op_hul_wittebrood_by_die_see
Eie stories

Die lang totsiens – my ma en Alzheimer’s

Toe my pa op die ouderdom van nog nie eers heeltemal 61 jaar, net na aftrede skielik aan ‘n hartaanval oorlede is, het ek gedink dis vreeslik. Dit was my gesonde, nog relatief jong pa wat net skielik weg was. Ons kon hom nie eers groet nie, maar wat ons nou beleef is honderd maal erger – dis verskriklik.

My ma, my mooie ma met die goeie smaak, met die mooiste, sagste bruin oë. Sy kon vir jou ‘n wiskundesom verduidelik dat jy dit nooit vergeet nie. Al die goed wat sy gekies het, het getuig van uitstekende smaak sonder om aanstellerig te wees. Sy het altyd vir my gesê dat sy gelees het dat ‘n mens moet nooit ‘n rok met meer as twee kleure daarin aantrek nie, dan is dit nie meer deftig nie. Vir my en my suster het sy altyd net die beste raad gegee. Sy het gesê jy moet altyd net jou beste gee in als wat jy doen. Sy was ‘n baie goeie ballroom-danser en het al die mansstudente van daardie jare leer dans.

Sy is getroud met die liefde van haar lewe, ‘n lang donker man wat van die Kaap af gekom het met die mooiste blou oë. Dit was ‘n match made in heaven. My ma was eintlik privaat verloof aan ‘n ander man wat teruggekom het van die Noorde na die oorlog maar toe sy my pa ontmoet, het sy geweet hy is die een vir haar. My ma se kinderjare was swaar, bo en behalwe dat sy in die Depressiejare groot geword het. Sy het eendag vir ‘n pennie ‘n Lucky packet gekoop en die hele dag gehuil omdat sy nie ‘n ballon daarin gekry het nie.

Maar my pa was die spreekwoordelike prins op die wit perd en het vir haar die lied Because God made you mine laat sing in die kerk by hulle troue. Ek en my ma het die fliek Steel Magnolias met Julia Roberts en Sally Field gaan sien en sy het vir my gesê dat Pappa ook vir haar daardie lied laat sing het. Hy het haar op ‘n uitgebreide wittebroodsreis, eintlik ‘n rondomtalie van al die kusdorpe, Durban, die Kaap en Port Elizabeth gevat. Die aand na die troue, op 9 November 1946, het almal hulle op die stasie kom afsien en vir hulle gewaai toe die trein vertrek terwyl dit saggies gereën het. Hoe romanties was dit nie.

Hy het haar sy hele lewe gekoester en sy vir hom. Sy het elke dag vir 30 jaar na sy dood van hom gepraat, toe sy nog gepraat het.

My ma was ‘n liefdevolle, wonderlike ma en ouma en het haar hele lewe gelewe sonder om enigiemand ooit seer te maak. Sy was haar tyd ver vooruit wat betref mense en rasseverhoudings en het almal gerespekteer, swart en wit.

En sy was baie belese, sy was ‘n boekliefhebber. Ek sal nooit die middae na skool vergeet wat sy vir ons ‘n lemoen geskil het, ‘n slab chocolate gedeel het en vir ons onder andere, stories oor die Titanic wat gesink het, gelees het nie. So daar in die son in my ma-hulle se slaapkamer. Ek het altyd in die oggende by haar gaan inkruip as ‘n klein dogtertjie en selfs later toe ek al op Universiteit was.

Maar nou praat sy nie meer nie, van die begin van hierdie jaar sal sy antwoord ja, nee of goed en net soms. As jy haar soebat en vra wie is jy, dan kan jy jouself baie gelukkig ag as sy uiteindelik jou naam uiter.

Sy herken nog haar kinders. Maar daardie mooi neutbruin oë het alle glans verloor, ek weet nie eers of sy nog behoorlik kan sien nie. En sy is net vel en been. Sy het weggekwyn en elke keer as ek daar kom, is sy nog maerder. Menswaardigheid  is daar lankal nie meer nie, haar liggaam is klaar en hulle sit ook lang kouse oor haar hande sodat sy nie haar dun vel krap dat dit bloei nie.

My pa is in 1980 al oorlede en die afgelope 18 maande het my ma 24/7 sorg nodig. Sy is bedlêend, moet gevoer word en twee-uurliks omgedraai word in die nag. Hulle moet haar optel vanaf die bed na die gemakstoel langs haar bed en weer terug na die bed.  In Desember 2009 het ek vir haar plek gekry in Princess Christian Home in New Muckleneuk, Pretoria. Dit is naby waar ek werk en bly en dit is absoluut die beste plek wat ek kon kry.

Die versorging wat sy tans kry is net die beste en hulle behandel haar met die grootste deernis. Sy word goed versorg maar sy bestaan maar net, haar lewenskwaliteit is nul. Die Here het seker ‘n doel daarmee maar wat dit is, weet ek nie. Om haar so te sien is verskriklik. Ek gaan en sal altyd nog gereeld na haar gaan, maar ek kan verstaan dat daar ander kinders is wat dit net nie kan hanteer om hul ouers so te sien nie, en dan omtrent nooit besoek aflê nie.

Die mense wat nog vir my vra hoe dit met haar gaan, soos enkele van my vriendinne en ook ‘n vriendin uit haar kinderjare, wil ek voor dankie sê vir hulle menslikheid. Maar dié wat nooit meer vra nie, vir hulle wil ek sê dat dit nie meer saak maak nie, dis oukei en ek vergewe hulle. En as my ma nog geweet het, is ek seker sy sou hulle ook vergewe het want dis soos sy is en was.

Toe my pa oorlede is, was sy nog selfstandig, sy het in ‘n suite in ‘n hotel gebly en nog haar motor bestuur. Sy het twee vriendinne in die hotel gehad, albei aansienlik ouer as sy, die een, Elwa  Engelssprekend en die ander een, Tokkie Afrikaanssprekend. Hulle het elke aand by my ma  kom tee drink, koekies eet  en televisie kyk. Elwa was bang om in die hysbak alleen te ry en my ma het dan saam met haar gery tot by haar kamer. Die ander mense het hulle The Three Musketeers  genoem. Later jare het Tokkie  by haar familie gaan bly en Elwa is later in die hospitaal oorlede. My ma se kar is ook later gesteel en sy het haar heup op 79 jaar gebreek. Sy moes noodgedwonge na ‘n aftree-oord langs die hotel in Arcadia gaan om weer te leer loop na die operasie. Maar sy het weer herstel en kon weer loop met haar “loopring” soos sy dit genoem het. Ek dink sy het daarna of miskien alreeds daarvoor ‘n klomp klein beroertes gekry want stadig maar seker het haar brein agteruitgegaan. Byvoorbeeld, sy van alle mense het soms ‘n bont bloes met groen blou en rooi daarin, en ‘n skirt met oranje, geel en bruin aangetrek! My ma, ek kon dit nie glo nie! Haar kunstande het sy later altyd iewers verlê, want hulle het haar altyd seer gemaak. My suster het haar op ‘n keer na Brooklyn Mall geneem, sy vra toe so mooitjies vir die jong meisie in Exclusive Books of die meisie nie haar tande iewers gesien het nie. My suster het gesê, dink nou net hoe Mammie hulle vervelige dag opgekikker het met so ‘n vraag!  My ma het altyd gesê sy wil soos my pa doodgaan maar dit is klaarblyklik nie vir haar beskore nie. Dit maak my seer dat sy so moet ly maar die Here het seker ‘n doel daarmee, ons weet net nie wat dit is nie, miskien omdat ons hier op aarde nog nie die volmaaktheid bereik het nie.

Ek weet nie of sy Alzheimers gekry het en of dit miskien veelvuldige beroertes (vaskulêre dementia) is nie. Hierdie is nie ‘n skielike siektetoestand nie, sy het stadig oor die jare agteruitgegaan, in die verlede het ek haar nog gereeld gaan haal, maar nou is dit te moeilik want sy is soos ‘n baba, sy kan nie eers staan of help as jy haar in die kar inhelp nie. Toe sy nog in die vorige aftree-oord gebly het, het ek haar elke aand gebel, die een aand het een van die verpleegsters geantwoord en vir haar gesê dat sy met my moet praat, sy het toe vir die een gevra wat moet sy sê.

Toe sy nog gepraat het, het sy vir my gesê dat sy voel partykeer om te huil maar dit sal nie help nie. Ek sal altyd onthou wat sy gesê het maar ek weet nie en het nie geweet hoe om haar te help nie. Wat kon ek doen. Dit sal my vir altyd bybly ….dit is seker maar die lewe. Sy het ‘n baie spesiale band met my seun gehad en het hom by WHPS, die Engelse  laerskool gaan haal op die laaste dag van die termyn as die skool vroeër gesluit het vir die vakansie en ek nog by die werk was. Sy het dan, terwyl sy vir hom wag op die bankie voor die skool met die ander Engelse oumas gesels. My ma was ook in ‘n Engelse laerskool, ‘n Convent, so sy was heeltemal tweetalig, haar Engelse uitspraak was perfek.

Maar nou kan mens nie meer ‘n gesprek met haar voer nie, dit is ‘n eensydige gesprek, ek praat en vra die vrae en sy antwoord party van hulle as ek gelukkig is. Ek wonder partykeer, sy het altyd gesê sy bid elke aand vir haar kinders en dan vir die wêreld want as dit nie goed gaan met die wêreld nie, kan dit nie goed gaan met ons nie. En sy het ook gesê dat as sy eendag dood is, sal sy nog vir ons bid in die hemel …ek wonder of sy in die posisie wat sy nou daar in die bed lê nog kan bid? Kan sy?

My ma, my beste vriendin by wie ek kon gaan kla en alles vertel – my diepste geheime kon vertel. Dit het my altyd irriteer as sy vir my sê dat ek nie my tee so warm moet drink nie of dit of dat – ek sou wat wou gee as sy net een keer weer vir my so iets kan sê.

Sy het deur al die lewensfases gegaan, haar lewensmaat is gou van haar weggevat en toe is sy alleen al het sy kinders gehad…sy was weer alleen. Sy het vir my ‘n boekie gekoop vir my verjaarsdag in die jaar van my pa se dood, geskryf deur Kobie Gouws  “En sy lag oor die dag wat kom.”  Voorin het sy geskryf – Laat ons vir mekaar doen wat ons kan, die lewe sal altyd te kort wees om vir ieder en elk goed genoeg te wees. Met baie baie liefde, Mams. Snaaks dat nou eers, na soveel jare lees ek die boekie met kortverhale oor en oor.

Hierdie is die lewende dood, die foto’s teen haar muur, die pragtige troufoto, met die mooi oë en mooiste, skitterwit tande, sy lyk soos ‘n filmster, sy as ‘n jong vrou met haar twee dogtertjies – maar dis nie meer sy wat daar in die stoel sit of in die bed lê nie. Ek hoop net dat dit waar is dat sy nie pyn het nie en…miskien onthou sy tog ook die mooie in haar lewe al kan sy dit nie sê nie.

Ek het laas jaar vir my ma gevra of dit nie lekker vir haar sal wees om my pa weer te sien in die hemel nie, sy het toe nog geantwoord en gesê dit sal baie lekker vir haar wees. Ek vra toe vir haar of sy liewer nog ‘n bietjie wil lewe. Haar antwoord…sy wil nog ‘n bietjie lewe.

So nou wag ek dat ek vir haar plek in die hemel kry wanneer dit Sy Wil is sodat sy verenig kan wees met my pa, die koning van haar hart en sy by die Here vir altyd kan wees. Sy het altyd gesê dat Jesus is ons alles. En ek glo wel dat sy in die hemel dan nog vir ons almal en die wêreld sal bid.

Maar ek gaan bly glo dat die Here nou altyd by haar is en haar eendag stil sal wegneem na  ons hemelse woning. Maar dit sal nog steeds ‘n skok wees … want dis my ma.

Volgens ‘n opsomming van ‘n verslag geskryf deur Marc Wortmann, uitvoerende direkteur van Alzheimer’s Disease International  oorskry die getal mense met dementia wêreldwyd alreeds die getal mense met HIV/VIGS.

World Alzheimer’s Day  is 21 September en hulle verslag is soos volg: Die getalle wêreldwyd is skokkend, in 1998 was daar 18 miljoen mense wat dementia gehad het, in 2001 24.2 miljoen en nou, in 2010 35.6 miljoen. Volgens skattings sal 115 miljoen mense in 2050 dementia hê.

Daar word onder andere beweer dat ‘n diet ryk aan vis, Omega-3s moontlik die risiko van dementia kan verlaag.

Daar  is ongeveer 2 miljoen mense in Suid-Afrika wat Alzheimers het.  

Geskryf deur Linda Volschenk

Foto’s: Haar troufoto, haar verlowigsfoto, foto’s van haar en my pa op hul wittebrood op ‘n riksja in Durban; hulle by die see; foto’s van haar en haar 2 dogtertjies en ‘n foto soos sy begin 2009 gelyk het.