Eie stories

Charmaine de Almeida van Bezuidenhout Vally, skryf:

Roderio Baltazar de Almeida, my Liefste

Jy slaap hier langs my en ek bewonder jou ylwordende haartjies. Dit voel soos gister dat jy in my lewe gestap het, en vir my gesê het “kom ons gooi ons goedjies saam, dan het ons soveel meer om mee uit te kom”.

Jy haal rustig asem, en ek sien my drome van gister saam met jou verby my speel. Ek kry ’n glimlag op my gesig as ek terugdink hoe jy uit die bloute vir my gevra het of ek nie die mamma van jou kinders wil wees nie.

Jy het my so mooi gevra om verby ras en kultuur te kyk dat ek dit nooit oor my hart sou kon kry om nie “ja” te sê nie.

Ek wil hê jy moet weet die dag toe ons trou aan mekaar belowe het, het jy die ontbrekende deel van my legkaart voltooi.

In die holte van jou arm voel en veilig en gelief. Ek sal niks van die verlede of hede wil verander nie. Met jou wil ek oud word en daai koppie tee op die voorstoep geniet.

“My gentleman, you are once, twice, three times my kind of man. And I love, honour and respect you for that.”