Eie stories

Claudette Bothma van Port Elizabeth, skryf:

My liefste Hoenertjie,

Engel, ek sit nou by die werk en dink aan jou.  As ek dink hoe ons net met mekaar “gebeur” het … eintlik lagwekkend.

Kan jy onthou hoe ek gehardloop het in die begin, want jy was dan alles wat ek níé in ’n man wou gehad het nie. Rof (so het ek gedink en ook ’n paar keer vir jou vertel). Maar jy was soveel slimmer as ek, en het eers my seun se hart gesteel. Tóé moes ek al die gevaarklokkies hoor lui het.

Engel, dankie dat jy nie opgegee het elke keer as ek ’n verskoning gehad het nie. Jy’t maar net aangehou, want hoe anders sou ek dan die wonderlike mens wat jy is, ontdek het? Dankie dat ek in die aand in die bed kan lê en jou asem in my nek voel, en dan ’n hemelse vreugde het van weet dat ek by die “huis” is.  Engel, ons het albei foute gemaak in die lewe, maar “thank you for making me believe in love again”.

Jy weet dit nie eens nie, maar wanneer jy in die nag omrol om jou arm om my te sit en my saggies vertel hoe lief jy my het, dan dank ek die liewe Vader dat hy jou op my pad gestuur het.

Hmf, kan nie glo dat hierdie rowwe “macho”-man eintlik die kleinste hartjie het nie.  Elke dag saam met jou is so spesiaal, ook die tye wat ons partykeer voel of ons, ons hare wil uittrek. Maar die beste daarvan is dat ons sit en dit uitpraat.  Dankie dat die seuns weet dat jy my liefhet en dat jy elke dag vir my vertel hoe “sexy” ek is (ha-ha, al is ek nogal rond)!

Dankie, Engel, dat ek weet dat jy altyd daar is vir my en die seuns. Ek’t jou baie lief en kan nie wag om die res van ons lewe saam deur te bring nie.

Jou Bokkie