Eie stories

Carin Burger van Brandvlei, skryf:

My Liefste,

Die vroeë oggend is fris hier buite op die stoep. Die gras is papnat gedou. Die werf is doodstil. Nou en dan kwaak ʼn gans. Ek wonder: is jy ook al wakker? Is jou gedagtes hier by my, hier waar ons dag altyd saam begin, vóór hanekraai, wanneer ons “ons geselsie” inkry vóór die dag se gewoel, jy met jou stomende koppie koffie en ek met my potjie tee?

Gisteraand nadat jy gebel het, het ek my byna siek gehuil. Ek mis jou so. Jy het gesê dit was ʼn groot dag in jou lewe. Jy het jou eerste twee koedoes elk ʼn kopskoot gegee! Van verlange het jy nie ʼn woord gerep nie. Ek wil net sê: Ek verstaan. Ek het begrip. Ek wens net ek was gister self daar toe jy die bokke in jou teleskoop ingepas het. Ek wens ek kon op daardie oomblik die opgewondenheid, die grootsheid en die stiltes van die Namibiese vlaktes saam met jou beleef.

Gisteraand het ek ook vergeet om vir jou te sê my eerste pronkertjies het begin blom – die eerste bietjie kleur in ons tuin in ʼn lang, lang tyd. Daardie enkele blommetjie gaan ek môre vir jou pluk as jy terugkom. Ek gaan dit by jou hart vasspeld om vir jou dankie te sê vir die water wat jy my gun vir my tuin. Ek weet hoe die droogte jou vertroue min en jou oë donker gemaak het. Ek sien as jy alleen by jou lessenaar sit en jou trane vir ons probeer wegsteek. My hart huil saam met jou as die wind jou geloof net so vol stof waai soos jou lande daarbuite – as jou gesaaides verdor en jou vee maer word. Ek kry seer as jy moedeloos by nog ʼn opgedroogde boorgat staan. Dan wil ek jou so graag styf teen my vashou en vir jou sê hoe verskriklik lief ek jou het. Hoe jou menswees ook deel van my is. Maar my woorde is min en my lyf verleë om liefde so tasbaar te bewys. As ek kon, het ek die aarde elke dag vir jou natgemaak met wonderlike, lewegewende reën. Maar ek is nie God nie. Daarom offer ek my eerste pronkertjies aan jou. En met elke blom wat in my beddinkie oopgaan, sal ek jou liefde vir my sien.

My Liefste, ek huil soms as ek daaraan dink dat jy myne is. En ek wonder of ek jou ooit waardig is. Dis asof die mooiste gevoelens oor jou mekaar in my binneste verdring. Wat kan ek alles vir jou doen, my Liefste? Die ridders van ouds was daar beter aan toe. Hulle kon deur groot vure ry en drake doodmaak om hul geliefdes te gaan haal. Maar ek? Ek kan slegs klein opofferinkies maak. Maar tog kan ons mekaar koester, ridders of nie ridders nie, want slegs die tye verander maar nooit die menslike hart nie.

Nou staan jou stoel leeg hier langs my. Cindy soek-soek na jou en kom snuffel dan vir troos by my. Ek kyk af in haar droewige honde-oë. My tee staan koud. Verlange brand hier binne-in my. Die son is op. Dis asof ek jou helder fluit kan hoor, en met die agteruit skuif van die stoel: “Dit is tyd vir ʼn boer om te roer.” Skielik weet ek: dit is tog sekerlik wat jy van my verwag daar ver – om tuis die fort te hou. Ek gaan dadelik wegspring, ek gaan melktert bak (dié waarvan jy so baie hou). Môre kom jy terug en dan sal alles weer wees soos voorheen. Behalwe as jy dalk ook soos ek besef het dat ons te min vir mekaar sê hoe nodig ons mekaar het.