Carina Vorster
Eie stories

Borskanker: “Eers Ma, toe ek.”

Carina Vorster se ma, Kittie, is dood aan borskanker toe sy 10 was. Toe Carina positief toets vir die borskanker-geen, het sy op ’n dubbele mastektomie besluit. Sy het egter reeds borskanker gehad, dit was te laat. Carina woon op ’n plaas naby Oos-Londen en is in remissie.

Herinneringe
“Ek onthou my ma se vashou en koestering. Haar armbande se klingel. Haar sagte hande, nes myne. Wanneer ek myself goed bekyk, sien ek baie van haar. My pa, Tess, sê my lag, my huil klink nes hare.
“Die oggend toe haar hare begin uitval het … ek was seker so drie. In die wasbak was bondels sterk, swart krulhare. Haar kroon, haar trots.
“My musiekjuffrou, tannie Crouse, het my jare later vertel sy het eenkeer gesien hoe my pa my ma optel en rondswaai. Dit was net nadat hulle gehoor het sy is ‘skoon’, kankervry.
Tydelik.
“Hulle het my en my broer, Johan, vertel van haar siekte. Maar besluit om nie die oppe en affe daarvan met ons te bespreek nie. Sy het agt jaar daarteen gestry. Hulle het ’n algemene winkel bedryf, maar sy was later te siek om daarmee te help. Geld was ’n probleem, mediese rekeninge het opgehoop. My pa het die winkel verkoop, trokke gekoop en ‘transport’ gery in ’n poging om geldelik te oorleef. Hy was lang tye van die huis af weg. My ma het sieker geword en ons het al hoe meer na hom toe gegaan vir beskerming teen die lewe.”

Afskeid
“Die laaste aand: Ons het voor die hospitaal in die motor gesit. My pa, my broer, ek. Pa het gesê Mamma gaan dalk nie môreoggend die son sien opkom nie. Ek het geweet sy was siek. Ek het geweet dit is kanker. Ek het nooit gedink sy kan doodgaan nie.
“Ja, daar was daarna ander vroue in my lewe. Maar hulle was nie my ma nie. Myne. Ek was baie alleen. Ek en my broer het baie baklei. Ons het mekaar eers as volwassenes gevind. Ek was rebels. Kwaad. My ouma, Miemie, my pa se ma, was nou my ma. Ek het gesê ek wil haar nie hê nie. My pa het
sy sakeonderneming verloor en moes van voor af begin.

“Die besef dat ek dieselfde paadjie as my ma kan stap, het in my puberteit begin insink. Oupa Hansie, aan moederskant, het borskanker gehad. My ma se susters, Rina en Estelle, ook. Ek het my ouma Miemie tot haar dood versorg toe ook sy borskanker gekry het.

“Op 33 is ek met borskanker gediagnoseer. My dogtertjie, Kirita, was drie, nes ek toe my ma siek geword het. Tydens my behandeling was ons weke nie bymekaar nie. Vir ons werk sprokies om die harde werklikheid sagter te maak. Ek het aan haar verduidelik wat aangaan sodat sy genoeg verstaan om haar voor te berei op moontlike veranderings. Kinders hoor grootmense praat. Soms maak hulle hul eie afleidings wat die waarheid verwring.

“Dis vyf jaar later. Kanker het my wil om werklik te leef laat ontwaak. Ek het ’n metamorfose ondergaan, ’n verdieping in myself wat baie kosbaar is. Ek het leer aanvaar en mense ontmoet wat my lewe verryk.”

WAT EK GELEER HET

  • Jy kan maar skreeu. Ween. Humor gebruik om donker oomblikke ligter te maak.
  • Dis oukei om hulp te vra. Jy gee iemand anders die kans om ’n geskenk te gee en goed te voel.
  • Wees altyd bitter eerlik. Al is dit moeilik vir die ontvanger om dit te hoor. Dit maak dinge later makliker.
  • Kom tot stilstand en ontdek wat regtig saak maak – vir jou eie geluk en lewe. Ek gee om vir die mens langs my en respekteer ander se lewe.
  • Die lewe is soos ’n skoenlapper. Pragtig, delikaat en vlietend