Eie stories

Depressie – daar is hoop, sê lesers

‘My boodskap van heling’ 

Adele Frisby-Lowe het een oggend in die spieël gekyk en nie die vrou herken wat met dooie oë na haar teruggestaar het nie. Ná vier jaar se worsteling het sy besluit om die depressie-‘demoon’ eens en vir altyd dood te maak … Sy het die een wit kalmeerpilletjie ná die ander gesluk, maar haar huiswerker het haar gered toe sy vroeër as verwag van haar langnaweek teruggekeer het.

Dr. Adele Frisby-LoweVir dr. Frisby-Lowe, ’n sielkundige, was dit die keerpunt in haar lewe.

“Jul artikel was soos ’n vars bries ná ander tydskrif-artikels waarin anti-depressante as ‘nutteloos’ afgemaak word, terwyl ek, Jeanne en miljoene ander depressielyers se lewens daardeur gered is. Ek kan haar akkurate vertelling en ervarings 100% bevestig.

Depressie is nie kieskeurig nie, maar kan sy kloue in enigiemand inslaan – ook sielkundiges!

Ek werk al 12 jaar in ’n private praktyk, en op ’n dag het my boeke-kennis in my eie lewe ’n realiteit geword. Ná my selfmoordpogings het ek die lig gevind en die mediese toestand oorwin.

Ek glo ek het bly lewe om my storie te vertel. Ek het ’n boek geskryf met my gesig op die voorblad. – ek kon nie nóg ’n naamlose, gesiglose depressie-slagoffer wees nie, maar ’n oorlewende met ’n boodskap van hoop en heling.

My Journey of the Light – Victory over Depression (Corals Publishers) is in November 2007 bekend gestel. Daarin vertel ek hoe ek feitlik als wat vir my belangrik was, verloor het in die kloue van depressie. Ek vertel van my worsteling na ’n nuwe lewe, maar veral ook van die hereniging met die Almagtige Lig – my Skepper.”
Dr. Adele Frisby-Lowe, Vereeniging

‘Ek gaan als doen om my depressie slim te beheer’

Sonya Buchner-RechSonya Buchner-Rech beskryf haarself as ’n “dinamiese vrou wat die lewe met albei hande aangryp”. As wetenskaplike het sy baie geleenthede om ’n verskil te maak in die lewens van Suid-Afrikaners. Maar depressie is ’n ou vyand van haar.

“My ma was ’n major depressielyer en haar ma was ook. As kind het ek geglo as sy net haar ‘bagasie’ met iemand kon bespreek en dit aan God kon oorgee, sou als reg wees. Min het ek besef hoe goed sy dit eintlik hanteer het en watter wonderlike ma sy was as jy in ag neem dat elke dag seker ’n worsteling was.

Sy het medikasie gebruik, maar dit was onvoldoende en soms die verkeerde soort. Tog het ek haar baie jare kwalik geneem vir haar onvermoë om aan te hou soek tot iets kon help. Al wat ek gesien het, was die destruktiewe gevolge op ons as gesin.

Ek het eers later besef wat kliniese depressie is, dat oorerflikheid ’n werklikheid is en die korrekte diagnose en medikasie noodsaaklik is. Eers tóé kon ek my ma aanvaar: ’n Dinamiese vrou wat die beste vir haar gesin gedoen het met die bietjie emosionele energie wat sy gehad het.

Ek dog ek verstaan nou depressie: Stappe 1, 2, 3 – hou aan soek vir die regte dokter/medikasie, bly bid en glo in wonderwerke. Ek was seker die depressiemonster sou my nie verder raak nie. Ek is ’n toegewyde Christen en my God kan alles doen.

Toe verval ek in die eerste jaar van my huwelik in depressie. Ek moes by ’n psigiater medikasie kry. Ek kon dit nie verstaan nie, want my lewe was goed, my man wonderlik.

’n Jaar later is hy ook gediagnoseer met ’n ander soort depressie. Hy blom met sy medikasie. My blydskap en dankbaarheid hieroor is onbeskryflik.

My eie depressie is egter meer ingewikkeld. Geen medikasie het aanhou help nie. Daar was tye wanneer ek weer my ou passievolle self was, maar ek het besef die depressie is nie tydelik nie.

Vyf maande gelede was ek emosioneel uitgebrand. Dis maklik om te vergeet om na jouself te kyk en nee te sê as jy geniet wat jy doen. Ek was net twee weke tuis, was bang vir die stigma wat kleef aan tuisbly weens uitbranding en depressie.

Daar was baie goedbedoelde raad, maar dit het daartoe bygedra dat ek nie goed gevoel het oor myself nie. Ek kon nie slaap nie, ek kon aan niks dink nie, my brein was soos ’n leë dop. Ek wou nie bestaan nie, wat nog van veg teen hierdie ding en bid vir beterskap.

Dis ironies dat my ma, vir wie ek so lank veroordeel het, bedags na my kom omsien het terwyl my man gewerk het. Ek dank God vandag daarvoor. Sy het my elke dag verseker die donker sal lig en dat ek weer myself sou kon wees. Sy was my anker. Die rolle was nou omgeruil.

Dit het my lewensprioriteite in perspektief gestel. Ek het besef dat ek my dryfkrag en passie aan my geliefdes moet gee en dán aan my werk. Ek het vrede gemaak daarmee dat my brein dalk altyd hulp gaan benodig vir die regte chemikalieë.

Ek sal als doen om depressie slim te beheer. Ek sal my bes doen om eendag vir my kinders my pyn te spaar, maar as ek nie kan nie, hoop ek hulle sal my vergewe en my leer verstaan soos ek met my ma.”
Sonya Buchner-Rech, Pretoria

‘Ek dra weer grimering’


“Depressielyer” is 32 jaar oud. Sy ly al sowat 10 jaar aan die siekte. Emosionele aftakeling in haar huwelik het haar hierin laat beland.


“Die aftakeling in my huwelik was só erg dat my eie familie my nie meer herken het nie. My ma het gehuil oor haar dogter wat eens ‘pragtig en sprankelend’ was, maar nou net ’n dooie dop is. Ek is in Januarie vanjaar geskei omdat my man iemand anders ontmoet het. Dit was die regte besluit, want nou begin ek weer my ou vrolike, liefdevolle self wees.

Ek lééf vir my 4½-jarige kind, ’n bron van vreugde en die enigste ligpunt uit my huwelik. Ek maak weer my eie juweliersware, dra grimering en begin gewig verloor, want al die spanning in die huwelik het ook my gesondheid ’n knou gegee. Ek is op anti-depressante, want ek glo God het mense die kennis gegee om medikasie te maak wat depressielyers kan help.”


Depressielyer, Polokwane

 

‘Wees dankbaar jy kan nog veg’

Sharon (skuilnaam) is as kind gemolesteer. Sy moes maniere aanleer om haarself te beskerm en voor te gee sy is oukei. Niemand kon sien daar is fout nie. Haar man was die eerste om uit te vind. Sy het op ’n dag net ineengestort. Dis waar haar storie begin.


“Ek is sewe jaar gelede met ’n major depressiewe steuring gediagnoseer, asook met ’n morbiede angsaandoening (morbid panic disorder) en ’n persoonlikheidsafwyking (borderline personality). Hiervoor gebruik ek medikasie.


Ek het al ’n paar keer ’n oordosis pille geneem, want ek wou niks meer voel of hoor nie. Die seer binne-in jou is té seer en jy is té moeg om te baklei.


Ek het drie pragtige dogters (7, 9 en 11), maar as jy eers in daardie diep gat geval het, sien jy net donkerte om jou. Jy dink dit sal beter wees as jy uit die pad uit is. Ek was soms tot drie maande in die hospitaal en het skokterapie ontvang om die chemiese wanbalans in my brein vinnig te laat herstel. Soms het ek dinge gesê en gedoen wat ek glad nie kan onthou nie.


Ek kry steeds terugslae. En my gesin ly daaronder. My man sien dadelik as dit gaan gebeur. Hy’s ’n man tienduisend.


Elke dag met depressie is ’n stryd. As ek kon, sou ek daardie deel uit my liggaam gesny het. Dit veroorsaak konflik tuis, en jou kinders is bang as jy hospitaal toe gaan, want ‘wanneer kom Mamma weer huis toe?’.


My boodskap: Moenie jou gevoelens wegsteek of dink jy’s ’n swakkeling nie. Ek bars soms in trane uit, maar daarna voel ek beter. Die pad gaan nooit maklik wees nie, maar hou moed. Dít en my gesin is wat my aan die gang hou.


En wees dankbaar dat jy nog kan veg. Daar is mense wat teen kanker veg en die stryd verloor . . .


Sharon, Kaapstad

‘My hart bloei vir my kind’

“Hoopvolle ma” se dogter is in haar gr. 10-jaar met bipolêre depressie gediagnoseer. Voor dit was sy nie eens bewus van dié term nie. Depressie was vir hulle ’n vae siekte wat net met ander mense gebeur.


“Ons het eers gedink sy is lui en selfsugtig. Toe sy egter met afwykende gedrag begin, soos om haar bene en arms te sny, het ons besef daar’s fout.


Sy het baie probleme in die skool ondervind en het ook met verkeerde maats deurmekaar geraak. Sy was angstig, het sleg geslaap, swak gevaar en het gedurig met die onderwysers en koshuispersoneel gebots.

In haar gr. 11-jaar is sy in die hospitaal opgeneem en moes sy medikasie neem met gepaardgaande newe-effekte.


Sy het gewig aangesit, haar hare het uitgeval en sy was altyd moeg en geïrriteerd. Daar was geen begrip vir haar siekte by die skool nie. Sy moes die koshuis verlaat omdat haar gedrag koshuisgangers ontstel het.

Sy was agterdogtig, rebels en slordig. Dit het gelyk of sy nie haar skoolloopbaan sou kon voltooi nie. Die personeel was nie tegemoetkomend nie. Ná baie reëlings is sy toegelaat om haar eindeksamen te skryf. Sy is belet om dit in haar skooluniform af te lê.


Asof alles nie traumaties genoeg vir ons was nie, moes sy apart sit, soos ’n melaatse van ouds.

‘Uitgeworpene,’ het ek gesê, en my hart het gebloei vir haar.


Wanneer sal die samelewing besef dat depressie ’n siekte soos enige ander is? Bipolêre depressie is ongeneeslik, maar behandelbaar. Mense met epilepsie en diabetes kry begrip, maar depressielyers word gebrandmerk en verstoot.


Ons verhaal is nog geen suksesverhaal nie. Sy het haar matriek geslaag en met ’n loopbaan begin, maar is tans weer in die hospitaal.


Maar ek sien dié depressie-‘slang’ het ook ’n ander kop. Die dierbare, vriendelike en liefdevolle kind met soveel deernis vir mense wat swaarkry, vir diere en vir kindertjies. Moontlik skryf ek oor ’n paar jaar weer en het my storie ’n ander einde.”


Hoopvolle ma, Vrystaat


‘Ek lag en geniet weer die lewe’ 
Liza Meades is 35 jaar oud, getroud met ’n wonderlike man en ma van tweeseuntjies. Maar haar eersteling se geboortedag in Oktober 2003 was die begin van een van die donkerste tye in haar lewe.

“Ek kan weinig onthou van Neil-David se geboorte. In die teater het ’n donkerte my omvou. Hy is met ’n keisersnit gebore. Ek het ná die tyd in skok gegaan. Hy was pragtig en gesond, maar ek kon nie moederliefde voel nie.

Alles was vreemd, en ek baie huilerig. Ek was voorheen nooit bang vir nuwe uitdagings nie en is mal oor reis en onbekende bestemmings. Ek het nooit ’n onrealistiese, maanskyn-en-rose-siening oor dié ‘bondeltjie vreugde’ gehad nie.

Ek het geweet ma-wees is harde werk, maar niks kon my voorberei op wat vir my gewag het nie.

Die eerste aand tuis het hy goed geslaap, maar ek kon nie. Ek het hartkloppings gekry, was naar en paniekerig.

Ek het geborsvoed omdat ‘alle goeie ma’s’ dit doen. Hy was nie moeilik nie, wel asmaties, wat tot die stres bygedra het. Ek was in ’n donker gat van angs, pyn, moegheid en lusteloosheid. Ek was soos ’n zombie . . .

Liza en Fanie MeadesSoggens het ek my man, Fanie, gesmeek om my nie alleen by ‘die kind’ te los nie. Ek was vreesbevange wanneer hy wakker word. Ek wou nie eet of TV kyk nie, ek kon nie lag nie, ek wou nie meer lewe nie! Ek het die Here gesmeek om my te laat doodgaan. Deur alles het Fanie my ongelooflik ondersteun. Saans het ek die baba in sy arms gesit, kamer toe gegaan en die deur toegemaak.

Ses weke later, tydens ’n kuier by my ouers, het my ma dadelik besef daar is groot fout. Ek het gaan slaap en net voedingstye uitgekom. Die dokter het anti-depressante voorgeskryf.

Hierna het ’n stadige en pynlike herstel gevolg. Ek het ’n sielkundige gaan sien.

Neil-David is vir ’n paar uur per dag in dagsorg geplaas sodat ek net tyd vir myself kon hê. Hieroor het ek baie kritiek gekry, maar dit was broodnodig vir my en sy oorlewing.

Die sielkundige het my laat besef dis nie ek wat gefaal het nie. Dit het my lank geneem om nie meer skuldig te voel nie, om te besef ek is ’n goeie ma en lief vir my kind, al was ek in ’n donker gat.

Vandag kan ek opstaan en weer mooi voel. Ek lag en geniet die lewe, maar jy moet dit altyd monitor. Depressie kruip weg en kan jou bespring as jy nie versigtig is nie. Vir elkeen is die genesing anders. Dis net God se genade wat my gered het.

Ek het elke dag van my tweede swangerskap gebid dat die Here my sal help. Ek wou so graag die baba geniet. Maar bowenal wou ek in die lig loop en besef hoe geseënd ek is om kinders te hê. My gebede is verhoor. Steffan is nou 4 maande oud.
Liza Meades, Johannesburg