stock31
Eie stories

Beverley-Raé Nel van Theresa Park, skryf:

Punt van my hart, nadat jy vandag my hande in jou grotes omvou het en die Here bedank het vir ons 36 huweliksjare, het die lank-in-mekaar-se-oë-kyk my die hele dag bygebly en vele herinneringe opgeroep.

Jy is geliefd by almal en hulle weet hulle kan enige tyd op jou knoppie druk. Self haal jy nukke uit die familie se computers en het raad oor hul motorkarre, swembaddens, ens. Jy vergewe maklik en bederf my met te veel dinge om te noem.

Jy was ’n gewilde bestuurder vir 14 jaar. Twee massiewe hartaanvalle, ’n dubbele hartomleiding en later die regter-koronêre aar wat heeltemal vernou het, word jy medies ongeskik en broos. Jou oë praat, vir ’n ruk is jy verward, totdat jy weer jou ou self word wat vir baie kans sien.

Ons geniet heeldag mekaar se ruimte. Jou viertrek-bakkie en motorfiets gee ons baie genot. Ons maak baie vriende by die klub waaraan ons behoort. 

Weens ons seun se siekte en gevolglike werkloosheid, moes ons vir langer as drie jaar in al sy behoeftes voorsien. Man van my hart, eers moes jy jou viertrek-bakkie verkoop en toe jou motorfiets. Jou oë vermy my vir ’n ruk. Dis seer. Ons vriende word minder en ek sien dat jy ’n groot stuk van jou identiteit verloor het.

Ons word saam in ons swembad gedoop en jy vra die Here om die lus vir drank en sigarette van jou af weg te neem. Onse Vader doen dit dadelik. Vandag kan jy nie onthou hoe dit smaak nie!

Dit is heerlik om hierdie pad met die Here te loop. Ons maak weer baie vriende. Ons huisves pastore van ons kerk as hulle vir lesings en kursusse van ver af kom.

Jy worstel met die identiteitsaspek en steeds met die verlies van jou voertuie. Totdat jy op ’n dag opstaan en verklaar as ’n mens so na aan die dood was, is sulke dinge nou vir jou “nitty gritty” en verbrande as. Jy word weer jou ou self, glimlag baie en jou hande is besig. Jy verskaf soveel logiese, intelligente raad. En as ons vriende vakansie hou, weet hulle dat hulle op jou kan staatmaak om hul huise, plante en diere op te pas.

Waar jy in jou studeerkamer op die rekenaar besig is, borrel my hart net te vol liefde vir jou. Ek gaan jou stil op jou bleskol soen en die borrels liefde op jou uitstort.