Eie stories

“As die donkerte jou vat” – Rolanda Marais oor depressie

Toe haar vyf jaar lange verhouding verbrokkel, het die donkerte haar gevat. Rolanda Marais, die aktrise met die voorkoms wat aan ou Hollywood herinner, het reeds twee keer vantevore depressie gehad, waarvoor sy antidepressante gebruik het.

Maar vir die eerste keer het sy besef hoe aftakelend die toestand kan wees. “Ek was nie meer lus vir die lewe nie, huilerig, emosioneel verlam, lus vir niks. Hoewel ek nie selfdood oorweeg het nie, kon ek verstaan dat mense dit doen.”

Sy gebruik die afgelope jaar nie antidepressante nie. Maar sou die depressie weer toeslaan, sál sy. Ek ervaar dinge meer intens as baie ander mense. As ek hartseer is, is ek in ’n diep put van ellende. En ek kan ekstaties gelukkig wees. Dis asof ek die kleure van emosies helderder ervaar. Depressie was iets waarvan ek geweet het, want daar was familielede wat aan hul ‘senuwees’ gely het. Maar dit het nooit ’n direkte invloed op my lewe gehad nie. Ons was ’n gelukkige gesin.

Ek was 24 toe ek dit die eerste keer kry. Ek het gevoel iets is nie lekker nie. Dit was asof ’n groot swarigheid, ’n donkerte, oor my hang. Niks kon dit laat wyk nie. Ek het dit vir my vriende probeer wegsteek. Die dokter het antidepressante voorgeskryf en ek het ná twee tot drie weke beter begin voel. Iets lig, jou gemoed lig. Ek het daarna my ups and downs gehad, maar was meestal oukei.

In 2005 het ek ’n rol in Binneland aanvaar en van Kaapstad na Johannesburg verhuis. Dit was ’n groot aanpassing. Daai Desember het die swarigheid my weer beetgepak. Ek het besef ek het ’n geneigdheid daartoe. As ek ’n ruk lank nie tussen mense wil wees nie, te veel of te min slaap…Dis gevaartekens.

Toe, vroeg in 2010, loop my verhouding van vyf jaar skeef en dit gaan slég met my. ’n Psigiater diagnoseer depressie en angs. Dié keer skop die pille vinnig in, ek begin drie tot vier dae later beter voel. Ek raak halsoorkop betrokke by ’n man wat my verbaal aftakel. Hy maak asof iets met my fout is omdat ek antidepressante gebruik. ‘Jý is die een op pille …’ sou hy sê.

As dit sleg gaan, vergeet jy so maklik om na jouself te kyk. Maar ek wóú beter word. Ek het byvoorbeeld glad nie aan alkohol geraak nie. (Ek drink steeds minder alkohol. Te veel wyn laat my die volgende dag angstig voel.) Oefening, ’n gebalanseerde dieet, minder koffie en suiker, dis alles belangrik. Ek glo aan oefening, veral joga. Álle oefening het positiewe voordele en laat die goedvoel-endorfien in jou brein bruis. Maar joga is ’n meer spirituele eerbetoon aan jou kop, siel en lyf. Die fokus op jou asemhaling help ook as jy angstig is.

Ek was verstom oor van my vriende se reaksie op antidepressante. Hulle glo jy moet omtrent op die randjie van selfdood wees voor jy dit gebruik. Ek het vriende wat deur hel gaan, maar dit nie sal drink nie.

Nog ’n wanopvatting is dat jy altyd gelukkig voel as jy dit gebruik. (Prinses Diana het dit mos haar ‘happy pills’ genoem.) Maar nee, jy raak steeds kwaad, ongelukkig…Daardie swaar gevoel is net weg. Die ander dag het ek weer ’n angsaanval gehad, nogal op stel. Dis belangrik dat jy weet wat met jou gebeur. En só ook die mense om jou. Jy is nie besig om dood te gaan nie, dit vóél net so. Dis asof my hart uit my borskas wil klim, asof ek nie kan dink nie, asof my brein toeslaan. My asemhaling raak vinniger en my sig soms swak, asof ek nie kan sien nie. Mense verstaan nie altyd waaroor angs gaan nie. Hulle dink jy drink ’n glas water en voel beter.

My boodskap aan mense met depressie is: As jy huiwerig is om antidepressante te gebruik, sê vir jouself dis net tydelik. Neem dit ’n ruk en kyk of dit ’n verskil maak. Moenie skaam wees nie, práát daaroor. Depressie mors so dikwels menseverhoudinge op. Dit kán behandel word.

Daar is oomblikke dat ek intens gelukkig is. Geseënd en veilig voel. In moeilike tye klou ek daaraan vas. Die lewe is te kort ommet depressie te sukkel. En te mooi …

  • Elna Greyling

    My depressie hel het al meer as 8 jaar gelede begin. Die vrolike sosiale mens wat graag interessante partytjies en verrassings gereel het vir haar medemens en soveel moeite vir ander mense gedoen het , het verander in ‘n kluisenaar. My werk is al kontak wat ek nog met ander mense het. Na-ure is ek off-limits vir almal,. besoek geen mens nie en woon geen familietroue/byeenkoms by nie.

    Alhoewel ek medikasie neem en ‘n wonderlike ondersteunende psigiater sien , sien ek geen toekoms vir my meer nie.Ek het ongelukkig 1 selfdood aanval oorleef – te min pille gedrink. Was so eensaam en geweldig hartseer toe ek na 2 dae wakker word en my getroue hondjie voor my bed sien waghou. niemand het eens gebel en gehoor hoekom ek nie vir werk opgedaag het nie.

    My suksesvolle 2de poging is binnekort, want slegter en donker as wat nou gaan kan dit nie gaan nie. Moet asb nie my naam bysit nie,

  • Erica

    Ek was ook al in die donkerste diepstes wat ek gedink het ek nooit uit sal kom nie. Die psigiater het vir my 2 soorte bekostigbare medikasie voorgeskryf (vir my man ook), en gesê ek kan dit vir die res van my lewe drink. Sy het gesê sy het al te veel ouer mense veral in ouetehuis gesien wat aan depressie ly, en hulle kom nooit daaruit nie aangesien hulle nie behandel is nie. My pa het in 1994 selfmoord gepleeg (hy was ‘n alkoholis) en derhalwe moet ‘n mens versigtig wees met alkohol inname veral as jy op medikasie is.
    Kry asseblief dringend professionele hulp, dis nie die moeite werd om te probeer selfmoord pleeg nie, diegene wat agtergelaat word kry baie swaar. Sterkte.

  • Izzie

    Jammer om te lees van jou dilemma. Jy klink na ‘n eersteklas en kwaliteit mens en tien teen een is daar mense wat jou waardeer en liefhet. Die feit dat jy hier kommentaar lewer beteken tog dat jy uitreik. Dalk kan jou psigiater ander medikasie of kombinasies daarvan voorskryf, as die huidige nie voldoende blyk te wees nie. Ek vind die feit dat jou getroue hondjie na twee dae steeds voor jou bed waghou, wreed. En selfsugtig van jou. Hoe oneindig lank is die spektrum van 2 dae se 24 uur vir so ‘n diertjie? Wat by jou waak en geduldig wag dat jy wakker word? Dit is uiters onregverdig teenoor ‘n weerlose dier, die moontlike gevolge sou jy suksesvol wees in jou selfdood poging, sonder dat jy reelings tref vir ‘n dier wat water en voedsel nodig het, en meer belanrgrik afhanklik is van jou liefde, en jou duidelik onvoorwaardelik liefhet, en haar/sy toekomstige versorging, is ondenkbaar.

  • Marie Groenewald

    ELNA!!! Dillon Lerm wat die sanger is van die treffer Emma`s Song het `n baie treffende nuwe lied wat nog nie op CD is nie maar hy het dit vir van my vriendinne gestuur "Trane van Genade" …. luister daarna en speel dit oor en oor vir jou vriendinne of kinders met depressie of vir jouself!. Dit is `n lied van hoop en lig. Uitstekend gedoen. Ek het sy kontak besonderhede gekry: musiek@dillonlerm.co.za Hy het gister op Radio Tygerberg `n onderhoud gehad oor die lied en genoem dat hy dit geskryf het na aanleiding van die ongelooflik baie persone wat hom genader het na Emma`s Song en almal lei aan `n vorm van depressie. Hy het die lied geskryf en gesê as dit net `n paar mense help om uit die donker gat te kom het die song in die doel geslaag… Baie goeie onderhoud.