nostalgie_chappies
Eie stories

Die lekker van onthou

Die smaak van lietsjies

“Ek is drie jaar oud. Ek kan nie oor die staldeur sien nie en Oupa tel my op: ‘Kyk, die perd wil ietsie by jou hê,’ fluister hy in my oor. Ek hou ’n vuil handjie met twee suikerklontjies na die groot dier toe uit. Die perd se tande is by my hand en ek is bang hy byt. ‘Moenie jou handjie toemaak nie, Prinses, hy sal nie byt nie,’ sê Oupa, terwyl hy oor die perd se kop streel. Die perd runnik saggies en eet versigtig die klontjies uit my hand uit. Ek ruik die warm strooi en mis in die stal …

Wat is nostalgie nou weer?

’n Hunkering na die verlede of onbereikbare geluk; sentimentele (oordrewe) herinnering aan die verlede, sê my woordeboek. Ek hou daarvan, die ‘oordrewe’-gedeelte en ook die ‘onbereikbare geluk’. (Dit klink lekker teatraal.)

Die geur en smaak van lietsjies maak my nostalgies. Ek onthou ’n bruin papiersak vol van dié vruggies. Grotes en kleintjies deurmekaar, maar almal ewe soet. Ek onthou die hobbelrige klippiesvloer van Soutrivier se mark.

Die stalletjies was almal onder ’n sinkdak soos dié van ’n ou skoolpaviljoen, plek-plek geroes. Wanneer dit gereën het, was die klank so hard dat niemand mekaar kon hoor praat nie, en, glo my, almal daar kon lekker hard praat. Die regte prys moes tog eers uitgepraat word. Die mengelmoes kleure van rye en rye vars vrugte, groente en blomme het jou laat stilstaan.

Elke verkoper was anders, geklee in lang sari’s, Moslem-jurke, kopdoeke, purdahs (gesigsklede) en party met ’n kofia.

Wanneer jy klein is, is die lewe ’n avontuur en by Soutrivier se mark het ek soos ’n prinses gevoel, met my oupa die koning. Hy was die markmeester. Soos ons gestap het, het elke stalletjiehouer vir ons iets gegee – ’n koolkop, wortels, appels, piesangs, maar die lietsjies was die hoogtepunt.

Oorkant my oupa se kantoordeur was die vismark. Die hele ingang het na vis geruik en die seemeeue het in die lug gedraai op soek na iets om te aas. Ek kon hulle die hele tyd hoor raas. Die seemeeue se klank is net soms gedemp deur die treine wat verbygery het, want die treinspoor het reg langs die mark verbygeloop.

Agter die mark was die perdestalle waar die karretjies wat die produkte karwei het, gerus het. Wanneer my oupa daar verbygeloop het, het die perde gerunnik. Hy het altyd suikerklontjies in sy sak gehad, en ek kon dit in my hand vir die perde uithou. Die groot diere met swiepende sterte en maanhare het my terselfdertyd opgewonde en bang laat voel.

Een van die perde, Sweetheart, was vir my oupa spesiaal. Dit was ook sy troetelnaam vir my ouma. Sy van was wel Sinclair, maar die Skotse bloed het lankal afgekoel en as hy “Sweetheart” gesê het, het hy dit in Afrikaans uitgespreek – swietard.

Ek dink my grootouers het in die vroeë sewentigerjare eintlik baie swaar gekry. Hulle het albei nog gewerk toe ander al begin aftree het. Maar is dit nie een van die voorregte van kindertyd-herinneringe nie? Jy onthou net hoe goed gelyk en geruik het en hoe jy gevoel het, maar die hartseer en armoede van ander mense leer jy eers later raaksien.”
Janneke Gerber, Paarl

 

Toe kinders nog kon speel

“Sjoe! Toe ek die artikel lees, vat die groot verlang na dinge wat lankal nie meer is nie, my sommer baie styf vas.

Ek verlang na Misverstand, ’n plaas buite Moorreesburg waar my pa gebore is en my ouma gewoon het tot ek 10 was. Ons het kleilat gespeel, modderkoekies gebak, en kaalvoet saam met die plaaskinders rondgehardloop.

Ek dink aan Ouma se karringmelkpoeding en tuisgebakte brood, Sondag se skaapboud en goudbruin gebraaide aartappels, werfhoenders wat skrop en kalkoene wat klein meisiekinders jaag, dieselfde meisiekind op die hooibale wat pasgebore katjies sit en vertroetel.

Ek verlang na die dae toe 10 Chappies 1c gekos het, ’n brood 10c en petrol 50c per liter.

Ek onthou ook onskuld. Meisiekinders wat popgespeel en gedroom het oor die dag wanneer húlle mammas gaan wees. Vandag het die meeste meisiekinders al op 10-jarige ouderdom ’n kêrel!

Ek onthou Desember-vakansies by die see, kampeer in ’n woonwa sonder elektrisiteit. Jy’t jou Bybel en storieboek by ’n gaslamp gelees. Koffiewater is op die gasvlam gekook. Toe kon ons tot laat saans van die een tent na die ander baljaar sonder monsters wat kinders vang.

Hoe baie het die wêreld in 20 jaar verander! Mense leef verby mekaar, en kinders weet nie meer hoe om te speel nie. Morele standaarde is besig om te verdwyn.

Wat noem hulle ons? Generasie X, dink ek. Dis nou ons wat in die 70’s en 80’s gebore is. Ons het toe nog vryheid geken. Nou word ons ingeperk deur ons eie vrese.”
Gretel van Rensburg, Saldanha

Pannekoek, koffie en braaivleis

“Nostalgie is vir my sterk gekoppel aan spys en drank. Nou nog wanneer ek Cream Soda drink, dink ek aan Sondae by my grootouers. Die plastiektafeltjie het reeds reggestaan met Tupperware-glase. En onder op die sementstoep was die rooi en groen Sparletta-gaskoeldranke in 1 liter-glasbottels. Dit was ’n grootse bederf, aangesien ons maar altyd Oros gedrink het en gaskoeldrank net vir spesiale geleenthede was. Teen die einde van die dag het ons óf ’n rooi óf ’n groen bolip gehad.

Kerkbasaars – die reuk van pannekoek, koffie, braaivleis en boeremusiek oor die luidsprekers – bring groot nostalgie. Die deurblaai van ons gesin se ou foto-albums herinner my aan my grootwordjare.

Ek dink die tagtigerjare was ’n wonderlike tyd om kind te kon wees in ons land. Ons het nie veel van politiek geweet nie. Ons het boomhuise gebou, modderkoekies gebak, Wielie-Walie, Liewe Heksie en Haasdas se nuuskas op TV gekyk, en wegkruipertjie gespeel, terwyl die grootmense om die braaivleisvuur kuier.

Een van die mees nostalgiese oomblikke wat ek onlangs ervaar het, was toe ek ná jare ’n openbare biblioteek besoek het. Die reuk was so bekend. Dit het gevoel soos ’n tuiskoms. Ons dorpsbiblioteek is deel van my lekkerste kindweesherinneringe. Ek het as kind soms tot ses boeke per week huis toe geneem.

Soms is ek hartseer omdat my kinders nooit daardie sorgeloosheid en geborgenheid sal ervaar soos wat die meeste van ons dit geken het nie.

Vandag is dit selfone, die internet, DStv en globalisering, ekstra klasse, remediëring en lewenskonsultante. Laerskoolkinders ly aan depressie, eetversteurings en ontwikkel maagsere. Die wêreld snel teen ’n ongelooflike pas voort en niemand kan vooruitgang keer nie. Daarom is dit belangrik dat elke gesin spesiale onthou-tye het sodat ons kinders oor dertig jaar nog oor die ou dae nostalgies kan raak.”
Marietjie van Straten, Wierdapark

 

... &aposn blink knopie van my fluweeljassie van 1960

‘n Hele blik vol knope

“Nostalgie is … ’n skoolkind se geruite, kruissteekskinkbordlappie wat by ’n teeparty vir grootmense gebruik word; ’n seëlringetjie, deurgesaag omdat vingertjies gegroei het; ’n eerste stukkie breiwerk, skeef en vol gaatjies; elke familielid se eerste teddiebeer, in ’n ry langs mekaar; ’n besoek aan die inry-teater en ’n piekniekmandjie gevul met Ma se tuisgemaakte vleispasteitjies; ná ’n Sondagmaal lees ons Ben en Babsie in die Sondagkoerant, met Andy Williams se strelende stem op die agtergrond; ’n geroeste blik vol ou knope en tussenin vind ek ’n blink knopie van my fluweelkinderjassie van 1960; en my seun se naam in netjiese kalligrafie in ’n  prysboekie wat hy vir sy belangstelling in tale op kleuterskool ontvang het. En nou het hy sowaar sy graad in tale!”
Theresa Smith, Rondebosch

Sakke-pakke en ’n platgetrapte pennie

“Elke keer wanneer ek Stef Kruger se ‘Pennies op die Spoor’ hoor, gaan my gedagtes baie ver terug.

Dit was die jaar 1942, midde-in die Tweede Wêreldoorlog. Ek het pas begin skoolgaan toe my pa die pos as stasiemeester op Welgedacht-stasie buite Springs gekry het. Vir my was dit die wonderlikste ses jaar van my kinderlewe. Ek het elke aand aan die slaap geraak met die klank van die treinwiele op die blink spoor – die ‘sakke-pakke’-geluid as die stoomenjin die opdraande uitgesukkel en dan triomfantelik gefluit het. Vir my het dit altyd geklink asof hy sê ‘toe, slaap nou, slaap nou’.

My broer Willie het eendag besluit om ’n pennie op die spoor te sit. Ons het in ekstase gekyk hoe die trein die muntstuk plattrap. My pa het geraas dat ons ‘die trein sal laat ontspoor’, maar ons het nie geluister nie.

Sondagmiddae het ons in die veld agter die stasie met poppe en kaskarre gespeel. Klokslag om vieruur het tant Tokkie Beytell, die vrou van my pa se voorman, ons almal geroep – al die stasiepersoneel se kinders, omtrent 10 van ons. Dan het ons om die mooi gedekte tafel in die kombuis gesit. Net daar het ek die grootste bewondering vir porselein gekry.

Sy het altyd die mooiste, fynste, geblomde koppies vir ons uitgehaal. En dan was daar die sjokoladekoek. Vier fyn lagies opmekaar met ’n ryk, donker sjokolade-versiersel wat soos ’n bruin fluweel-valletjie om jou mond gesit het.

Tot vandag, 65 jaar later, bly dié vrou my rolmodel wanneer ek tee voorsit. Ek bak nou self sjokoladekoek, nogal met Coca-Cola.

Dis lekker, maar nie so hoog gerys soos hare nie. Met elke happie sien ek die maatjies om die tafel, ervaar ek weer die opgewondenheid oor ’n platgetrapte pennie op die spoor en hoor ek in my gedagtes die trein fluit.

Dís mos nostalgie, die vreugde van die lewe.”
Priscilla Kinghorn, Port Elizabeth

  • http://bdzdprbiztck.com/ qvunbhbdj

    f9bhLd lwtmvwdsiowc, [url=http://qpwzdgtkchff.com/]qpwzdgtkchff[/url], [link=http://mujxsqnqgnvb.com/]mujxsqnqgnvb[/link], http://wpafxfntngzn.com/