Eie stories

Chrisna Adendorff van Standerton, skryf:

Liefste jy

Ons eerste soen lê liefjare ver in die verlede; Jakarandatyd in die reën. Daar voor die koshuis het ek al geweet dat jy die komponis van my lewe se liefdeslied gaan wees. Elke gedeelde oomblik was ’n reënboogbelofte, elke glimlag ’n bedekte seën. Jy het jouself saggies op my menswees se bank kom tuismaak, jou oë se liefdeslig het my hart gewen. Met Two less lonely people in the World as eerste Kersgeskenk, het jy spore getrap wat nou nog op die strand van my lewe lê.

Toe een aand met die maan blink op die see se rug het jy my gevra om die volgende kosmosseisoen jou vrou te word. My beker was tot oorlopens toe vol. My hart was joune en jou hele lyf met growwe hande en al was myne – die troebadoer van my wese. Die maande het jare geword en jou soene is nog net so lekker soos die beste sjokolade in die land.

Jy het my onbeskaamd geleer om weer te droom toe ek iewers langs die pad ’n bietjie vergeet het. Jou lyf se taal verstaan ek, die stoutblink in jou oë lief ek. Jou armholte is my veilige hawe, die warmte van jou menswees die donskombers om my bestaan. Jy het my geleer om weer in myself te glo, om verder as die horison van my vrese te kyk. Hoe lekker was die legkaartbou tot diep in die nag en die saamlag as ons foute maak.

Dankie vir my droom, dankie vir jouself.

Elke tree in Jerusalem was heilig: saamhuil by die muur, uitkyk oor die stad se liggies, snorkel in die Rooisee en drywend verspot in die Dooie See. Getsemané en Golgota, Nagmaal in die tuin. Dis daar waar God Sy liefde oor ons bestaan kom skryf het. ’n Liefdesbrief vir elkeen wat glo in die liefde wat nooit sal vergaan nie. Die nougat en roomys was smeltlekker op die tong, die jogurt met dadelheuning, romerig soet en verleidelik. Dis alles in kleurprente in my kamer van onthou weggebêre.

Een plus een is toe gelyk aan drie. Ons seun is gebore; nog ’n vers in ons liefdeslied. Sy ogies, wakker groen soos sy pappa sin, sy handjies altyd besig, nes joune is. Uitbundig leer hy rol, kruip en loop. Later kom visvang en vlieër vlieg, met ’n hamer kap en swem. Julle speel saam soos kinders op die sand, skulpe in die een hand en liefde in die ander. Jou arms sterk en vertroostend om my lyf, sy armpies liefdevol om my nek met handjies wat gesiggies bring.

Jou siekword was ’n smeltoond wat my liefde vir jou gesuiwer het. Skielik moes ek alles self doen. Jou hande kon nie liefhê nie -  jou gemoed was te vol van moeg wees en sukkel om te loop. Ek het jou teen mense se verkeerde woorde op die verkeerde tyd probeer beskerm. In alleenheid het ek gaan huil waar jy nie kon sien nie. Jou swaarkry was my swaarkry.Ek het geleer dat die liefde geduldig is. God se liefde vir my was groot, ná baie maande kon ons drie weer in die Drakensberge gaan stap – met geloof, hoop en liefde. Die grootste hiervan is die liefde.

Mooi is die jare se laglynjies om jou oë, daardie oë wat dieper as diep in my menswees inkyk. Die grys flertse in jou hare vertel van ’n lewe wat al goed geleef is. Die jare het jou nie ouer gemaak nie, net beter en mooier. Ons saamloop maak my lewe die moeite werd. Elke nuwe reël wat jy in ons liefdeslied inskryf, bring tevredenheid. Elke gebed saam met jou is ’n vaandel op my berg van glo. Jou liefde maak my vry om net te wees. Ek hoef nie ’n masker van liefde te dra nie; ek is rêrig halsoorkop nog verlief, nee, sommer baie lief vir jou.

Jou lief