Eie stories

Briewe September 2011

Finansiële feetjie
Ek wens daar was ’n finansiële feetjie vir elke gesin … iemand soos Aspoestertjie se towertante. Sy hoef nie glasskoentjies te laat verskyn nie. Sy moet net sorg dat daar genoeg geld is om die nodige en soms ’n bederfie te koop. My ouers het nooit skuld gemaak nie. Toe die eiendomsmark begin vlamvat, het my pa sewe woonstelle gekoop. Die huurders het ongereeld betaal, en ons moes op kredietkaarte en rekeninge staatmaak. Boonop het die maandelikse paaiement op ons nuwe huis drasties gestyg. Genadiglik word hulle bekend gestel aan skuldberading. Die begroting is streng, maar dit het die balju van ons deur af weggehou. My ouers kon egter nie vir enige universiteitsopleiding spaar nie. Ek is ’n eerstejaarstudent en my studies kos R50 000 per jaar. My ma se hele salaries word maandeliks hiervoor gebruik. Ondanks alles het hulle gesorg dat ek ’n goeie motor en ’n rekenaar het. Ek werk hard en wil eendag vir my broer se universiteitsopleiding betaal … totdat ’n finansiële feetjie opdaag om ons drome waar te maak.
Mila, Wierdapark

Saterdagritueel
Só begin my Saterdag. Met my rituele koppie koffie en my SARIE wat ek vroeër die week gekoop het. Vandag is dit mýdag met my tydskrif – in die son in my slaapkamer.Ek begin soos altyd met Kaalkop en raak verlore in elke artikel. Twee uur later staan ek op en bederf myself met ’n groot blok donkersjokolade en ’n glasie rooiwyn. Met die rustigheid, wat net ’n “stadige” Saterdag na ’n mens se gemoed kan bring, tel ek weer my SARIE met ’n glimlag op. Die tydskrif is net wat my siel nodig gehad het. En ek begin weer voor. Ek groei en SARIE is deel daarvan. Ek droom oor die boek wat ek wil skryf. En so ontstaan dié briefie aan julle. Soos Nataniël sê: “As dit eers geskryf is, is dit aan die gang.”
Marinda van Aswegen, Langebaan

Sleutel van die liefde

’n Paar vroue in die haarsalon praat oor huweliksherdenkings en waarmee manlief hulle moet bederf – pêrelhalssnoere, ’n diamant-dingetjie . . . Ek, byna nege jaar getroud, sê niks. My beste herdenking bly my eerste een. As pasgetroudes het ons al ons geld gebruik om ’n “pophuisie” te koop. ’n Jaar lank het ons daagliks die bouterrein besoek en stene aangedra. Twee weke ná die trek was dit ons herdenking . . . so heeltemal anders as die kerslig, rose en diamante wat ek my voorgestel het. Oral staan bokse en bousand lê in die vensterbanke. Ek word wakker met die geur van koffie. Langs die koffiemasjien lê ’n briefie, ’n sleutel en twee tuinblommetjies. “Dis ’ngroot dag vir ons, my lief. En tog het ek geen groot geskenk nie. Geen kaartjie. Geen diamant. Maar vir jou, jou eie sleutel tot ons nessie. Ons het lank gespaar en hard gewerk. Dis ons s’n en ons gaan gelukkig wees hier. Dankie vir die beste jaar ooit.” Ek luister weer na die vroue en dink: Dat ’n sleutel meer werd kan wees as ’n diamant is raar. Maar ’n man wat die sleutel tot jou hart só raakvat, nog meer!
Sleutel-sprokie, Vredenburg


Die geskenk

Sonder drome voel die lewe sommer saai, maar sonder geloof ís die lewe saai. Ek moes onbepland permanent ophou werk en verval toe in ’n diep gat van magtelose selfbejammering. Uitgewis is enige drome van lekker vakansies of reis in die toekoms. Elke sent word omgedraai ter wille van oorlewing. ’n Geliefde niggie van die Kaap bel en ek pak af op haar gewillige skouers. Sy troos en bemoedig en herinner my dat ek dan altyd so optimisties glo aan deure wat oopgaan en silwer randjies. Ek skaam my skielik en begin oor ander goed gesels. Net voor sy groet, sê sy: “O, byna vergeet ek. Kom kuier in November vir ’n week saam met my by ’n pamperlangspa op Stellenbosch. Dis jou sestigste verjaardaggeskenk. Ek bespreek sommer ook jou vliegkaartjie. Toe Nig, jy verdien dit!”
Estelle Bornman, Parys (Vrystaat)

BP-Draak
SARIE, onwetend is julle my inspirasie om “steeds te probeer” (Julie 2011). Ek leef sedert my jongste dogter se geboorte in 2000 met bipolêre gemoedsteurnis. Dis scary, want daar was tye dat ek nie geweet het ek bestaan nie. Al wat ek weet, is dat ek ’n algehele ineenstorting gehad het en vir byna nege maande glad nie kon werk nie. Skokbehandeling is doeltreffend, veral wanneer jy selfmoordneigings het. Ek het self drie keer dié sort behandeling gekry. Die tydelike geheueverlies daarna is ’n klein opoffering teenoor die “dood” wat jou soms in die oë staar. Dankie aan my man, my steunpilaar, en drie wonderlike dogters. Julle is my hoop en inspirasie om te wil leef.
Sharon, Goodwood

Sarie op kampus
Ek is ’n 19-jarige student aan die Universiteit Stellenbosch. Ek koop getrou elke maand my SARIE. Ná my klasse sit ek êrens op die kampus en verslind behoorlik die tydskrif. En daarna kan ek nie wag vir die volgende uitgawe nie. My vriende terg my oor ek ’n “grootmens-tydskrif” lees, maar ek kies deesdae SARIE selfs bo Dalene Matthee se boeke. Baie dankie vir jul inspirasie elke maand. En ek is mal oor die lekker geskenke!
Marié Burger, Clanwilliam

Blokraai-prys
Eerstens baie dankie vir die boek wat ek met Blokraai 5 gewen het. Dis gister by my huis afgelewer en ek is seker dat Gesprekke met merkwaardige mense deur Murray La Vita baie interessante leesstof gaan wees. Sommer dankie ook vir die donkerbril ’n paar uitgawes gelede en die lieflike liggewigserpie in die Junie-SARIE. Jul tydskrif word van voor tot agter gelees!
Sarie Joubert, Kraaifontein

Lysies vir als

Met die lees van Nataniël se artikel in jul Julie-uitgawe het ek ’n Aha!-oomblik beleef toe hy vertel van die fantastiese gevoel wanneer hy lysies maak. Ek maak ook daagliks lysies van wat ek moet of wil doen, of van nuwe idees. As hy praat van 20 jaar se dagboeke, weet ek goed wat hy bedoel. Toe my kinders nog almal in die huis was – ses van hulle – was my lysies die spil waarom alles gedraai het. Die vorige aand moes ek die volgende dag se program neerpen. Wie by watter sport of ander byeenkoms moet wees, watter taak voltooi moet wees, watter skool-, sport- of Voortrekkerdrag moet reg lê vir die volgende dag. My vriendinne spot my nou nog oor die talle lysies vir elke taak en geleentheid wat ons gereël het! Tot my kinders het voor die begin van elke nuwe kwartaal hul lyste met benodigdhede vir my gegee. My lysies is nou baie korter, want almal is uit die huis. Nou dien dit net as rigtingwysers . . . noodsaaklik en gerusstellend.
Janet Rademan, Kroonstad