefde beskryf? Wanneer ons by mekaar is, word ek deur die wind vervoer. Wanneer ek jou sien, word ek deur die sterre verblind. Wanneer ons aan mekaar raak, word ek deur musiek verlei. Wanneer ons kus, word ek deur die vlamme van jou emosies verorber.

My Lief, nou in ons goue jare, op ’n ouderdom waar die wil veel magtiger is as liggaamlike vermoë, is dit steeds my oë wat sien wat hulle die eerste keer gesien het, my hande wat voel wat hulle die eerste keer gevoel het en my hart wat smag na die volbringing soos die eerste keer. In die spieël aan die muur het die jare hul tol geëis, maar in die spieël van my liefde het my eerste beeld van jou nooit gekwyn nie.

Nou, ná soveel jare saam, is elke dag steeds nuut en is my wese gevul met herinneringe. Nou moet ek dankie sê vir jou lag in die oggend, jou sluik loer in die aand, jou warmte in die winter, jou vingers se koel streling in die somer, en meer as dit… die reuk van jou liefde op my kussing.

Enig en vir altyd,

Jou man