Eie stories

Belydenis op die silwerdoek

Niks kan jou voorberei op Rayda Jacobs nie. Net mooi niks. ’n Mens weet tog immers heelwat van haar: Sy het die Sunday Times se fiksie-prys asook die Herman Charles Bosman-prys gewen met haar boek Confessions of a Gambler. Sy is ’n uitgesproke (sou ek weer besef) Moslem-vrou wat nie skaam is om sterk uitsprake te maak, haar geloof te verdedig, versoening te bepleit en stilweg ma te wees vir haar volwasse kinders nie.

Skelgroen oë, vinnige bewegings en met ’n direktheid en selfvertroue wat jou aan ’n tiener herinner. Jy kan nie dink dat sy al volwasse kinders het nie. Sy lag lekker.
“Vanjaar is ’n belangrike jaar vir my. Ek slaan die grote.” Veertig? Dalk vyftig? “Kom nou. Ek word sestig,” sê die bonsende vrou met rooibruin boksterte en ’n jeugdige lyf in ’n funky sweetpakbroek, wat energiek die deur van haar gerestoureerde huis in Claremont, Kaapstad, oopmaak. ’n Duitse herdershond en ’n Siberiese sleehond met blou oë dig teen haar bene, ’n tanderyke skans tussen ons.

“O, ek is bly jy het nie vandag ’n fotograaf saamgebring nie. Ek kom pas van die gym af, ek’s sweterig en rooi. Oefening is die een ding wat ’n mens aan die gang hou, veral as jou program so besig is soos myne.” Jy hoef nie eens vrae te vra nie. Dit borrel behoorlik oor. “Ek’s besig met nog ’n draaiboek, terwyl ons die laaste post-produksiewerk aan die verfilming van Confessions doen.”

Confessions of a Gambler
Rayda se bekroonde boek is verlede jaar plaaslik verfilm – met Rayda self in die hoofrol. Dit handel oor Abeeda, ’n vurige, trotse dog gelowige Moslemvrou wat die vooroordele van haar gemeenskap beveg. Sy verwoord haar innerlike stryd met haar geloof en die stryd van vroue soos sy in ’n moderne wêreld. Rayda het self die draaiboek geskryf, en is ook aangestel as mede-regisseur.

In ’n onderhoud met die joernalis Bobby Jordan het sy openlik bely: “Ek is baie God-bewus, en baie spiritueel. My gebedsmat is my pad na God. Maar soos Abeeda word ek soms baie kwaad. En kwaad vir God. Dan sal ek my gebede oorslaan. Maar ek bly gelukkig nie lank kwaad nie, want ek besef gewoonlik dat ek die een is wat verkeerd is.” Rayda wys ’n stukkie uit die rolprent. “Dis nog nie ge-grain of finaal verpak nie, maar dit behoort jou ’n idee te gee!”

In dié toneel staan ’n Moslem-vrou, stil soos die aand en half geboë, asof in gebed, voor ’n dobbelmasjien. Jy sien die dollartekens en die draaiende vrugte van die masjien in haar oë. Die plek is so stil soos ’n kerk. En sy slaan die “maksimum weddenskap”-knoppie oor en oor . . . Die musiek is eg Kaaps, met ’n nostalgiese ondertoon. Iets eensaams, iets hartseers, iets opbouends. Vreemd. Treffend.

Die rolprent speel af by Sun City, met Rayda as ’n kompulsiewe dobbelaar van die Kaapse Vlakte. Die verhaal is ernstig, snaaks, ryklik getekstureer met geloofs- en kulturele metafore, eg Suid-Afrikaans. Praat sy Afrikaans? Sy lag weer – lag trouens maklik en deurentyd, ’n vrou op die boonste sport van die leer, en tuis daar. “Natuurlik. Maar ek moet jou waarsku: Dis ’n skollie-Afrikaans. Gepeper met baie vloekwoorde!”

Die een ding wat Suid-Afrika beeldskoon maak, is die mense

Trots Suid-Afrikaans
Rayda het in die Kaap grootgeword – haar pa se biologiese pa was ’n swart Jood en haar ouma was ’n Moslem. “Ek is ’n totale mengsel van kleure, gelowe, kulture. Maar ek voel die slaaf in my sterk, en soos die meeste mense met ’n slaaf of twee in hul agtergrond, is ek ’n Moslem.

“Met hierdie rolprent, soos met die boek, hoop ek om ’n hele paar vooroordele en mites oor die Moslem-gemeenskap – en spesifiek Moslem-vroue – se nek te breek.” As ’n mens so na haar kyk, weet jy dié vrou is sterk. En uitgesproke. Maar met ’n onweerstaanbare broosheid wat onder die bravade lê. Sy het 27 jaar lank in Kanada gebly, maar haar hart het die hele tyd verlang na Suid-Afrika.

“Ja, dis bietjie soos die Wilde Weste hier by ons – veral in ons gemeenskappe. Maar die een ding wat Suid-Afrika beeldskoon maak – benewens nou die natuur en die berg en die see in die Kaap – is die mense. Die verskeidenheid. Die feit dat ons nog oor dinge wroeg, stry, dat ons nog die lewe probeer uitrafel en stoei. Dis tog die ware menslike kondisie.

“Ander Suid-Afrikaners wat lank in die buiteland gebly het – of steeds woon – sal jou kan vertel dat die lewe daar miskien baie veilig voel, maar dat dit saai is, en voorspelbaar,
en uiteindelik eenvoudig vervelig. Hier voel ek ek léwe! Met ’n oog oor my skouer, ja, maar die vibrasies is in die lug.”

Rayda is trots op haar twee kinders. Haar seun, Faramarz Khaze, is die eienaar van ’n koffiewinkel en die medevervaardiger van haar volgende rolprent, Crossroads. Hy maak sy debuut in ’n klein rolletjie in Confessions. Haar dogter, Zaida Khaze, woon in Amerika. “Haar agtergrond is musiek. Sy het begin in die rapmusiekwêreld, maar sy het ook nou ontpop as skrywer.”

En die planne met haar rolprent?
“Plan A is om na die Cannes-filmfees in Mei te gaan, as ons gekeur word, natuurlik. Dan sal die film in Junie, Julie in Suid-Afrika uitgereik word. Plan B – meer waarskynlik – is dat die film se première in September in Toronto gehou word, waarna ons dit so teen Oktober in Suid-Afrika sal uitreik.” Sy word vir ’n oomblik stil.

“Taliep (Petersen) sou die musiek gedoen het. Sy moord was vir my verskriklik, die verlies van ’n vriend, ’n medekunstenaar, ’n unieke stem . . . Dit maak my kwaad.

“Intussen werk ek aan twee dokumentêre films: Die een oor die kramatte rondom Kaapstad – daar is verbasend baie wat bykans ongeskonde gebly het!  Die ander handel oor Moslem-vroue in België – Brussel spesifiek. Daar is baie ooreenkomste met Suid-Afrika, die Kaap veral. Die slawe-agtergrond, die taal of tale wat hulle praat, die Weste teenoor die ou Midde-Ooste . . . Die Surinamers praat ’n hibriedtaal wat baie naby aan Afrikaans is. En soos die Maleiers het hulle heeltemal geassimileer in die Westerse beskawing, terwyl hulle tog aan hul wortels bly klou het. Ek dink die geloof het baie daarmee te doen.”

In S.A. voel ek ek léwe! Die vibrasies is in die lug

Haar lewe tot nou
Rayda het ’n lang pad gestap tot hier. Sy is gebore in Dieprivier naby Kaapstad, en het reeds op ’n baie jong leeftyd begin skryf. Sy het op 12 haar eerste kortverhaal na Springbok Radio gestuur. In 1968 het sy Kanada toe verhuis. In 1994 is haar eerste versameling kortverhale, The Middle Children, daar gepubliseer.

Met haar terugkeer na SA in 1995 is haar eerste vollengte roman, Eyes of the Sky, gepubliseer en dit het die Herman Charles Bosman-prys vir Engelse fiksie ontvang. Haar tweede roman, in 1998, The Slave Book, is gevolg deur Sachs Street. Haar eerste drie boeke kan as ’n trilogie beskou word, maar elkeen staan ook op sy eie bene.

Haar skryfwerk het na ander areas gelei. Sy het tien artikels vir die Cape Times geskryf oor die “een stad, baie kulture”-fenomeen, wat daartoe gelei het dat sy gevra is om verskeie radioprogramme oor kultuur, identiteit en geloof te lei. Sy het ook al ’n hele paar dokumentêre reekse vir televisie vervaardig, waaronder God has Many Names, vir e.tv, en Portrait of Muslim Women, vir die SABC. Sy het gedien in die parlement se uitvoerende komitee vir wêreldgelowe in 1999 en het verskeie boektoere wêreldwyd onderneem, onder meer na Duitsland, Swede, Noorweë en die Karibiese Eilande. Confessions is al in ses lande uitgegee, wat die VSA, Italië en Denemarke insluit.

“Die besoek aan die Karibiese Eilande het my geweldig geraak. Omdat ek slawebloed in my het, stel ek altyd belang in die slawe-stories van ander lande. Om te sien hoe klein die hokkies was waarin hulle aangehou is, hoe onmenslik die omstandighede, veral die reistoestande . . . Jy moet ’n hart van klip hê as dit jou nie aangryp en beskaam nie. My slawe-boek is nou in herdruk, en dié keer het ek besluit om die omslag slegs ’n bladsy uit die argief te maak, waarop die name van elke slaaf plus sy of haar koopprys aangedui is.

“Dis interessant dat ek eers ná veertig werklik sukses begin behaal het met my skrywery. En die wonderlike ding is dat mense nou weer belang stel in die boeke vóór Confessions, wat basies outobiografies was. Postcards from South Africa – waarop ek my volgende draaiboek grond – veral. Die nuwe boek, My Father’s Orchids, het ook onlangs verskyn. Dis dalk my mees komplekse poging tot dusver, en die hoofkarakter, Jissie, is losweg op my pa gegrond, maar dit ís nie hy nie. In die boek hanteer ek hopelik finaal my vader-issues. My broer en suster het vreeslik gehuil toe hulle die boek gelees het.

“Intussen is ek steeds opgewonde oor wat alles met Confessions gebeur. RoZa Films is die filmmakers en Ross Garland en Zaheer Bhyat die vervaardigers. Garland was vervaardiger asook uitvoerende hoof van die hooggeprysde Berlynse Goue Beer-wenner U-Carmen eKhayelitsha, die Xhosaweergawe van die opera Carmen.”

Soos Abeeda, het Rayda ook ’n lang pad gestap. Sy het haarself van dobbelary verban. Haar rolprent is geskiet in ’n dobbelsaal, en sy moes “omtrent 300 keer” die toneel waar Abeeda by die slotmasjien speel, herhaal. Boonop het die casino die masjien so gestel dat dit telkens die boerpot tref. Maar Rayda het hierdie keer nie voor die blink liggies geswig nie. Hierdie is die één dobbelspel wat sy nie van plan is om te verloor nie . . .