Eie stories

Coleste Ronald van Pinegowrie, skryf:

Liefste Kaptein,

Vanoggend toe ek wakker word, het ek nie soos gewoonlik net opgestaan nie. Nee, vanoggend, seker die eerste keer in baie, baie jare, het ek na jou toe gedraai. Tussen ons was daar ’n yslike groot koue spasie in die bed. Ek het nader aan jou geskuif, totdat ek styf teen jou gelê het. Met my elmboog op die kussing en my hand teen my kop, het ek na jou gestaar.

Vir die eerste keer in jare het ek gevoel hoe die bloed vinniger deur my hart pomp. Daar was jy. So rustig soos altyd. So pragtig met jou stoppelbaard. Ek vryf my ken teen jou baard. Dit kielie my maag. Onthou jy hoe jy my altyd gekielie het met jou harde baard en ek gelag het totdat ek nie kon asem kry nie? Ek het jou saggies op jou wang gesoen. Jy het geglimlag in jou slaap.

Kaptein, weet jy wat – jy het geen idee dat jy die held in my lewensverhaal is nie. Ek het met my vinger saggies oor die lyne op jou gesig gevee. Jou eens welige bos hare het dun geword en jou pragtige pikswart hare het grys geword. Kaptein, waar was ek in die somer van ons lewe? Ek was so besig om kinders groot te maak en ’n loopbaan uit te kerf vir myself, dat ek in die mallemeule van my eie bestaan jou iewers langs die pad vergeet het.

Geduldig het jy op die reserwebank van ons verhouding gesit, terwyl ek al my liefde vir die kinders en al my energie vir my loopbaan gegee het. Waar was ek Kaptein, toe ek veronderstel was om jou spesiaal te laat voel? Om jou te laat voel soos jy altyd vir my laat voel het. Geduldig was jy toe ek te moeg was om jou nag te soen, te besig was om jou vas te druk, te oorwerk was om uit te vind hoe jou dag was, te verstrooid was om tyd vir jou te maak. Geduldig het jy gesit en wag vir eendag.

Soos ’n getroue Egiptiese eendman, wat nooit sy lewensmaat verlaat nie, só het jy by my gebly en my nooit verlaat nie. Toe niemand my verstaan het nie, het jy my taal gepraat. Toe nageboortelike depressie swaar donker skadu’s oor my siel gegooi het, was jy daar om my te help om in elke dag ’n sontraal te vind. Jou liefde en ondersteuning was my krag terwyl ek my lewe stuk vir stuk herbou het.

Toe die lewe rotse so groot soos berge oor my pad gerol het, het jy met jou arm styf om my, saam met my daaroor geklim. As ek moeg was vir die lewe, het jy my siel gewas. As die lewe soos Tafelberg voor my gestaan het, het jy vir my ’n tou gegooi en my opgetrek.

Jy is en was nog altyd my held.  In my donkerste dae was jy die vlam wat aanhou brand het. Jy was die lig wat my uit die donkerste gange van die lewe gelei het. Jou hand was nooit ver van myne nie en jou hart en liefde was onvoorwaardelik daar. Jy was maar net altyd daar. Vir drie-en-twintig jaar was jy die getroue Egiptiese eendman. Dae wat ek so lelik gevoel, het jy my laat glo ek’s mooi. Dae wanneer ek so vet gevoel het, het jy my oortuig ek’s maer.

Weet jy wat Kaptein, jou “eendag” het gekom in vandág. Die kinders is groot. Ons lewe, net ek en jy, begin vandag.  Saam met jou wil ek die sonstrale van die laatsomer opeis en ons eie maak. Vandag vat ek jou hand in myne en ek los dit nooit. Dis nou jou tyd, my geliefde man. Jou Egiptiese eendvrou is uiteindelik reg net vir jou. Hand aan hand sal ons saam die laatsomer uitstap, die herfs van ons lewens instap en die winterdae van ons lewens trotseer.

Ek basuin dit uit aan die heuwels, ek skryf dit teen die blou hemelruim, ek skreeu dit uit aan die wêreld: “Kaptein, ek is so bitter lief vir jou”. En eendag as dit tyd is vir die doodsengel om een van ons te kom haal, vergewe my Kaptein, as ek jou vooruit gaan. Ek kan nie en ek wil nie sonder jou leef nie. 

Ek gee jou my hart, my siel, my liefde vir altyd.

Jou geliefde Egiptiese eendvrou