Eie stories

“Daar’s lewe ná my egskeiding” – 3 vroue vertel


Toe Amanda Cliengen (51) vier jaar gelede midde-in ‘n egskeiding was, het sy haar kuns-en-koffiewinkeltjie in Limpopo verkoop waar sy vroue se lewe verryk het deur pottebakkersklasse.Toe het sy stukkend en nikswerd gevoel en dit het na ál uitweg gelyk.

Vandag blom sy: Sy maak binnekort weer ‘n plekkie oop op Albertinia in die Suid-Kaap, haar “geroeste”- sink-skilderye het al huis gekry in Frankryk, en sy word gereeld gekeur vir uitstallings en markte, sy werk aan kinderboek-illustrasies, en weet nou: “Daar is soveel meer in my as wat ek ooit besef het.”

HELING MET TYD

“Om sonder selfvertroue te voel ná ‘n egskeiding is normaal. Jy voel jy het misluk, en daar is altyd mense wat jou verkwalik of beskinder. Ek glo daaraan om nie terug te kyk nie, want ek het myself nou bevry van negatiwiteit.

In my huwelik was my siel aan die doodgaan, maar daar was nie nét slegte tye nie, daar was ook goeies. Bitterheid, beskuldigings, verwyte, wisselende emosies . . . jy kom net daaroor met algehele vergifnis teenoor jouself, jou man en God. Jy moet stil word en diep selfondersoek doen. Dit bring heling met tyd.”

ENGELE OP JOU PAD

“Ek is in die algemeen ‘n optimis. Dit help nie om op ‘n hoop te sit nie, want môre is die probleem nog daar. Hanteer dit. My een dogtertjie is op twee jaar oorlede aan ‘n rare siekte. Ek het self twee hartoperasies gehad – en ná die eerste ‘n groot tenniskampioenskap gewen! Enige trauma kan oorwin word – ek kan getuig daarvan.

“Ná my egskeiding het ek vir twee jaar elke dag oefeninge gedoen, myself nie oopgestel vir verhoudings nie, hard gewerk by my skoonseun se gastehuis in Muizenberg,my tot my kuns gewend, met positiewe mense omgegaan en negatiewes uitgesny. Ek het klaarheid gevind by my Meester.

“En daar was engele op my pad – goeie vriendinne wat goud werd is, soos Dalene des Fontaine, al 33 jaar dáár vir my. Ek het twee pragtige dogters, oulike skoonseuns en drie lieflike kleindogters.”

‘N BETER MENS

“Waar ek nou is, kan ek my ten volle uitleef, en ek is ook ouer, ek hou van myself, ek is bevry – dan kán jy jou kuns uitleef en andere sien dit in jou. Ek het gebid en gewag vir die dag dat ek weer ‘n plekkie kan oopmaak (ek het geduld geleer!). By Artist Cafe wil ek vroue wys hoe om heel te word deur denke, oefening, dans (sommer soos jy wil), skilder en klei.

“Ek sal beslis weer ‘n verhouding wil hê.Maar dit was belangrik om eers op my eie te wees. Jy moet jouself eerste liefhê en met jouself kan klaarkom, en jy moet jouself oral heen vat. As jy nie heel is nie, kan geen verhouding werk nie. Ek het myself (en my foute) beter leer ken. Ek werk nog steeds daaraan om ‘n beter mens te wees, maar jy moet bereid wees om selfondersoek te doen.”

WAT EK GELEER HET

  • Gee die eerste tree om weer te leef. Begin net. Niemand gaan dit vir jou doen nie.
  • Al raak ek een mens aan of leer een mens iets, dan is ek gelukkig. Ek wil ‘n verskil maak.
  • Kinders ly die swaarste tydens ‘n egskeiding: Moenie hulle vergiftig teenoor die ander party nie.
  • Jy leer jou vriende ken met laag- en hoogwater. Klou aan dié wat by jou staan soos ‘n Chappie aan ‘n wolkombers. Verwelkom ook nuwes in jou binnekring.
  • Ek glo nog aan verhoudings – ‘n mens kan meer as een keer iemand bemin. Albei moet werk daaraan en daar moet respek, liefde, geloof en vertroue wees.
  • Gaan slaap met vergifnis in jou siel en seën andere op hul pad. Staan op met dankbaarheid.
  • Glo aan en wees lief vir jouself. Jy is uniek. Niemand het die reg om jou te laat glo dat jy niks werd is nie.