Eie stories

Die wonders van wol

Sy is beeldskoon en slim en het boonop ’n hart vir ons planeet. Die voormalige Mej. Aarde SA Ilzé Saunders is in Februarie met haar beste vriend, Dewald Buys, getroud. Nou blog sy vir SARIE.com oor haar lewe, die lesse wat sy leer, en haar nuwe avonture.  

Hier’s haar volgende inskrywing:

Sag, snoesig en trendy!  Dis reg, ek is gek oor groot, gebreide wolkomberse – dit gee so ’n opregte en aardse gevoel. Perfek vir die winter. Ek het bietjie gaan uitvind  en met groot geluk afgekom op plaaslike verskaffers Mooo en hul kreatiewe Mooo Makers Movement!

Ek moet bieg: Ek het nog nooit ’n liefde vir brei gehad nie. Maar ek hou van mooi, innoverende en kreatiewe maniere om iets self te doen. Ek is gereeld op Pinterest opsoek na vars idees, iets wat ek sommer self kan maak en ons huis daarmee op te kikker. Dis tog so lekker om te sê: “Ek het dit self gemaak!”  

Ná ek my hart verloor het op hierdie wolkomberse, het ek dadelik aangesluit by die Mooov-revolusie en my “Knitting Kit” by Mooo bestel. Die ‘knitting kit’ bestaan uit een groot bol wol en twee groot brei naalde. Hierdie stel jou in staat om in ’n japtrap jou eie Merinowol-kombers te maak.

Op die kuberruim is daar gelukkig verskeie videos wat jou leer om te brei. Maar terwyl ek nog die bederf van ’n ouma het, het ek haar sommer gevra om my bietjie brei-wys te maak.

Ná ’n heerlike koppie tee het Ouma eers lekker gegiggel oor die groot breinaalde, maar toe ek vir haar die prentjie wys van die snoesige kombers, was sy kinderlik opgewonde om saam met my te brei.

Met die steke op, het Ouma my eers gewys hoe om te purl en binne 10 minute was ek besig om aan my nuwe kombers lewe te gee!

Jy moet in die lewe eksperimenteer! Ek glo daar kruip kreatiwiteit in almal weg, dit wag net om los gelaat te word. Daarom moedig ek jou aan om kreatief te wees en iets vir jouself te maak. Nie net is dit terapeuties en lekker nie, maar jy eindig op met die grootste gevoel van waardering en self-trots.

Ons almal is skeppers en al wat ons moet doen is om te begin. Daag jouself uit om nuwe dinge te leer en skep iets waarvan jy hou! Dis immers waaroor dit gaan.

Het jy geweet?

  • As jy lief is vir die omgewing, gebruik meer wol. 
  • Suiwer wol is hernubaar en volhoubaar. 
  • Wol is antibakteries en ’n goeie opsie vir hitteregulering.

Wees skeppers, dames. Tot volgende week – Wees bevonk!

Ilzé Saunders