Eie stories

Arlene se koninklike-blog: ’14 jaar sonder Diana’

Geeneen hoef toe te gevra het, Diana wie nie? Daar is, en was nog altyd net een Diana, dié Diana.

Tydens haar huwelik met prins Charles, Haar Koninklike Hoogheid Diana, Prinses van Wallis, en ná die egskeiding natuurlik sonder die HKH. Maar soos Diana selfs telkens aan mense gesê het aan wie sy voorgestel is, ‘’noem my sommer net Diana”.
 
Woorde wat nou, veertien jaar later, weer opklink uit die monde van haar seuns, William en Harry, en ook William se vrou, Catherine. Niks se aanstellerigheid nie. Doodgewoon net op die voornaam.
 
Met William se verlowing einde verlede jaar, en sy troue einde April vanjaar, is Diana weer op die voorgrond gestoot. Natuurlik ook alles danksy William se goedbedoelde gebaar om sy ma se verloofring aan Catherine se linkerhand se ringvinger te steek. Só wou hy sy ma deel maak van die grootse gebeurtenis in sy lewe.
 
Maar dit is nie net vir haar verloofring, nou Catherine sin, vir wie Diana onthou word nie. In haar leeftyd een van die grootste verkopers vir tydskrif- en koerantvoorblaaie, is daar weer deur ou foto-argiewe gewerk. Die Engelse dagblad Daily Mail het selfs nou ʼn aandenkingstydskrif uitgebring oor William se twee groot liefdes, sy ma en sy vrou.
 
En so word Diana aan ʼn nuwe geslag bekend gestel… As die ma van William, die prinses wat nooit koningin sou word tot en met haar dood nie.
 
Dit is 14 jaar later, en haar aanhang taan glad nie. Die vrae ná die verpletterende slag teen die dertiende pilaar van die Alma-tonnel in die Franse hoofstad ook nie. Wat het van die wit Fiat Uno geword? (Skaafmerke van ʼn Uno is op die bakwerk van die Mercedes-wrak gevind). En hoekom was daar tydens dié betrokke naweek soveel geheime agente in Parys? Ondersoeke na die ongeluk het gekom en gegaan. Die bevinding, ‘n Unlawfull killing. Niemand kan uitgesonder word as aanspreeklik aan die dood van drie mense nie (ook Dodi al-Fayed, Diana se Moslem-vriend en die chauffeur Henri Paul het gesterf).
 
Toe ʼn gelyknamige rolprent vroeër vanjaar op die Cannes-filmfees bekend gestel is, was die gort omtrent gaar oor al die ‘’sameswering-stories” wat daarin vervat is…
 
Maar wat maak dat ʼn mens 14 jaar na iemand se dood steeds wonder of haar dood regtig ‘n ongeluk was, of dalk georkestreer is?
 
Diana was uniek. Sy was soos ʼn vars bries wat die stywe Britse koningshuis ingewaai het. Sy was ʼn megastar wat geld laat inrol het na liefdadigheidsorganisasies, sy het haar kinders so normaal moontlik binne die beperkings van paleisregulasies probeer grootmaak, maar sy kon nooit die liefde van haar man wen nie.
 
Met haar dood was Brittanje (en groot dele in die wêreld) in rou gedompel. In die dae ná haar dood het ek mans met ʼn enkele wit roos in die hand sien stap na die Kensington-paleis se blommemeer. Alles ter ere van Diana.
 
Haar begrafnisstoet van die Westminster-abdy af deur die Londense strate, was besaai met blomme. Dit was op dié dag wat Diana tot Koningin van Harte gekroon is.
 
Haar nalatenskap is groot, maar nie te oorweldigend vir Catherine nie. Diana se foute was egter ʼn leerskool waar Catherine kan put. En die belangrikste van alles – William en Catherine is ʼn span.
 
Enkele dae voor die groot troue op 29 April het William Catherine na die Althorpe-landgoed geneem waar sy ma op ʼn mensgemaakte eiland begrawe is. Die belangrikheid van sy ma kan nooit te gering geskat word nie. Ook nie haar invloed om die monargie te moderniseer ten einde dit te laat oorleef nie. William is glad nie een vir aanstellerige protokol nie, en wil dinge graag op sy manier gedoen hê… nuwe, moderne maniere wat glo al tot heelwat frons in paleisgange gelei het.
 
Maar vandag, ʼn dag waarop albei haar seuns nog altyd uit die openbare oog gebly het, behalwe vir die herdenkingsdiens tien jaar gelede, stap haar jongste die kollig binne.
 
Prins Harry oorhandig ʼn prys aan die braafste kind in Brittanje. Die 6-jarige Harley Lane het deur meningitis al sy ledemate verloor. Dit is ʼn geleentheid wat, indien Diana nog sou geleef het, sy sou bygewoon het. Dit is dié iets wat sy aan haar seuns oorgedra het. Omgee en empatie.
 
‘n Ma op wie hulle kon trots wees, en seuns waarop sy só trots sou gewees het.

Volg SARIE op Twitter en Facebook

  • Charmaine Prinsloo

    "’n Ma op wie hulle kon trots wees, en seuns waarop sy só trots sou gewees het."

    Arlene jy vat dit raak. Haar kinders is die beste toonbeeld van haar ongelooflike nalatenskap.