Eie stories

Briewe Oktober 2011

Matriekseisoen
Dis sulke tyd. Ma skryf matriek. Heeljaar al, met die eintlike matrikulant wat wil rugby speel, MXit, met meisies gesels en Disney Channel kyk. Ek en my man stres. Hoewel Boetie nie mik vir nege onderskeidings nie, moet hy darem sy matrieksertifikaat kry voordat hy volgende jaar meer rugby kan speel. Ek kom een middag tuis en daar lê ’n briefie vir my, in my ma se handskrif. Vreemd, want sy bly ook in Pretoria … Ek vou die bladsy oop. Ma het vir my Marita van der Vyver se rubriek in SARIE van November 2010 gestuur, getiteld “Ma skryf matriek”. En net daar tjank ek, want Ma weet. Sy is 70 jaar oud, maar onthou duidelik nog hoe dit was om vyf kinders deur eksamens te bid, mooi te praat, te dreig, af te pers, te smeek en nogmaals te bid … En sy gaan nou weer daardeur, hierdie keer met haar ses kleinseuns. Ek dink in menige matrikulant se huis is daar nie net ’n ma nie, maar bes moontlik ook ’n ouma, ’n tannie of ’n sussie wat aanmoedig en saam bid.
Karin Espag, Pretoria

Veldiep
Ek het pas “’n Sprong na liefde” in die Junie-SARIE gelees. Die laaste twee bladsye was maar bietjie uit fokus, want my oë was nat. Alles was so bekend, ek het al “Linda” se emosies herken en weer ervaar. Want sien, my jongste broer gaan uit met ’n Indiër meisie. Aanvanklik is daar baie vrae en emosies: Hoe het dit gebeur, wat gaan mense sê, hoe moet ons optree? Ook my teleurstelling in myself. Ek dog ek is oopkop, maar ervaar skielik emosies waarvan ek nie hou nie. Ek besef hoe diep gesetel ons vooroordele is. Die eerste ontmoeting is maar voel-voel. Teen die einde van die naweek gesels ons gemaklik. Nou, twee jaar ná ons eerste ontmoeting, is my hart seer as ek besef hoe baie ons onsself ontsê het. Hoeveel vriendinne het ek al misgeleef omdat ek “veldiep” gekyk het? My broer is gelukkiger as ooit. Sy het hom nader aan sy familie gebring. En byna het ons dit alles gemis omdat ons mekaar op velkleur beoordeel. Hulle trou een van die dae en ek kan met vreugde sê: “Neelandrie, I can’t wait to call you my SISTER!”
Suna Potgieter, Piet Retief

Om’n vriend te onthou
Ek staar met ’n stukkende hart na die Junie-SARIE, die eerste van 12 intekenbederwe deur ’n jare lange vriend wat op 21 Junie tragies in ’n motorongeluk gesterf het. Kwalik twee m aande gelede het ons my 40ste verjaardag gevier en uitgesien na syne in September. Ons het as jong studente in die 1990’s op die Tukskampus ontmoet en saam die “law-ding” gedoen, saam gewroeg deur menige hofsaak en Latyn-klasse. Ons het saam gegiggel toe ons ons onderskeie lewensmaats ontmoet en troues gehou het. Hy was my steunpilaar met my man se dood, en het gejubel toe ek weer liefde gevind het. Ons het saam gelag en gehuil toe ons kinders gebore is. Nou’s hy weg, die pa wat so trots was op sy kinders, hulle in liefde toegevou het, sy vrou elke dag bewonder het en vir mý ’n ware vriend was. Toe hy my sê ek moet kies watter tydskrif ek as verjaardaggeskenk wou hê, het ek sonder huiwering gesê SARIE. Ek het die glimlag in sy stem gehoor toe hy sê die vroue in sy lewe is voorspelbaar! SARIE, jy het nou nóg meer ’n spesiale plek in my hart.
Lynette Burns-Coetzee, Kempton Park

Skoene uit!
Vir ’n baie lang tyd het dit maar broekskeur gegaan in die Kiesling-huishouding. Geld vir luukses was daar nie, maar helaas! Daar was aan die einde van die maand ’n ekstratjie. En voor ek my kom kry, staan ek voor die tydskrifrak in die supermark. My hand reik outomaties uit na SARIE, en ek koester haar sommer daar en dan liefdevol teen my boesem. By die huis gekom, skop ek skoene uit en gaan sit met my vriendin op die bank. Die gebruis en geborrel deur my are van die soete hereniging en weersiens kan ek nie in woorde beskryf nie. Die afgelope tyd se leemte in my lewe is opnuut gevul.
Lalie Kiesling, Middelburg (Mpumalanga)

Soenrooi

Dankie SARIE, vir my naellak in die Augustus-uitgawe. Vir maande al begeer ek maar net om weer my naels te verf. Toe ek in Maart die skoknuus kry dat die borskanker terug is ná my mastektomie in 2008, en na my skelet versprei het, moes ek dadelik met intense chemoterapie en aanvullende behandeling begin. Daar is aanbeveel dat ek van naellak af wegbly. Van my naels het weens die behandeling donkerblou geword en ek moes dit heeltyd dophou dat dit nie oplig nie. Met ’n kaal kop van al die hare wat uitgeval het, tussen hospitale, naalde, drups en naarheid deur, was daar maar min dinge oor om my vroulik te laat voel. Behalwe lipstiffie, soos die “soenrooi”-een wat ek as geskenk in die  Desember 2010-SARIE gekry het. Jul tydskrif het in ’n vreeslike moeilike tydperk van my lewe my kom opvrolik!
Magriet Meintjes, Port Elizabeth

Borsondersoek
Ek word absoluut deur die gebede van familie en vriende gedra. Ek is in Maart vanjaar met borskanker gediagnoseer. Wat ’n skok! Ek het gereeld vir mammogramme gegaan, tot 2006 toe ek besluit het ek kan dit nie meer bekostig nie. Ek oefen gereeld al vir jare, doen Pilates, eet my hoeveelheid vrugte per dag en leef gesond. Ek het min
hormoonvervanging gehad, en gebruik plantekstrak vir hoofpyne en nagsweet. Ek het toevallig die knoppie onder my bors ontdek. Vroue moet gereeld self borsondersoeke doen en nie aanneem dit sal nie met hulle gebeur nie. Ek was onlangs weer in die hospitaal omdat my witbloedtelling elke keer ná behandeling baie laag daal. Binne twee dae het die telling geklim van 0,02 tot 6 teen die Sondagoggend. Watter wonderwerk!
PS: Ek het 30 jaar gelede ’n sjokoladesous-poedingresep gehad en almal was gaande daaroor. Toe verloor ek dit! Jul Julie-uitgawe, met die 10 koesterpoedings, het dié resep vir my teruggegee. Ek teken weer in op SARIE!
Rina Tosi, Parklands

Kaapse hare
Ná 45 jaar op ’n Karooplaas trek ek stad toe. Ek laat my hare doen by ’n salon en vra vir ’n set. Hulle het krullers, maar die pennetjies is soek. “Geen kop in die Kaap” word meer ingedraai nie. Later lei hulle my na ’n staandroër in ’n hoek. Dit kort skroewe. En ek sien net die helfte van myself in die spieël. Die res is toegepak met tydskrifte en bottels. Die jong assistent sê sy’t nog nóóit in haar lewe met ’n staandroër gewerk nie. “Niemand in die Kaap” sit meer onder ’n droër nie. Die kopstuk beweeg heen en weer, en ek reguleer dit met my een hand. Lees kan ek nie, want die warm droërwind bly die blaaie skep. Ek voel skaam en ouwêrelds. Die mense kyk vir my. Verlos uit die harnas, is ek weer in  beheer toe hulle met kam, borsel en tang aankom. “Maak my hare deurmekaar,” sê ek. “Net met die hande.” Ek gooi my kop vorentoe. En siedaar! Pragtige spiraalkrulle, los en modern. ’n Week later loop ek in die arkade. Die salon-meisies roep opgewonde uit: “Jou droër is reg. It’s exclusively Hester’s!”
Hester Venter, Durbanville

Eish!
Dankie SARIE, vir al jul geskenke. Binne – die koevertjies met cappuccino en haar- en velprodukte. Buite – serpies in Junie, naellak in Augustus, vroeër lipstiffies, juwele en donkerbrille. Ai, die donkerbrille! Lekker groot en mod. Een van my vriendinne sien met verbasing ek sit my SARIE-donkerbril sommer bo-oor my gewone bril op. Sy besluit sy gaan voortaan dieselfde doen en haar vriendinne in die Noorde met dié “mode” verras. Maar eers gaan sy vir elkeen ’n SARIE koop, ook een vir haar dogter wat in die Ooste woon. Sy bel my ná die vakansie. Ek vra haar hoeveel brille sy toe gekoop het. Sy bly so ’n oomblik of twee stil. Toe kom die antwoord: “Baie. Eish!”
Frieda van der Walt, Vermont

Ma, nou begin my lewe weer …
My dogter (20) is in 2009 met bipolêre gemoedsteurnis gediagnoseer. Sy moes haar universiteitstudie opskop en is in ’n kliniek opgeneem. My sterk, slim en mooi kind. Ongevoelige vriendinne spot haar en sê sy’s mal. Ek was kwaad omdat hulle so iets durf sê van my kind. Dis twee jaar later en sy is besig om haar graad deur Unisa te verwerf. Sy sê vir my: “Ma, nou begin my lewe weer.” Dankie vir jul artikel (Julie 2011) waarin Elsabé Brits bewys dat lyers van dié gemoedsteurnis uit daardie “donker, gladde gat” kan opstaan en kan voortgaan met hul lewe…met medikasie en beradingsessies. Maklik is dit beslis nie, want die stigma hieromtrent sal altyd daar wees.
Dankbare ma, Modimolle