Eie stories

Chris Chameleon oor sy optrede by die Madiba-konsert in New York

“As daar een ding is wat ek kan huis toe neem van my ervaring van die Mandela-dag konsert in die Radio City Music Hall in New York, is dit dat my werk my werk is, maak nie saak waar of met wie nie. Weliswaar nog ‘n dag op kantoor, soos hulle sê.

Maar bygesê, ek het die lekkerste werk waaraan ek kan dink. Ek is gek oor my werk en Saterdagaand was ook geen uitsondering wat dit betref nie, en ek kan my dankbaarheid vir die wonderlike lewe wat ek voer nie genoeg beklemtoon nie!

Ook kan ek weer eens bevestig dat alle mense maar mense is en dat die hoeveelheid plate wat jy verkoop of roem wat jy verwerf niks aan jou menslikheid verander nie.

Mmm… dit verander wel aan sommige mense se persepsie van hulle eie menslikheid (hier en daar is ‘n kokkedoor wat dink dat hy/sy werklik verhewe bo die gemiddelde mens is!), maar aan die mens self verander dit werklik nie veel nie.

Uiteindelik was dit ‘n wonderlike voorreg om saam met soveel ander my talent tot die beskikking van so ‘n goeie doel soos die 46664-liefdadigheid te stel.

Mag daar nog vele wees!

En… veels geluk onse oupa Madiba!” – Chris Chameleon

In die AUGUSTUS-UITGAWE van SARIE (vanaf 6 Julie te koop) verklap Chris sy hoop, vrese en lewenslesse.

Hy hoop onder meer “dat Suid-Afrikaners mekaar almal as volwaardige, gelyke landsgenote sal beskou, ons politici eerlik sal word en korrupsie heeltemal hokgeslaan sal word, ons ’n sterk opposisie in die regering kan hê, opvoedkunde en onderwys ons grootste prioriteite sal word, en alle Suid-Afrikaners ’n huis en ’n werk sal hê”.

MEER OOR DIE KLASSIEKE CHAMELEON-TOER

Chris word deur `n span uitstekende musikante op tjello, viool, fluit, klavier, kitaar en met perkussie begelei. Sy klassieke benadering met musikale verwerkings deur Anneke Visagie sorg vir ‘n stylvolle, wêreldklas-produksie wat die gehoor meevoer tussen gevoelens van nostalgie en onmiddellike hoendervleis musiek-vreugde.

  • 6 Sept Vodacom Amfiteater, Boardwalk Casino, PE – 15:00
  • 9 & 10 Sept Sand du Plessis Teater, Bloemfontein – 20:00
  • 11 Sept Woodlands Ouditorium, NG Kerk Moreletta Park, Pretoria – 20:00
  • 12 Sept Grand Arena, Grand West Casino, Kaapstad – 20:00
  • 13 Sept Lyric Teater Gold Reef City, Johannesburg – 15:00

Kaartjies kos van R90 tot R220

Bespreek só:

Computicket 083 915 8000 or www.computicket.com
Slegs Bloemfontein – skakel 051 447 7772
Groepe van meer as 10: skakel Christa Coetzee by 011 815 3000 of 073 300 5525 of stuur e-pos na info@lefra.co.za