phyllis_122_rz
Eie stories

Briewe Augustus 2011

Meer as net ’n reis
Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. En my mond loop oor van Israel. In Mei is ek saam met SARIE-lesers en rubriekskrywer Koos van der Merwe na Israel en Jordanië. Maar dit was meer as ’n reis. Dit was ’n reis na binne, na die hart en na die siel. As toeriste het ons argeologiese, geskiedkundige en Bybel-plekke tree vir tree saam met ons Joodse gids “gesien”. As studente van die Woord het ons die Bybel saam met Koos sien lewendig word. As Christen-pelgrims het ons in Jesus se voetspore gestap en deur sy oë gesien. My wandel met wysies en woorde in Israel het aan my verwagtinge voldoen. Nee, dit oortref! In Israel, die land van uiterstes – ongenaakbare woestyne en vrugbare valleie – vind die sagte fluistering van die Gees jou vinniger as wat jy verwag, en terug by die huis ervaar jy ’n onkeerbare hunkering na die Heilige Land, sy mense en sy stories.
Wendy Stapelberg, Piet Retief

Innerlike krag
Ek is 25 en is verlede jaar met leukemie gediagnoseer. Die afgelope maande het my lewe bestaan uit hospitalisering, weeklikse chemoterapie en ’n onbeskryflike naarheid. Maar ek kan met trots sê die siekte het my nie psigies ondergekry nie. Ek is tans in remissie en wagtend op ’n stamseloorplanting. Die tyd indie bed was voordelig om deur ’n hoop leesstof te werk, waarvan SARIE ’n belangrike deel gevorm het. Ek lees toe van jul soeke na ’n doodgewone meisie vir ’n voorbladgesig. As ek leukemie kan oorwin (so te sê), is enigiets moontlik, dink ek. Dan kan ek mos ook op SARIE se voorblad pryk. Ek kyk in die spieël. Oeps, ek het vergeet ek het nie ’n haar op my kop nie. Hoe sal mense reageer as ek en my kaalkop van winkelrakke af vir hulle glimlag! Nee wat, besluit ek. My glimlag is dalk stralend, maar my kop bly kaal. En al haal ek net die voorblad van my eie huweliksuitnodiging, is dit ook reg. Ek weet die Here het my geseën met ’n innerlike krag wat vir my baie meer as uiterlike skoonheid beteken.
Zanelle Britz, Centurion

Týd!
Ek wil vinnig chat met my seun, maar ek moet ’n boodskap los “ná die beep”. Ek stap na my vriendin se kantoor. Sy’s besig met ’n student en loer net in my rigting. Ek skakel my besige man. Sy selfoon lui net. Ek SMS: “Lief vir jou . . .” Hy skakel terug, gestres en wil weet hoekom ek hom gesoek het. My ander seun het pa geword en die baba het geelsug. Die selfoon word doodgedruk, die oproep is ontydig. Snaaks, al is Mamma toegegooi onder die werk, sê sy nooit sy is te besig nie, want sien, dis ál wat belangrik is: Týd vir jou kosbares wat jy nie altyd by jou gaan hê nie. Ek wou maar net vir iemand vertel die tannie wat saam met my ma in die ouetehuis is, lê in die waakeenheid. Nou’s my ma se kop erg deurmekaar, want sy’s alleen. En my hart is seer . . .
Sal wag, Randfontein

Ai, my taal
Ek het deur my vrou se Junie- SARIE geblaai, van agter af nogal, en vasgehaak op bl. 25 waar Nataniël skryf “Vuil taal bly ’n absolute vorm van geweld”. Wil net sê my respek vir “Kaalkop” het sommer baie gestyg. Dis so jammer daar is nie meer kunstenaars wat so standpunt wil of sal inneem nie. Meneer die Ambassadeur Kindersorg Suid-Afrika, ek lig my hoed vir jou, want wrintiewaar, “gemors bly gemors, al is jou vuil denims ook hóé duur”! Hartseer, maar waar. Ai, my taal. Wat is ons besig om met jou te doen? Kaalkop, hou so aan.
Johann Engelbrecht, Vryheid

Trots grys
Saterdag was weer my bederfdag, oftewel my maandelikse haarafspraak. Ek is 42 en die lewe is besig om my vinnig in te kleur met ’n kleur waaroor party vroue nie wil praat nie.
Terwyl ek die tyd sit en afwag, blaai ek my Junie-SARIE deur. Ek lees jul artikel “Grys is die kleur” met aandag. Net daar besluit ek dis die laaste keer dat ek deur hierdie marteling gaan. Ons bestee onaardige bedrae om mooi te lyk. Hoekom wil ons vroue altyd alles verander? Wie sê ons lyk nie mooier met grys hare nie? Volgende maand se afspraak moet ’n bietjie langer wees, want ek wil my hare weer grys hê. Ek kan dit met trots dra!
Tanja Nel, Pierre van Rhyneveld

Op vrouwees!
Deesdae word baie klem gelê op duur skoonheidsbehandelings wat vroue minstens sóveel keer per maand moet hê. Ek ken ’n hele paar vroue wat nie sulke skoonheidsessies kan bekostig nie, maar tog so straal van vroulikheid dat hulle dit net nie kan wegsteek nie. My een vriendin met die sagte hande en glinsterende hare het ’n warm hart wat net wil géé. Sy lag oor haar nuwe plooitjies, en die dag as sy ’n skoonheidsbehandeling nodig het, hou niks haar terug nie. Sy doen dit behoorlik, en vier haar vroulikheid met komkommerskywe op die oë, ’n borrelbad en ’n glasie vonkelwyn! Sonder om afgeskeep te voel tussen vriendinne wat wel al die luukses kan bekostig, lig sy eerder haar kop, glimlag met oorgawe, en fluister dan saggies in my oor dat haar helderpienk lipstiffie ’n geskenk van SARIE is. Sy voel soos ’n million dollars! Ek besef opnuut: Om goed versorg te wees en fantasties te voel hoef jou nie jou hele salaris te kos nie. Niks keer jou om elke dag vrouwees behoorlik te vier nie.
Elaine Coetzee, Knysna

As die reën kom . . .
Michélle, baie dankie vir jou Junie-redakteursbrief oor die weer. Ek raak so opgewonde soos ’n kind oor die reën! Ek het as jong student uit die Karoo na die Paarlse Opleidingskollege gegaan. Reën in die Karoo is skaars, en wanneer dit val, is almal buite hulself van vreugde. Die winter van 1962 was ’n baie lang, nat Bolandse winter en hierdie Karoo-kind kon nie glo dat daar soveel genadige reën op die aarde kan uitsak nie. Ná baie jare in die Kaap is ek steeds verheug wanneer die reën kom. Voor my aftrede het ek by ’n jong internis in Durbanville gewerk. Daar was nie ’n venster in sy spreekkamer waar ons na buite kon kyk nie, slegs in sy ondersoekkamer. Male sonder tal het hy my geroep: “Betta, kom kyk die reën.” Dan het ons by die venster na die reënvlae staan en kyk. Vandag het die reën weer gekom, ’n wonderlike seëning!
Bets Botes, Bellville

Facebook-brigade
“Wanneer gaan Ma op Facebook?” Dit was totdat ek onlangs by dié brigade aangesluit het. Ná my verstomming om toeka se haasbekmaatjies vanuit alle uithoeke te vind gesels ek nou lustig saam. Tog, my plesier word knaend deur ’n gevoel van torn versondig. Hoe kan vandag se jongklomp – soms selfs die oueres – verstaan wat oor en weer geskryf word? Word hulle dalk deur ’n bisarre vorm van skryfluiheid gemuilband? In 1050 v.C. het die Fenisiese alfabet hoofsaaklik uit konsonante bestaan. Nou, ná 3 000 jaar van beskawing, blyk dit ons mensdom is weer eens besig om die woeker met vokale te versaak. Sukkel ander mense ook om sonder deeglike bepeinsing selfoontaal te ontsluit? Is ek werklik so outyds? Bog! Die gawe van skryf is net te kosbaar om sonder teëstribbeling boedel oor te gee. Word my kind se geradbraak dus opgemerk, tik ek flink: “Sinskonstruksie, spelling!” “Maaaa . . . Dis ’n verleentheid om in die openbaar betig te word!” Ditsem, my bokkie, op Facebook moet jy leer om jou eie handelsmerkbestuurder te wees.
Larissa Baird, Vaal Reef

My Sarie-shades
Dis Vrydag. Stad-dag! Ek is opgetof in my rooi broek, swart hemp, hakskoene en rooi hoed. Ek voel soos ’n nuwe sikspens ná my daaglikse verbeeldinglose kakievoorkoms opdie plaas. En net voor ek by die voordeur uitstap, sit ek my Jackie O-bril op. Jul pragtige gratis donkerbril! Ons naaste “stad” is 140 km van ons af. Twee plaashekke lê voor. Kaalvoet spring ek uit om die hekke oop en toe te maak, skud die rooi grond sommer met my hande af. En steeds voel ek soos ’n Hollywood-ster! Vol opwinding kom ek in Potgietersrus aan. Om weer in ’n koffiekroeg te sit, mense om jou te ervaar, ander reuke – alledaagse dinge word ’n splinternuwe ervaring . . . Ek en my swart SARIE shades is terug op die plaas. Baie dankie vir ’n eenvoudige geskenk wat aan my ’n genotvolle dag besorg het!
Wilna Louw, Baltimore (Limpopo)