Eie stories

Cindy se heelword-plek

Soms, as dit skemer word oor die lowergroen van die KwaZulu-Natalse Middellande, sit Cindy Nell Roberts op die plaasstoep en kyk na ‘n uil wat homself gemaklik in ‘n boom daar naby genestel het. Só sal hulle vir mekaar staar – ure aaneen, voel dit vir haar.Dan is dit asof alles in haar afskakel.
Hier, op haar en haar man, Clive, se plaas by Nottingham Road, het haar lyf eens gesond geword en haar siel heel.
“Ek het eenkeer vir Clive gesê ek dink as God aarde toe kom om te peins oor groot besluite gaan hy nie Sandton toe nie.Hy kom hiernatoe, waar die kabbel-klanke van die Mooirivier jou in die oggend wakker maak en die wit lelies, my gunsteling, oral wild groei.” Die kere dat Cindy daar kom, leef sy in haar blou reënstewels met wit polkakolle. (Sy’t selfs daarin getrou, in ‘n lodge ‘n entjie van hul plaas af.)
Dan gaan koop sy vars brood by die plaaslike bakkery of stap ‘n ent in die oopte van 20 hektaar wat lyk asof jy in ‘n sprokie verdwaal het.
“Dis lekker dat jy hier nog melk in ‘n kannetjie kry en konfyt kan koop wat ure op iemand in die omgewing se stoofplaat geprut het.” Saans maak sy en Clive hulself gemaklik voor die kaggel, met ‘n glas rooiwyn en ‘n goeie boek.
Die stilte is welkom, veral omdat sy as sakevrou en aanbieder baie bedrywig is. Sy’s sedert 1 Junie mede-aanbieder van Woza Lunchtime,’nTV-program wat daagliks tot aan die einde van die Wêreldbeker-sokkertoernooi op SuperSport 3 (DStv-kanaal 203) uitgesaai word.Die program gee jou ‘n kykie in die glans van die sokkerwêreld – die mode, leefwyse en die vroue van sokkerspelers. Cindy se eerste herinnering van die plaas is toe Clive, destyds nog net ‘n vriend, sowat vier jaar gelede vir haar die houthuis se sleutel gegee en gesê het: “Gaan rus.” Cindy se verhouding met die Protea-krieketspeler Jacques Kallis was pas verby en die media het haar gek gemaak met vrae.

“Ek was op die rand van ‘n senuineenstorting. Ek wou alleen wees. Ek het my tasse gepak en rus vir my siel gaan kry.” Sy’t ook op die plaas herstel ná ‘n kakebeen-operasie. Later het sy en Clive,’n sakeman, hier verlief geraak, weg van die media. Hul jack russells, Jackie en Indi, en dobermann, Laya, gaan altyd saam plaas toe,maar twee maande gelede het Cindy alleen vir ‘n week gegaan om aan die oorblywende 40 000 woorde van haar boek, met die voorlopige titel Cindy Nell’s Model and Pageant Handbook, te gaan skryf.Dié boek oor die A-Z van die modelbedryf behoort teen November op die rak te wees. Cindy erken die glanslewe is soms oorweldigend, want daar word heeltyd gefokus op watter kar jy ry of hoeveel geld jy het. “Op die plaas maak niks hiervan saak nie.Daar voel dit oukei om net te wéés.”


Saam met haar man, Clive