000072648
Eie stories

Die reën ruik anders in Doebai

 

Daar is geen ritseling van wind oor grasvlaktes nie. Tog word ek onkant betrap toe ’n parmantige druppel tussen my tone land. Ek kyk op in die lug, ’n spieëlbeeld van sand met enkele wolke wat lui van hitte na mekaar toe beweeg. Ek mis die reuk van reën en ek mis die reuk van my land wat nat word, dink ek ingedagte. Dis asof die landskap nog tyd nodig het om die kuns van die reëndruppel se reuk aan te leer, om te leer hoe die reën die aarde moet raak … soms rustig en rakelings.  Ander kere roekeloos, maar rats.

Maar reën is ’n baba in die kontrei. Tog trek ek die effense reënreuk diep in my longe in, soos my eerste nikotien as ek van my land af terugkeer na my huis.  Hmmf, verwarrend dat ’n huis en “behoort-plek” nie eenders is nie.

Die druppels dans anders hier op die woestynsand. Die klank is dowwer en my Hoëveld-brein wag vir ’n blits. Ek vee ongeërg die hare uit my gesig en weet dat ek in die Moslem-land my voete sal vind, hoe strompelend ook al.

Die reën kondig vernuwing aan en ja, dit vang mens soms onkant en soms sonder sambreel. Ek trek weer aan my sigaret en draai in die rondte in die hoop dat ek hier my “behoortplek” kan vind. Glo my, ek smag na die reuk van reën, na dik spinasie wat ek sonder gesukkel kan groei, na klanke van my taal wat van talle tonge afrol, ek mis ’n duidelike ronde “rrrrr”. Maar die woestyn en sy stilte het al ’n bywoner in my hart geword. Die beton-oerwoud is nou wel nie my idee van ’n besienswaardigheid nie, maar darem, as ek huis toe gaan, vind ek vrede. 

Ek word gereeld gevra of ek terug sal gaan na my hartshuis. My binneste sê onomwonde ja, maar dis asof my hart my belet om so ver te dink in die vrees dat dit teleurgesteld gaan wees. Die Weskus roep my. Nog ’n paar druppels tref my en ek wonder so by myself waarom dit in elk geval in die woestyn reën. Dis asof die wolke die sand terg met ‘n “Wêpepepepê, en wat nou, hé”?  

Die reën kielie my tone en nes daai vakansies by Gordonsbaai begin die wind die sand teen my bene slaan. My ou herinneringe is so vol vreugde dat ek nie geweet het of die nuwe land soveel nuwes sal kan oplewer nie.

Tog vind ek weer vreugde in die kleiner dinge. Soos my katjiepiering wat ek uiteindelik hier in die Doebai-sand en -weer kon kry om te blom, my eerste blom in Doebai. Of die glimlag wat my mondhoeke raak as ek ’n Suid-Afrikaanse man met sy kaki-hemp en Grasshoppers in ’n winkelsentrum sien. Of as iemand onverwags in die middel van Spinneys terugpraat in my taal.  Om te sien hoe my kinders ontwikkel en volwasse word en hoe my man soveel kalmer is as voorheen bied ’n ander tipe vreugde. ’n Vreugde a.g.v die wete dat ons Suid-Afrikaners is en dat ons as Venters enige ding saam kan trotseer. 

Ek mis die Hoëveld se donderstorms. Ek mis die koue reën en die geluide daarvan op ’n sinkdak.  Ek mis die reuk van die grondpad by die dam as dit gereën het. Ek mis die waterlyn wat opstoot en die mense wat regoor die land na die sluise kom kyk. Tog ondervind ek soveel ander dinge hier wat my ook met vreugde vul.

Die reëndruppels begin nou harder neerval en ek koes-koes kar toe. Maar vir ’n oomblik of twee ruik ek die reën. Dis nie dieselfde reuk nie, maar tog, as ek oplet, ’n reuk wat ek dalk ook eendag in my land van my huis (hier) gaan mis. 

Carla Venter, Doebai

  • http://vjlvngogpegg.com/ tgezuevnpu

    xQAkIA yglrhlkcxksw, [url=http://qtfxkvqthngs.com/]qtfxkvqthngs[/url], [link=http://ypyqlmhzwvum.com/]ypyqlmhzwvum[/link], http://tmcdlmhfubtm.com/