Eie stories

Bekoring in tweedehandse winkels

Die plekkie lê naby Barnardstraat in Bellville (Wes-Kaap). ’n Outydse geboutjie in ’n smal, besige straat. Ek parkeer langs die kleuterskool en loop oor die ongelyk erf die gebou binne.

Ek weet die gewone mall bunnies sal hul neuse optrek, want plek-plek ruik jy motballetjies of die liggaamsreuk van iemand wat by jou verbyskuur op soek na ’n winskopie. Maar ek weet ’n persentasie van my aankope word gebruik vir iemand in ’n hospies.

Op die stoep staan plastiek-wasgoedbalies, ’n gehawende stoel en ’n loopring vir ’n bejaarde. Hier kan jy instap en rondsnuffel tussen goed wat vir ander van geen nut meer is nie. Van kussings, tot ou plate, klere, aandrokke en hoede, sommige van toentertyd. Soms selfs ou koffers, platespelers en dinge wat ons aan ons kinderdae herinner.

Links is die afdeling met ou boeke, DVD’s en rekenaar-onderdele. My oë gly oor die boekrak. Mills & Boon, James Hadley Chase, en sowaar Murray Janson se Sake van die Hart teen R8. Ek haal die boekie van die rak af, en slaan oop by Ek is onderontwikkel. Ek giggel hardop en die man in die winkel loer effe onvriendelik oor sy brilletjie vir my. My probleme raak klein terwyl ek deurblaai na onder meer Haar ouer kies ’n slaner vir haar, Sy hart is soos ’n hotel, Verlief op priester, Onsalige omruilery, Swanger van ’n soen?, Man is ’n afloerder, Was my pa liewer dood, Dan lieg ek maar weer en Help my ophou steel.  ’n Lekker verjaardaggeskenk, dink ek.

Ek beweeg deur die gangetjie, deur kombuisware en ou Tupperware en porseleindiertjies en teddiebere. Teen die deur hang gordels in alle kleure, van plastiek en leer. Die breë gordels herinner aan die tagtigerjare toe ons dit laag oor ons heupe gehang het, en ’n reuse-versiering vooraan vasgegespe het. 

In ’n groot kartondoos is hoede en handsakke, en gebreide serpe wat na motballetjies ruik.  Op ’n bankie lê hope kussings. Ek tel twee op en kyk of dit ritssluiters het. Ek soek juis kussings vir die buitebank. Teen R8 elk trek my aankope nou by R24 vir drie artikels. In die hoek staan ’n boksie oorgetrekte klerehangers met outydse gebreide randjies. Ek tel die vier mooistes teen R2 stuk.

By die klere gaan staan ek stil, want ek herken die handelsname – Woolworths, Raoul, Stuttafords, Truworths … Die skouerkussings het ons ’n dekade of wat gelede soos rofstoeiers laat lyk. Ek haal ’n snyersbaadjie van Woolworths van die reling af. ’n Nommer 10, in room en liggeel met ’n donker strepie. Ek gooi dit oor my skouers en draai my kop skuins voor die spieël.  

“Baie deftig,” sê ’n maer vroutjie met ’n haarstyl van ’n sestienjarige. “Dankie,” sê ek en voeg dit by my ander aankope. R30 vir die baadjie en ek trek by R62.

Ek neem die trap waar ek laas die silwer Kurt Geiger-sandale gekry het teen R18. In ‘n skoenwinkel kos dit sowat R2 000. Op ’n vertoonkas lê ’n paar diamanté-oorbelle langs ’n paar lang, swart aandhandskoene. ’n Tweekleur-handsak in roesbruin en swart trek my aandag. Ek grawe in die sakkies. Dit lyk goed opgepas. Teen R55 een van die duurste items in die winkel, maar met goeie rede. Saam met die boek staan my aankope op R117. 

Tuis bekyk ek my aankope weer. Die handsak is van goeie leer, wat ek later met Mr Min bykom. Die baadjie word in die wasmasjien gegooi, en die kussingslope en hangers lê vir ten minste ’n dag in seeppoeier.

Daar lê vir my ’n bekoring in tweedehandse winkeltjies, wat met liefde bedryf word deur vroue wat met hul plastiekhandskoene die reuse-swartsakke vol klere indra, pryse aansteek en uitstal.

Ek kan net nie verby dié winkels ry nie! In die Midlande, in Howick, is ’n oulike hospieswinkel waar ek die mooiste handgebreide trui vir R18 gekoop het. En dis ’n avontuur om te soek vir iets wat jy om die draai oor jou kop kan gooi en jou verbeel hoe dit gaan lyk by die res wat jou klerekas bied. Nadat dit die soak gekry het!

Ek het verlede jaar in die winkel Second Hand Rose die pragtigste kameelkleurkleurige kasjmier-jas gekoop. Teen R250 nogals duur vir ’n tweedehandse kledingstuk, maar dis so sag en die oorspronklike etiket sit nog binne die voering vasgewerk. Stuttafords … 100% cashmere   hand tailored in Vienna, Austria. Die verkoopdame het vertel die bejaarde vrou wat die jas ingebring het, het dit in 1959 gekoop – die jaar toe ek gebore is! In die winter, wanneer ek die jas oor my skouers gooi, wonder ek of die oorspronklike eienaar destyds 4711 agter haar ore getik het voor sy in die koue uitgegaan het. 

In dieselfde winkel het ek ’n reversable slenterbroek, met ’n onbekende oorsese etiket, gekoop. Albei kante perfek, glo dit maar.Ideaal vir ’n vakansie, want as die een kant vuil is, dop jy hom om en dan het jy dieselfde styl, net in ’n ligter denim. Slim.

Ek kan dalk Sol Kerzner se hoeveelste vrou word, ritse kredietkaarte hê om na hartelus te koop! Maar vir my lê die grootste vreugde van inkopies spesifiek in hierdie winkels met klere en ander gebruiksartikels uit vergange dae. Jy dollie ’n kledingstuk op. En as jy ’n wip in jou stap het en jou oë blink, kan jy stunning lyk.

Lollos Rodseth, Durbanville

  • Sarie Havinga

    Soek die winkeljie ry op en af in Barnardstr maar kry dit nie kan jy help

  • Maryke van SARIE

    Sarie, ons sal probeer om vir Lollos, die skrywer van die brief, in die hande te kry.