chelsea_blommeskou_2_1_
Eie stories

Briewe Junie 2011

Verrassing!
Wees verseker, SARIE sorg altyd vir verrassings! Ek sit met die April-uitgawe in my hand. Op die brieweblad is ’n foto van agt mooi jong meisies wat ingeskryf het vir SARIE se voorbladnooikompetisie van 1981. In die onderste ry herken ek my dogter, Annemarie. My man (nou reeds oorlede) het die foto geneem. Sy is nou Annemarie Loots en ’n laerskoolonderwyseres op Witbank. Dankie, SARIE, vir die terugvoer ná dertig  jaar!
Lily Krügel, Centurion

Mooie Corlea
As ’n intekenaar op SARIE, wat vir ’n ruk in die buiteland woon en elke maand nie kan wag vir my tydskrif nie, wil ek julle gelukwens met die ongelooflike mooi Corlea voorblad (April). Dis voorwaar die mooiste een in jare! Die donkerblou rok is pragtig, en Corlea is beeldskoon. Die binne-foto van haar met die mikrofoon in die hand en haar hare weg van haar gesig vasgemaak, is fantasties. Ek is soos Corlea gebou, en die raad en die pragtige klere het my so geïnspireer dat ek glad nie meer selfbewus voel nie. Baie dankie!
Alta Labuschagne, Oostenryk

Surrogaatengel
Jul artikel oor die surrogaatma (April 2011) was insiggewend en baie positief. Dis ’n ongemaklike onderwerp om in ’n geselskap aan te roer en aan te kondig dat jy en jou man ’n surrogaat moet gebruik om ’n baba van jul eie te hê. Die stilte daarna is gewoonlik tasbaar. Is dit kritiek? Openlike afkeur selfs? Vrae wat jy jouself honderd keer afgevra het, hang in die lug: “Doen jy die regte ding? Sal jy die regte persoon vind?” Dan besef jy een Maandagoggend in spitsverkeer dis jul enigste kans op ’n eie kindjie! Ek en my man moes ’n jaar gelede hierdie besluit neem. Weens ’n chroniese siekte kan ek nie self ’n baba dra nie. Ons surrogaatma is gestuur soos ’n engel uit die hemel. Ons eerste drie pogings was onsuksesvol, en sy was elke keer ewe verpletter. Daar’s baie vrae en vertwyfeling. Die boodskap is egter duidelik: Al lyk als perfek onder die mikroskoop, is daar ’n Hoër Hand wat hieroor besluit. Surrogaatskap is ’n emosionele en komplekse onderneming. Al die partye is onder geweldige emosionele en sielkundige stremming. Al wat ons nodig het, is empatie en ondersteuning vir die oomblik!
Christa de Wit, Melkbosstrand

By die KKNK
’n Gelukwensing aan SARIE, SARIE KOS en alle betrokkenes by die voortreflike SARIEkoskafee tydens die KKNK op Oudtshoorn. Smaaklike – uiters smaaklike – kos, keurig aangebied, flink en vriendelik bedien … Wat meer wil ’n mens hê? Net jou SARIE! Ek kry dit toe op die koop toe gratis tydens ’n aanbieding in die burgersentrum. Knap gedaan!
Annetjie Mouton, Klein-Brakrivier

SARIE vir almal
Ek het onlangs jul webwerf besoek en ek was aangenaam verras. Ons leef in ’n era waar tegnologie regeer en dis vir my ’n riem onder die hart om te sien dat SARIE nie terugstaan vir enige ander tydskrif nie. Ek is ’n Namibiese meisie van agttien jaar en my vriende vra gereeld hoekom ek die “Ouma-tydskrif” lees. Hulle verstaan nie dat SARIE geen ouderdomsetiket het nie. Ek geniet jul artikels en vind dit baie interessanter en meer opvoedkundig as dié van celebs wat gedurig vreemde goed aanvang en wat nie weet wat om met hul geld te doen nie. Dankie vir diegene wat agter die skerms aan die tydskrif werk, en dankie dat julle nooit jul oorspronklikheid verloor nie.
Adrie Hendricks, Namibië

Gemmerbier ná middernag

Dis byna twee uur ná middernag en ek wag vir my gebak om af te koel. Ek drink gemmerbier en lag sommer lekker by myself vir Nataniël, wat in sy Kaalkoprubriek (April 2011) vertel van sý middernagtelike koekiebakkery. Ek bak al jare vir ’n tuisnywerheid. Toe ek voltyds gewerk het, moes ek dit ná ure doen. Toe ek in Desember verlede jaar aftree, het almal gedink ek gaan nou bedags bak. Maar die lewe is dan te gejaag en onderstebo. Die telefone lui, aflewerings moet gedoen word en voorraad moet gekoop word. Nee wat, ek bak steeds wanneer die wêreld slaap en ek rustig my eie ding kan doen. Nataniël, my siel is verwant aan joune! En ek onthou met genot die tyd toe ek saam met jou kon deelneem aan ’n radioprogram in Durban. Jy’s mý soort mens!
Louise Suttie, Pietermaritzburg

Voor die son sak
Vir die eerste keer in jare skryf ek weer ’n brief by die lig van ’n gaslamp. Ons oord en dorp is al vyftien uur lank sonder krag. Nee, ek kla nie oor iemand se onbevoegdheid nie, want dis negatief. Ek word eerder geïnspireer deur Nataniël se koekie-bakkery in die nag. Ek dink vinnig. G’n mens kan koekies op ’n gasstofie bak nie, maar pannekoek wel! Die laaste bruismeel en eier word deel van die beslag wat buite na die afdak toe gedra word. Met tuingereedskap as toeskouers bak ek die lekkerste pannekoek voor die son sak! ’n Heerlike soet bederf.
NS. Die moontlikheid van bederfde kos in die yskas is môre se probleem.
Ria Ludick, Kokanje, Limpopo

Meesterstuk
Ons het onlangs Nataniël se nuutste produksie, Combat, gaan kyk, en weer eens het ek verstom gestaan . . . verstom oor die massas woorde wat hy onthou en moeiteloos
oorvertel. Ek koop die April-uitgawe van SARIE en slaan dit oop by Kaalkop. Ek begin die rubriek haastig lees, soos ek altyd doen, maar skielik onthou ek hoe Nataniël praat en klink, en ek lees stadiger. In my gedagtes lees ek die woorde soos hy dit sou sê, en ek besef hy skryf net soos hy praat. Elke geskrewe stuk en elke produksie is ’n meesterstuk! Ek gaan nou my ou SARIE’s uitgrawe sodat ek die ou “Kaalkoppe” weer kan lees – stadig en op my tyd.
Estelle Chippett, Pretoria

Om te tango
Vanoggend lees ek uit die boek Tango – Ligvoets deur die Lewe deur Jeanne Els, en ek besluit ek wil kan tango op 80! My ma is ’n inspirasie vir dié ouderdom. Op 83 doen sy steeds alles self. Sy kom kuier by my of my susters en werk ewe hard saam met die tuinman. Sy regeer met ’n ysterhand, gedryf deur ’n hart vol liefde. Sy gee alles wat sy het vir almal om haar en vra niks terug nie. Ons het grootgeword met ’n liefde vir die lewe, respek vir ander, vir insig in situasies wat anders is as ons eie en met ’n ma wat lei sonder om jou te laat voel sy is sterker. Die lewe het vir haar ’n curve ball gegooi deurdat sy talle geliefdes aan die dood afgestaan het, onder andere ons pa en ’n kleinseun op die jeugdige ouderdom van 27. Tog het sy sterk gebly. Ek dink aan ’n paar woorde in Jeanne se boek waar die meisietjie sê: “Promise to keep the tango in your heart and never say Adeus to life.”
Magda Pepler, Montagu

In Pa se tas
Van die eerste dae van ons getroude lewe het my man se werk vereis dat hy moet reis. Eers binnelands, later jare oorsee. Ek onthou altyd die opgewondenheid wanneer hy teruggekom het huis toe. Die uitsien saam met ons twee dogters: “Ek wonder wat het Pappa dié keer saamgebring.” Klein goedjies om ons ’n idee te gee van hoe dinge daar ver oor die waters lyk. En dan . . . ons almal saam op die bed wanneer die tas uitgepak word. Dis nou 21 jaar later, en my liewe man reis steeds. Ons bly nou ook “ver oor die waters” ’n Week gelede neem die werk hom terug na Suid-Afrika. Hy kom huis toe en ons drie vroumense is weer opgewonde oor wat in die tas gaan wees. Dié keer is dit Maltabellapap, Liquorice Allsorts en Safari-vrugterolle. Hoe verander ’n mens se uitkyk nie as jy uit die bekende verplaas word nie!
Hannelie Bester, Abu Dhabi