phyllis_44_
Eie stories

Briewe Julie 2011

Happy days!
Ek het my intekening op SARIE by die KKNK hernu, maar toe die Mei-SARIE op die winkelrak is, koop ek haar sommer dadelik. My lewensmaat was gedurende Paasnaweek baie verveeld en wil weet wat hy kan lees. Ek gee hom SARIE en hy blaai dadelik na die voorbladstorie, “Beter liefde in 6 weke”. Ek praat, maar hy hoor niks. Toe ek eindelik in die bed klim, sien ek “happy days are here again”. Hy het die artikel baie geniet. Dit wérk! Ons buurman kom kuier. My “nuwe” liefde sit dadelik SARIE in sy hand en beveel “lees bl. 79”! Ons praat, maar buurman kyk nie op nie. Hy lees aandagtig. Ek vra nog of hy sop wil eet, maar hy is baie gou by die deur uit. Sy vrou is ook ’n intekenaar van SARIE. Ek kry haar in die tuin en sy neurie “happy days are here again”!

Stukkie vir stukkie
Ek los die boek met die mooi pienk voorblad drie dae lank op die lessenaar. En ek wil doodgaan van opgewondenheid! Vir my verjaardag het my liewe sus in Suid-Afrika my op SARIE ingeteken. Wat ’n lekkerte! Maar tyd vir lees is min dié week. Ek is ’n huismoeder vir 41 kinders by ’n skool vir disleksiese leerders hier in Engeland. Gedurende die dag lees ek haastig stukkie vir stukkie – van Nataniël se Kaalkop en van Marita Uit Provence. En dan draf ek weer wanneer die skoolklok lui. Die afgelope Sondag was ek van diens af en het my eerste SARIE verslind! Kan nie wag vir die volgende een nie . . .
Estie Neethling, Hampshire

Tier-ma
Amy Chua skryf in haar boek Battle Hymn of the Tiger Mother hoe sy haar dogters dril in alle aspekte van hul lewe. Hul uitstaande resultate spreek daarvan. Met haar verjaardagviering in ’n pizza- restaurant vermaan sy hulle dat hul handgemaakte verjaardagkaartjies – op die nippertjie gemaak – nie op peil is nie. Sy teken ’n langgesig mannetjie, skryf “Happy Birthday” en vra of hulle daarmee tevrede sou wees. Reg of verkeerd? Ek kannie antwoord nie. Maar ek kla al jare by my man oor die kwaliteit van baie jong mans se toesprake by troues. Hier kry hulle moontlik die één kans om ’n indruk te maak en ’n goeie boodskap oor te dra. Ná so ’n toespraak besluit ek dan of die bruidegom volwasse genoeg is om getroud tewees! Moet ons as ma’s nie meer van ons kinders verwag nie? Moet ons nie sorg dat hulle die selfvertroue ontwikkel om eendag uitstaande te wees in meer aspekte as wat tradisioneel verwag word nie? Of dit nou met die maak van ’n verjaardagkaartjie of ’n toespraak of goeie maniere is. Ons moet hoër standaarde aan onsself en ons kinders stel.
Liezl Gouws, Johannesburg

Lekkerkrybederf
Hoe bedagsaam! ’n Donkerbril teen die skadelike sonstrale. Baie dankie vir die heerlike bederf, asook vir die onderlaaggeskenkie – ons vroue is mos gaande oor grimering. SARIE bied voorwaar die aller-interessantste leesstof. Dis elke maand ’n groot lekkerkry om jou uit die posbus te haal en gou te loer wat jy hierdie keer bied. En nog nooit was ek teleurgestel nie! Ná 30 jaar as intekenaar is SARIE steeds vir my ’n groot bederf.
Bettie van der Walt, Annlin (Pretoria)

Ma se hart
’n Mens is nooit te oud om te leer nie en dit moes ek weer eens besef op die ouderdom van byna 40. Ek het ’n verwronge leuen in my kop gehad dat ek en my ma soos dag en nag verskil. Ek kon my nie met haar identifiseer nie en was hardekoejawel-dwaas. Tot die vakansie. Vir die eerste keer het ons albei ons seerkry-skans laat sak. En groot was die beloning! Liefste Ma, ek staan skaamkop-onderstebo en respekteer jou vrygewige hart wat bereid is om vir die blinde op die hoek ’n kleingeldjie te gee, vir die karwasser ’n rooi appel te gee, en tuisgemaakte sop vir ’n vriendin wat veg teen kanker.
Jy’t my geleer van gee, omgee en toor met dit wat jy het. Dankie dat ek jou hart kon sien. Dit is voorwaar geset in hemelglans-pêrels en goud.
Renza Vermeulen, Surrey

Op my iPad
SARIE, jou wenner! Ek was verheug toe ek jou in die iPad- “boekwinkel”, Zinio, raakloop. My grootste verlang in die vreemde is altyd na gehalte-tydskrifte in Afrikaans. Dit was soos ’n groot geskenk om jou nuutste uitgawe én sommer ’n klomp 2010 SARIES in die aanlynwinkel te kry! Ek het almal gekoop en afgelaai. Nou hoef ek nie meer op vriende en familie staat te maak om jou Singapoer toe te karwei nie. My ma kom altyd met ’n tas vol tydskrifte vir my kuier. Maar nou het ek jou nuutste uitgawe op my iPad. Briljant!
Mathilda van Wyk, Singapoer

Tallie se boek
Ek is so laat met my dankie-sê brief, maar ons verhuis ná meer as 30 jaar in ’n groot huis na ’n meenthuis. Dis lekker, maar sjoe, die chaos! Ek wen nooit iets nie, en Tallie se boek as prys in een van jul SMS-kompetisies was ’n dubbele lekkerte. Ek kon die boek nie neersit nie, en nou beweeg dit tussen dogters en vriendinne! Dankie vir ’n pragtige tydskrif. Ons deel dit jaarliks met ons Engelse vriendinne by die Bloemfontein-skou, en dis lekker om trots Afrikaans te wees!
Annette Saayman, Port Elizabeth

Ná die brand

Ons geliefde Helderberg het onder ’n verterende brand deurgeloop. Sy staan vanoggend broos in haar pyn van die verwoesting wat haar naak gelaat het. Haar mantel van fynbos, afgewerk met proteastruike en dennebome, hang soos ’n verskeurde roukleed om haar. Verswelgende vlamme het hoog gelek, aangeblaas deur ’n verwoede Suidooster. Mag ons winterreëns gou kom sodat sy teen Oktober ’n vrolike lenterok van ligpers watsonias kan aantrek, ’n verskynsel wat so dikwels op sulke brande volg. Dit laat my dink. Uit pyn en lyding kom daar altyd weer nuwe lewe in die natuur. Soms mooier as voorheen. Verbrande gras groei groener as tevore. Gebeur dit nie ook met ons as mense nie? Hoe dikwels bring swaarkry die mooi in ons na vore? Mag dit só wees vir elkeen wat al pyn en lyding moes verduur. Soms is dit ’n gedagte wat diep in jou binneste ontkiem en toegelaat moet word om te blom. Vertrou op Hom.
Ronelle van Loggerenberg, Somerset-Wes


’n Serp vir elke dag

My “suster” SARIE (Junie-uitgawe) het met haar huidige besoek die allerbeste manier gevind om die koue vir die res van my herfs en winter te verdryf. Ek het 6 SARIES gekoop en is die trotse eienaar van 6 lieflike serpe! Ek kan elke dag van die week ’n ander kleur dra. SARIE verras my elke keer, verbreed my horisonne en neem my met vakansie na plekke – naby en ver. Sy leer my om meer verdraagsaam te wees en om te gee en te deel. Ek kan nie wag dat sy weer kom kuier nie.
Petra Ehlers, Hilton (KZN)