01oranje_daisy
Eie stories

Die 4 mites van geluk – kenner sê

Mite 1Ons moet van nature gelukkig wees.
Waarheid: “Die natuurlike aard van die mens is eerder om voortdurend te ontwikkel en groei en dis net uit ongemak dat ons dit regkry,” sê Bea Potgieter, kliniese sielkundige van Johannesburg.

Mite 2 - As jy nie gelukkig is nie, is daar fout met jou.
Waarheid: Prof. Ian Rothmann sê jy is dalk geneties geprogrammeer om minder plesier as ander te ervaar, maar jy kan steeds geluk vind deur by aktiwiteite betrokke te raak. Bea voeg by: “Geluk is nie ‘n eindbestemming nie. Dis ‘n reis vol verrassings en dinge wat geleer moet word.”

Mite 3 - Raak van negatiewe gevoelens ontslae en jy sal ‘n beter lewe hê.
Waarheid: Wonderlike kreatiwiteit het al uit negatiewe emosies gespruit, sê prof. Rothmann. Laat die gevoelens na vore kom en werk daardeur. Opgekropte emosies kan lei tot onder meer depressie, angs,
verslawing en eetsteurnisse. Dit maak wel sin dat jy ook positiewe emosies moet ervaar, sê hy. “Doen
daarom dinge wat vir jou lekker is. Só het jy ‘n 40% kans om jou eie geluk te beïnvloed.” Kyk ook na die groter prentjie en vra jouself af of die negatiewe ding wat gebeur het werklik nog oor ‘n jaar sal saak maak.

Mite 4 – Jy moet kan beheer wat jy dink en voel.
Waarheid: Jy kan aanleer om meer beheer oor jou gedagtes en gevoelens te hê, maar dis nie so maklik nie. Ons ís menslik. Bea sê omdat jy groei as jy jou denke en emosies ruimte en tyd gun, sal te veel beheer
groei en heling belemmer. Maar moet ook nie oor die negatiewe wroeg nie. Dit maak die hartseer
erger en beïnvloed jou vermoë om probleme op te los.

Lees in die Oktober-uitgawe van SARIE hoe gelukkig jy werklik is.