Eie stories

Die ‘ander gesig’ van kanker

“Van kleins af droom ek al groot drome. ’n Huis met ’n mooi tuin, ’n goeie werk wat ek geniet, gelukkig getroud en miskien ’n kind of twee. Dít moet alles daar wees teen die tyd dat ek 25 is, want dan’s jy mos al groot . . . en oud.

Só dink jy wanneer jy 10 is, met die wêreld oop voor jou. Jou ideale is eindeloos en jou geloof groot.

Ek sit buite op die gras en droom oor my troudag. Ek het die mooiste trourok aan, my ma help my aantrek en my boetie en my pa staan angstig buite die deur en wag dat ek my verskyning maak. Dan gaan die deur oop en dis doodstil. Hulle kyk net na my. Al wat ek hoor, is my ma se snikke hier agter my. En dan kry my broer uiteindelik die woorde uit: ‘Wow, Sus, jy lyk stunning.’ My pa kry ook sy asem terug: ‘Absoluut pragtig!’

Dis net soos dit eendag moet wees – ek ’n pragtige bruid, gelukkig saam met my gesin en die man van my drome. Hoe anders sou dit tog alles wees . . .

My drome het nooit verander nie. Waar ek nou hier sit – 31 jaar oud – is die droom van ’n huis,’n man,’n goeie werk en kinders steeds dieselfde. Al wat anders is, is ek.

Op 14 het my lewe verander. Eintlik het dit al op 12 begin. My ma is met kanker gediagnoseer. Die groot woord wat niks anders as hartseer en pyn meebring nie.

‘Alles wat altyd oop vir bespreking, ook toe sy siek was’

Nog nooit het ek van iemand gehoor wat beter word as hulle kanker het nie, en nog nooit het ek dit met iets anders as pyn geassosieer nie.

Op 12 het jy jou ma nodig, nodig om vir jou te sê als gaan oukei wees. Op 13, as alles so deurmekaar is, het jy haar nodiger, want wie gaan vir jou raad gee oor kêrels en jou liggaam se veranderinge? My ma was altyd daar vir my, en het nooit dinge weggesteek of weggepraat nie. Alles was altyd oop vir bespreking, ook toe sy siek geword het.

Sy was sterk, en het alles altyd met ’n glimlag hanteer. Toe sy die slegte nuus hoor,  was die trane net tussen haar en my pa. Vir ons het hulle dapper gesigte voorgehou. Toe die behandeling en die naarheid begin, het hulle vir ons gesê dit moet eers ’n bietjie sleg gaan voordat dit kan beter gaan.

Sy het aangehou werk solank sy kon. Sy het met ’n fiets werk toe gery, so ’n pienke met ’n mandjie voorop. Sy was tevrede met wie sy was en met wie sy in Christus was. Ons moes verstaan. God het ’n plan en Hy weet wat Hy doen. Ons moenie bekommerd wees nie. Sy is nie. Sy het volle vertroue in Hom.

Ma was altyd opgewek. Toe haar hare begin uitval, was dit vir my boetie ’n groot skok. Maar sy het hom verseker dit sal weer groei. ‘Miskien sal die grys dan weg wees en dis mos ’n goeie ding. Wie wil nou op 40 soos ’n ouma lyk,’ het sy gesê. En toe die pruike moes kom, het sy sowaar grys pruike gekies!

Toe begin my gr. 8-jaar. My broer was in gr. 6, maar daar is besluit om hom ook in die koshuis te sit sodat ons naby mekaar kan wees. Dit het al hoe slegter met my ma gegaan.

Naweke was ’n stryd, want ons kon sien die pyn vererger. Behandeling is gestaak, want my ma het nie meer kans gesien daarvoor nie. In Februarie daardie jaar was sy bedlêend. Om te eet was moeilik. Later het binneaarse voeding gevolg, en een keer per week ’n bloedoortapping.

Op 14 droom tieners oor die toekoms, nie om jou ma se drip dop te hou of die dokter te bel nie. Wie dink daaraan dat jy op dié ouderdom jou ma sal moet help eet, want sy eet nie regtig nie, sy kou net omdat sy die smaak in haar mond wil hê, maar sy sluk niks. Hoeveel tieners hoor wat jou ma alles van jóú wil hê, en wat jy haar moet belowe om te doen voordat jý eendag doodgaan?

My klasmaats het aan kêrels, rugby, netbal, huiswerk en kattekwaad gedink, en waar hulle die naweek sou gaan kuier. Ek het natuurlik saamgepraat, maar naweke was ek in ’n ander wêreld. Een met mense oral om my, ’n ma in pyn en ’n huis wat ruik na medisyne en siekte.

Die laaste drie maande was vir my die swaarste. My ma was altyd in pyn, maar nooit hartseer of swartgallig nie. Sy het steeds ander mense bemoedig.

Menigmaal wanneer ons op ’n Vrydagmiddag by die huis gekom het, was die vrouediens van die swart gemeente daar om vir haar te sing en te bid. Daar was altyd ’n toeloop van mense wat haar wou bemoedig, maar op die ou einde het húlle versterk weggestap.

Sy het ons twee keer ’n maand in die middel van die nag wakker gemaak om tot siens te sê, en elke keer het sy die oggend gehaal. Sy het haar begrafnis haarfyn beplan.

Sy het my en my boetie voorberei op wat voorlê – hartseer, veranderings, dalk ’n nuwe ma, en ’n nuwe lewe. Ons moes onthou om altyd aan God en aan onsself getrou te wees.

Sy moes geweet het ek gaan nie ’n maklike mens wees nie, want ek is ’n paar dinge voorgeskryf: ‘Moenie ’n nuwe vrou se gal werk nie! Reis, gaan sien die wêreld voor jy trou. Gaan staan op die Eiffel-toring en dink aan my, ek wou dit nog so graag sien.’

Die lys was lank, want daar was altyd nog iets. Maar daar was altyd ’n glimlag by.

‘Kanker is nie die einde van jou wêreld nie, negatiwiteit is … ‘

Nou, 16 jaar later, voel dit soms nog soos gister. Ons is groot, elkeen het sy eie lewe. Ons het ’n nuwe ma gekry, ’n wonderlike ma wat my moeilike tienerjare met liefde hanteer het. My ma moes ’n boodskap van Bo gekry het oor wie ons nuwe ma sou wees, want sy het geweet alles sal ten goede gebeur.

Kanker affekteer baie mense. Dit voel soms of almal wat jy ken kanker het, of elke tweede persoon daaraan sterf. En tog, belowe die medici, is daar groot vooruitgang in die behandeling daarvan.

Kanker kan oorwin word, maar is daar ’n pil vir emosionele genesing? Ek dink terug aan een van my moeilikste tienerjare. ’n Jaar lank was dit net hospitale, siekte, pyn en ongelukkigheid. Hoewel daar in ons huis altyd dapper gesigte was, was my binneste altyd seer.

Maar ek is bly dat ek baie van haar wense vir mý lewe kon bewaarheid. Ek is ook dankbaar vir my pa wat ons verder kon lei en ondersteun.

Ek dink as my lewe anders was, sou ek nie die waagmoed gehad het om oorsee te gaan nie, sou ek dalk op 19 getrou het, of op 23 toe iemand my gevra het. Maar vir my is vandág belangrik. Ek wil soveel moontlik doen en sien terwyl ek kan.

Kanker kan jou óf onderkry óf jou sterker maak. Net jy kan hieroor besluit. As die groot K aan jou deur kom klop en jy gaan sit vol selfbejammering, doen jy jouself ’n groot onreg aan. Besluit eerder om op te kyk na die Een wat belowe om jou nooit alleen te laat nie. Dán kan jy ander mense inspireer.

Dink aan ons ma’s wat steeds hul huishoudings onderhou ondanks die skadu oor hul lewe, aan ons pa’s wat steeds vir hul gesinne sorg al gaan dit swaar, en aan ’n kind wat ondanks chemoterapie steeds speel en lag.

Kanker is nie die einde van jou wêreld en drome nie – negatiwiteit is.”