ys4f8343
Eie stories

Briewe November 2011

Lelike eendjie lig haar kop
Ek was een van die gelukkige wenners van die SARIE-oormaaksessies (Augustus 2011) en wil weer eens dankie sê. Ek was as kind oorgewig en het altyd soos die lelike eendjie gevoel. Al het ek baie gewig verloor en oor die jare verander, kon ek nooit die lelike eendjie-gevoel afskud nie. Maar danksy SARIE, die span by Tanaz Hair en die fotograaf het ek dit uiteindelik reggekry. Die fotosessie het my selfvertroue gegee en gehelp om in myself te glo. Ek was heeltemal uit my gemaksone, maar aan die einde van die dag het ek besef dis al wat ek nodig gehad het. Ek kon my oë nie glo toe ek my foto sien nie! Ek het dit intussen vergroot en in my huis opgehang. As ek nou daai ou gevoel kry, kyk ek daarna, lig my ken op en kyk die wêreld vierkant in die oë. Ek kan dit vir elke vrou aanbeveel.
Rene Riekert, Wierdapark

Toekomsdrome
Terwyl die son oor die Karoo-vlaktes sak en die kleure sagter word, kry ek ’n soet reuk in die lug wat sê: Hier is ek, vir altyd. En my hart stem saam. Hier’s nie plek vir fênsie
karre en kantoorpolitiek nie. Hier’s alles net hiér. Die geklik van die windpomp, magtig en wys. Die geluid van die perdekamp-hekkie en die geplof-plof van perdehoewe. Hulle ruik na lusern as hul warm neuse met my hande kom kennis maak . . . ’n Jaar gelede het ek en my twee boesemvriendinne vir ’n naweek naby Matjiesfontein gaan kuier. Die Sondagoggend het hierdie stadsmeisie, met ’n boervrou in haar, antwoorde gesoek. Ek moes terug na die rat race van alleen wees, na die doellose geskuif van papiere en die geklik van die elektroniesemuis. Waarvoor? Op ’n klipmuurtjie in die hart van die Karoo maak ek toe weer my wenslys en pleit by die Here: droomman, droomwerk, lekker geselskap en asseblief tog my eie stukkie Karoo. Nou kyk ek terug en glimlag. God se tydsberekening is volmaak. My droomman en ’n nuwe werk het opgedaag. Stadig maar seker pas my lewe se stukkies in mekaar. Ek is só opgewonde oor die toekoms!
Karoo-nooi, Kaapstad

’n Vol, leë nes
Toe is ons nessie ook leeg! Ek huil onbeskaamd op die lughawe toe ons jongste seun oorsee vertrek. Die stilte is oorverdowend toe ons terug is by die huis. Maklik is dit nie en ek is sommer jaloers op my vriendinne wie se kroos nog by hulle woon. Maar ’n ander lekkerte kom maak toe nes. Ek en my man kom en gaan soos ons wil. Ons loop hand aan hand en verlustig ons in al die mooigoed in die winkels sonder ’n gejaag om voor etenstyd tuis te wees. Ons sit en gesels ure lank in die lekkerste eetplekkies. Naweke kry ons wegneemetes en kyk DVD’s, en ons ontdek opnuut die lekkerte van saamwees. Ek besef watter groot voorreg dit is om steeds verlief te wees op my man. Ek kom daagliks ná werk tuis met ’n lied in my hart.
Leë-nes-ma, Wonderboompoort

Klein inspirasies
Miniatuur-verpakkings van produkte fassineer my van kleintyd af. ’n Ruk gelede maak ek my sentiment-kassie leeg en kyk weer met passie na die klein Lip-Ice-houer en piepklein Pepsi-bottels wat ek sedert my kinderdae bêre. Tydens ons woonwavakansies kan ek klein pakkies suiker byna nie weerstaan nie, maar besef dan die groter pak is meer ekonomies. Wat is my inspirasie vir hierdie brief? Die klein blikkie handeroom in die Augustus-SARIE en die oulike klein buisie oogroom in die September-SARIE. Ek het reeds ’n gewone grootte handeroom gekoop – die advertensie-veldtog het dus gewerk! Maar ek geniet elke oomblik wanneer ek die klein blikkie uit my handsak haal, dit vertroetel en die heerlike room aan my hande smeer.
Suzette Westhof, Wingate Park (Pretoria)

Mooi naels
Groot was my verrassing toe ek die antiek-sjiek naellak in die Augustus-SARIE kry. Ek’t aanvanklik gedink: Ja, dis weer een van daai soort wat nie eens twee uur aan is nie, dan dop dit al af. Veral ek wat ’n nuwe mamma is, met my hande gedurig in die water. Maar ek het my duidelik misgis. Die naellak bly aan. Dis wonderlik! Dankie vir die beste bederf in ’n lang tyd wat mooi naels betref.
Ilse van Heerden, Despatch

SARIE-Afrikaans
Ek is Engels, so rooi in die nek soos hulle kom, met ’n baie sterk aksent. Ek dink hierdie brief is dalk vol spel- en taalfoute. Maar laat ek vir julle sê, ek het al goeie vordering gemaak! Ek was altyd bang vir Afrikaans en wou byna nie ’n woord praat nie. Ek het so ’n bietjie verstaan, maar was nie heeltemal tweetalig nie. Toe het ek by Tukkies gaan swot, terug in die ou dae toe alle lesings nog in Afrikaans was. My oplossing hiervoor was SARIE! Ek het die tydskrif elke maand gekoop en deurgelees. Ek moes aanvanklik elke tweede woord in die woordeboek opsoek, maar dit was die moeite werd. Ek het nou ’n paar grade agter die rug en praat daagliks Afrikaans. Ek lees SARIE steeds elke maand en geniet dit baie. Ek was onlangs Bali toe en het baie tale gehoor, maar ek het rêrigwaar Suid-Afrika gemis omdat ek nie een Afrikaanse woord gehoor het nie. Die eerste item wat ek gekoop het toe ek terug in die land was, was natuurlik my SARIE, my inspirasie.
Michelle Ainslie, Strand

Bure se kinders
Een vrieskoue Sondagaand sit ek in ’n stomende borrelbad met my brugmasjien, ’n yskoue glas chardonnay en twee Yorkies op die mat as my metgeselle. Daar heers ’n salige stilte. Gaandeweg word ek bewus van opgewonde kinderstemme, soos eksotiese voëltjies in ’n goue koutjie. Ek besef dis ons bure se vyf kinders wat buite in die koue speel – jillend en gillend van pure genot. Hul fietsies knars oor die plaveisel en balle word entoesiasties gebons. Hulle het nie elektroniese foefies of selfone nie, nie eens ’n TV nie. Dís hoe kinders moet grootword, dink ek. En die volgende dag komplimenteer ek Naeem en Zainab Jassat met hul uitstekende metodes van kinders grootmaak. Dié buurvrou is beïndruk.
Ria Goosen, Cresta

Brei vir wesies
Liewe SARIE, dis jy met jou kreatief-tydskrif wat my weer aan die brei gekry het. Darem nie heeltemal waar nie, dit was my dogter nadat sy ’n tehuis vir weesbabas in Pretoria besoek het. Sy het poeiermelk, doeke en kombersies saamgeneem en toe kry ek die idée om babaklere te brei. Ek was so begeesterd dat ek nog ’n paar vriendinne by die aftree oord by my breiprojek betrek het. Ons is nou almal oumas vir dié babas sonder ouers. Jy weet nie wat dit aan my en my vriendinne se harte doen om die kleintjies te kan klee nie – dis pienk, blou, geel en groen baadjies, kousies en mussies. Dankie vir jou inspirasie met SARIE kreatief.
Welma den Haan, Bellville

Vel-bederf
Ek en my man vlieg Malawi toe om vier dae by die meer deur te bring. Op die O.R. Tambolughawe koop ek Augustus se SARIE met die gratis blikkie Nivea-room. My reistas bly agter en kom eers daar aan op die vlug wat ons moes terugneem Suid-Afrika toe. Nog nooit was ’n gratis geskenk in ’n tydskrif so welkom nie, want dit word toe die somtotaal van my velsorgprodukte vir die volgende vier dae! Dit was ongelooflik wat daardie klein blikkie vir die 50-plus-vel gedoen het. Ek verstaan nou hoekom dit ná 100 jaar steeds op die mark is. Skielik wonder ek oor die serums, oog-, dagen nagrome wat ons glo ons vel móét hê. Dankie, SARIE, daardie bederfie is nou deel van die permanente inhoud van my handsak!
Madeleine de Villiers, Eversdal

Vrystaatse vrede
’n Bietjie meer as drie maande gelede het ek die Hoëveld se grasvlaktes vir altyd vir die Vrystaat se prentjiemooi sonsondergange verruil! Ek het ewige trou aan my Vrystaatboer belowe met die wete dat baie uitdagings my pad gaan kruis. My skuif van werkersklas tot “boer-se-vrou” maak huishou en wasgoed nou deel van my daaglikse bestaan. Mis ek die rat race? Soms. Sal ek dit verruil? Vir niks op hierdie aarde nie! Nêrens ervaar jy vrede in soveel fasette nie. Boonop het ek ’n fantastiese vriendin in SARIE wat my elke maand inspireer!
Anneri Buitendach, Petrusburg