Eie stories

Dankie, Pa!

Op reis deur Afrika

Desember 2007/Januarie 2008. Die Buhrmann-gesin is ná hul vakansie op pad terug  Gauteng toe. Die algemene versugting is: Hoekom moet ons teruggaan? Hoekom kan ons nie net aanhou toer nie? Hulle sal Afrika deurkruis, het hulle besluit. Drie weke later kry pa Hein ’n werkaanbod uit die Kaap. “Ons wou nog altyd in die Kaap woon. Ons het besluit: eers Afrika, dan die nuwe werk,” sê hy.

 
Die Gesin
Hein en Vonny en die kinders, Emmé (toe 16 en in graad 10), Mardi (15 en in graad 9), Vonny (10 en in graad 4) en Rudolph (8 en in graad 2).

Die plan
“Ons sou drie maande lank noordwaarts toer. Deur Botswana, Zambië, Malawi, Mosambiek, Tanzanië, Kenia. Oorbly waar ons wil, so lank ons wil. Die doel was om  meer tyd saam met die kinders deur te bring. Daar is eenvoudig nie in die daaglikse lewe plek vir dié soort gehaltetyd nie. Sommige mense het gevra wat wil ons so lank saam met die kinders maak? Ander het heeltemal verstaan.”

Struikelblokke
“Wie kan nou maande lank by jou werk afvat? Maar dis uitgesorteer toe ek van werk verander het. (Hein is in die IT-bedryf.) Ons het die kinders by hul nuwe skole in die
Paarl ingeskryf en hul skoolwerk vooruit gekry. Vonny was voorheen ’n wiskunde-onderwyseres (sy lê nou tuine uit) en onder haar wakende oog het hulle met dié vak
en wetenskap bygehou. In Botswana het sy en die dogters onder ’n boom gesit en skoolwerk doen, toe stap ’n olifant 20 m verder verby hulle!”

Moontlike irritasies
“Ses mense 24/7 bymekaar – en boonop lang tye saam in die Land Cruiser se klein ruimte. Daar is tye dat julle voel dis net te veel. Ons het nie luuks gereis nie. Daar was
twee tente op die voertuig se dak. Elkeen het ’n kratjie met sy/haar persoonlike goed gehad. Ons het langs die pad kos gekoop. Aan die kus het ons baie vis en kreef geëet. In die binneland was dit aartappels, uie en soms blikkieskos. Ons was weke lank sonder vleis en vars brood. Saans moes ons kamp opslaan, kosmaak, klere was. Daar was tye dat ons moeg, sweterig en dors was.”

Naelbyt-oomblik
“Toe ons ryding met net drie klein bootjies oor die rivier tussen Tanzanië en Mosambiek gekarwei is. Ek was bekommerd – vir die kinders was dit net deel van die avontuur. Of toe ’n omgekrapte olifant in Botswana vyf tree voor ons tent rondgetrap het.”

Voordele
“Ons was sorgeloos as gesin saam, sonder verantwoordelikhede, werk en skool. Dit was soos om in ’n ander wêreld te leef. Ons het mekaar op ’n nuwe manier ervaar en leer ken. ’n Vriend sê tereg ons sal die rente op dié belegging eers later kry. Want dis ’n gedeelde ervaring waaruit ons in die toekoms sal kan put. In dié spesiale tyd saam is allerhande staaltjies, grappies, sêgoed en byname gebore. “Die kinders se horisonne is verbreed. Hulle kon sien hoe ander kultuurgroepe leef en ander tale hoor. In Afrika kry 95% van
die mense swaar. Die kinders het ’n nuwe perspektief op die lewe gekry. Hulle het bewus geraak van die natuur. Rudolph bid nou elke aand die wêreld se diere en bome moet tog nie alles uitgeroei word nie. Ons het ook reisigers uit ander lande teëgekom. Maar ons was die enigstes met kinders.”

Wat ek nou weet

Daar was lank gelede ’n advertensie: “Jy kan vir die res van jou lewe bly soos jy is of jy kan wegbreek . . .” dit is geskiet teen ’n eksotiese agtergrond. As jy iets soos dié wil doen, moet jy dit laat gebeur. Kinders kan sonder ’n TV, fliek en winkelsentrums klaarkom. Toe ons halfpad deur die tog in Nairobi ’n winkelsentrum met ’n pizza-plek en fliek kry, was dit asof hulle dit die heel eerste keer ervaar.

 

Pa dra die voorskoot

Dis laatmiddag en die aroma van oondgeroosterde tamaties in olyfolie hang in die Rademeyer-huis in Pretoria. As Ma netnou huis toe kom, kry sy ’n ere-ontvangs. Pa Deon wag haar in met ’n glasie sjampanje en hul twee dogtertjies bons om hul voete rond. Deon en Andrea het twee jaar gelede besef hulle hardloop te veel rond. Die 5-jarige Anoushka (nou 7) het haar misnoeë uitgespreek: “Hoekom praat julle altyd net oor werk? Hoekom sién ek julle nooit?” Deon het uit sy werk bedank. Andrea is die stigter van Ask Afrika, ’n Pretoriase maatskappy wat marknavorsing doen. Deon was destyds die hoof- finansiële bestuurder daar. Hy bestuur nou hul eiendomsportefeulje en die kinders se versorging rus op sy skouers.

Die uitdagings
“Van die raadsaal na bottels maak en doeke omruil: Alexandra, ons jongste, was net 2. Ek was gewoond aan uitdagings en intellektuele stimulering. Nou is ek uitgelewer aan die kinders se roetine. My tyd moet fyn beplan word: Sekere take kan jy net soggens doen. Smiddae onderbreek hulle my aanmekaar. (Anoushka is in graad 2 en Alexandra soggens by ’n speelgroepie.) “Die grootste kopskuif wat ek moes maak, is dat jy heeldag besig is sonder om saans iets konkreets daarvan te sien. Anders as in die werkplek moet jy fyn kyk vir positiewe terugvoer. Soos die eerste keer toe Anoushka onderwater geswem het: Toe sy deur die water na die oppervlak breek, het haar ogies vas in myne gekyk. ‘Het jy gesien, Daddy?’ ’n Emosionele band word só gevorm. “Jy pas nie meer in by mense se geykte idee oor manlike en vroulike rolle nie. Van jou ou vriendskappe werk skielik nie meer nie – en dit was moeilik om nuwes te maak. “My stokperdjie vul dié gaping: Ek het vier Ducati-motorfietse, unieke versamelstukke, en behoort aan ’n klub. Ons gaan bv. die komende naweek Mpumalanga toe. Andrea kyk dan na die kinders. “Ja, die kinderpartytjies wen my! En ek verlang na my hoëprofielpos. Maar die tyd gaan kom dat die kinders groter is en ek weer beroepsbevrediging kan najaag.”

Bonusse

“Ons kinders is meer standvastig, het meer selfvertroue en is baie gelukkiger. Hulle deel so graag liefde uit, jy moet net daar wees om dit te ontvang.Hulle het elke dag honderde versoeke. Kom ons swem, speel tennis, vang ’n haas! (Hulle boer met hasies,’n manier om hulle van besigheid te leer.) Dis baie bevredigend om alles net so te los en aandag aan hulle te gee. Sonder Andrea se waardering sou dit egter moeilik gewees het om vol te hou. “Ek kan nie die kinders se emosionele behoefte aan hul ma vervul nie. Maar omdat ek die tradisioneel vroulike take van haar skouers af neem, het sy meer tyd om gehalte-aandag aan hulle te gee.”

Wat ek nou weet

Tamaties sonder skil smaak lekkerder in pasta. Dankie, Youtube! Ek kon daar alles leer, van hoe om ’n eier te kook tot die beste manier om eiervrug gaar te maak. ek werk net met vars vrugte en groente, g’n voorafbereide kos nie. Smiddae kry die kinders hul gunstelinge, soos pannekoek of macaroni-en-kaas. saans maak ek ’n ordentlike bord kos.
Moenie kinders te veel riglyne met hul skoolwerk gee nie. gun hulle die ruimte om self te leer. Doen wat vir jou gesin werk en moenie omgee wat ander dink nie. Suid-afrikaners se idees oor wat ’n man en vrou se rol nou eintlik behoort te wees kom uit die ark

Pa is ook Ma

Sias Bester is man-alleen met sy twee dogtertjies in ’n vrouewinkel se onderklere-afdeling. ’n Vreemde vrou staar hulle aan en draai al om hulle. toe laat sy hoor: “Dit gebeur maar min dat ’n pa die kinders se kleertjies koop.” wat doen ’n man nou? Sias, ’n ingenieur by ’n telekommunikasie-maatskappy, trek sy skouers op. Susan, sy vrou, is elf
jaar gelede met sooibrand dokter toe. Die diagnose: kanker. Sy is twee maande gegee om te leef. sy is uiteindelik twee jaar later dood. Sias het alleen agtergebly met Mari (toe 12) en Jani (toe 9).

 
Die draaipunt
“Desember, tien maande ná haar dood. Ons het teruggekom van vakansie af, die huishulp het besluit om te loop en Mari moes hoërskool toe gaan. Ek het skielik só hulpeloos gevoel. Soos ’n weggooi-babatjie. Daardie dag het ek geleer wat dit beteken om ’n lewende verhouding met die Here te hê. Dit sou my daarna van dag tot dag dra. “Ek het gou geleer een mens kan nie alles doen nie. Die huishulp het bv. gekook en ek het volstaan met ’n vinnige nagereg as Ouma en Oupa Sondagmiddag kom eet. “Ek het knope aangewerk en some ingesit. Jy hoor vanaand ’n hokkierok moet korter gemaak word vir ’n wedstryd môre. Kinders onthou sulke goed mos op die nippertjie. Gelukkig het ek grootgeword met ’n ma wat naaldwerk gedoen het. Ek het van kleins af gesien hoe word dit gedoen. Maar ek kon nooit die spanning van ’n naaimasjien se gare regkry nie. Om grimering aan te sit is eweneens ’n raaisel. Ek kon my dogters regtig nie met daai een help nie!”

Bonusse
“Dit was swaar, maar die omstandighede het ons nader aan mekaar gedwing. Ons kon nog altyd saam lag en grappies maak. Ons moes mekaar help. Ek en Jani het selfs met ’n tandem-fiets gery. Ons het twee Argus-fietstoere daarmee voltooi. Ons het op 4×4-togte gegaan, in die veld geslaap, tente opgeslaan, kos gemaak. “Ek is gedwing om meer by hulle betrokke te wees. Ek was dikwels die enigste pa by kunswedstryde en revues. Maar mense het my omstandighede geken en my in hul groepie ingetrek. Net by die Spaanse
dansklas kon ek nie hond haaraf maak nie. Die ma’s het my net op en af gekyk.”

Tyd om aan te beweeg

“Die kinders het voorheen al my tyd en aandag nodig gehad. Daar was nie plek vir ’n ander vrou nie. Nou is hulle groot: Albei is studente aan die Universiteit van  Johannesburg. Ek het Cecile ontmoet, saam met wie ek graag die res van my lewe wil deurbring.”

Wat ek nou weet

Die Here se genade is groot. Moet nooit jou huweliksmaat as vanselfsprekend aanvaar nie. ’n gesin is gemaak vir ’n ma en ’n pa. Jy kan nie ’n ma se liefde vervang nie. Jy kan haar verantwoordelikhede oorneem, maar daar bly ’n leemte. Jou grense kan skuif: Jy kan meer doen as wat jy dink.