Eie stories

Chantel Viljoen van Kimberley, skryf:

Verlore in my gedagtes, lei hulle my terug na jou …

My hele lewe lank het ek gewag vir iemand soos jy. As ek terugdink, verstaan ek nie hoe ek dit reggekry het om sonder jou te lewe, want ’n dag sonder jou is so eensaam soos die dood. Maar as ek in my gedagtes met jou praat, weet ek dat jy my hoor, my arms om jou voel.

Daar’s ’n rustigheid in my hart, want dis wonderlik om te weet ek het iemand spesiaal met wie ek my daaglikse gebeurtenisse kan deel. Ek verlang jou so. Ek het vrede in my hart. Ek het vir jou, die een wat die digte sluier van my siel gelig het, wat my verminkte vertroue en hoop met jou passievolle liefde genees het.

Terwyl ek op jou koms gewag het, het ek myself, my jonkheid, my gees en hart vir jou bewaar. Ek koester jou. Jy is so belangrik vir my. Ek wil jou so graag gelukkig maak.  Ek wil snags, terwyl jy slaap, vir jou fluister, myself vir jou gee, weer en weer …

Daar is iets omtrent jou oë, hulle trek my in soos die diep blou see. Verlore is ek as hulle vertel hoe jy my wil hê. Ek voel jou hande op my lyf, jou lippe teen my gesig. Ek voel hoe die versoeking nader, ek moet net my gedagtes keer.

Jy’s die suurstof wat ek inasem, die grond onder my voete, die een op wie ek kan staatmaak, die een op wie se skouer ek kan huil as dit voel of die wêreld daarbuite té veel wil raak.

Jy’s die een by wie ek hoort. Vir eens in my lewe is ek waarlik gelukkig. Jy maak daagliks seker dat ek weet hoe onvoorwaardelik jy my liefhet, dat niemand ooit my plek in jou hart sal vervang nie. Jy maak altyd tyd om na my te luister, my te leer ken. As ek jou nodig het, is jy daar vir my.

Ons deel dieselfde drome, ’n spesiale band wat mens net een keer in ’n leeftyd beleef.  Ons het ’n goeie verstandhouding. As woorde opraak, weet ons harte wat ons voel en dink. Daar is ’n vertroue in mekaar, ’n sensitiwiteit, ’n geestelike harmonie. By jou voel ek veilig en gekoester.

In ons passievolle oomblikke as ons siele verenig en ’n woordelose gesprek voer, voel ek jou liefde vir my. So wonderlik, ’n voorsmakie van hemel wat jy vir my skep. Ek raak van vooraf nog meer lief vir jou.  Jou sonnige geaardheid het my lewensanker geword.

Die dag as ek sterf, sal ek groet met vrede in my hart, want by jou vind ek ’n warmte van liefde so opreg, sò eg. En waar ook al hulle my as sal strooi, sal die aarde dit opneem en uitstraal in dié dinge waaroor ek so mal is. 

Ek het jou lief met my hele hart, siel, verstand en liggaam. Tot in ewigheid, my Lief.