Eie stories

Leser vertel: ‘Dieet laat my in beheer voel’

 

Dit voel deesdae asof jou lewe in ‘n warboel ontaard het. Jou werk stel elke jaar groter eise. Jy moet langer ure op kantoor wees om voor te bly. Saans maak jy kos en help die kinders met hul huiswerk. Jy moet behoorlik skarrel om alleentyd vir jou en jou man te maak. En naweke is daar verpligtinge teenoor vriende, familie, skool en kerk.

Maar, so voel dit vir jou, daar is tog één aspek waar jy die leisels vashou: jou eetgewoontes. Net jý kan kies wat jy in jou mond sit. Genadiglik ly jy nie aan ‘n eetsteurnis nie . . . maar jy is ‘n reeks-diëter. Ons almal ken iemand wat permanent op ‘n dieet is – of jy doen dit dalk self. Hoekom? Om beter te voel en lyk? Beheer oor jou lewe is ‘n meer algemene rede vir dieet as wat ons besef, het kenners agtergekom.

“Ek móét dieet, want dis die een ding in my lewe waaroor ek self kan besluit,” vertel Dale Niehaus (41), ‘n projekkoördineerder van Kaapstad. Die laaste 23 jaar al is sy elke week op ‘n dieet!

“Naweke verloor ek beheer en eet alles,” vertel sy.Daarna is sy maklik 4 kg swaarder,maar teen Vrydag bereik sy weer haar normale gewig van 68 kg (mooi slank vir haar lengte van 1,75 m). Dít is haar groot oomblik en die teken dat sy tóg in beheer is. “Geen beloning is groter as dít nie,” vertel Dale.Ook dié dat sy selfs die skaal inpak wanneer sy met vakansie gaan.

Dale het ‘n veeleisende werk waarop sy “terselfdertyd versot is”. Sy reis baie. Sy en haar man, Ruan, het twee kinders, Xander (13) en Armin (10). Armin is serebraal- en gehoorgestremd.

“Ons weier om hom te etiketteer. Ons maak ook nie van hom ‘n uitsondering nie, maar hanteer hom as ‘n normale deel van ons gesin.”

Die Niehause gee albei Sondagskool en het besige sosiale lewens. Maar wanneer Dale op dieet is, is die res van haar roetine “kinderspeletjies”. Naweke se gesinsuitstappies beteken vir haar net een ding: eet. “Want kos is hemels!”

Maar Sondagaande kry sy reeds haar strategieë vir die komende week reg. Haar dieetkosse is gekoop, haar sakkie vir Maandagoggend is gepak, haar gedagtes georden, en sy het klaar besluit wat sy gaan aantrek.

“Ek moet nog net gou KFC toe vir aandete . . .” Maandag bring ‘n nuwe belofte. Sy plak ‘n nota met haar begingewig in die kantoor op “en dan is dit heerlik om gesonde kos te eet”.

Alles is sommer onder beheer, vertel Dale. “My klerekas, my lessenaar, my kantoor, my badkamerkas, my verhoudings. Ek kyk met ander oë na probleme, uitdagings, kollegas en vriende. Ek voel emosioneel sterker.

Niks is ‘n probleem nie.My vel lyk beter, my maag is platter, my selluliet gladder – ek is on top of the world. Dis ‘n absolute high.”

Alles het op laerskool begin, vertel sy. ‘n Nuwe meisie in die skool het Dale se aantreklike kêrel met wie sy van graad 2 tot 6 gekys was, “afgevry”.

Dale sê sy het onmiddellik gedink dié meisie is mooier, slimmer, meer sportief en maerder as sy. “Ook dat ek net nooit goed genoeg sal wees nie.” Daarby het haar twee broers haar heeltyd herinner hoe “vet” sy is.

Hulle was terggeeste, maar sy het die goedige gespot ernstig opgeneem. Die mediabedryf waarin sy werk, dra by tot haar dilemma, reken Dale. “Ons word daagliks met perfeksie gekonfronteer. Soos die perfekte lyf vir die perfekte mode-shoot.”

Dale besef sy meet haarself aan te hoë standaarde,maar wanneer sy misluk het – dalk te veel geëet het of nie haar doelgewig bereik het nie – is sy dae lank neerslagtig. Dan maak sy haarself wys dat sy steeds plankdun is en dat g’n mens weet wat sy alles geëet het nie. Die neerslagtigheid steek sy goed weg want sy glimlag meestal.

“Ek weet die gedurige diëte is ongesond. Elke dag sê ek vir myself:

Nog net hierdie een keer,môre gaan dit beter wees. Maar môre kom nie, want ek weet nie hoe anders om beheer te kry nie.Dis ‘n fix wat my dryf, wat my sane hou. Ek is buitendien te bang om iets anders te probeer, want die vrees dat ek nie dieselfde resultate gaan kry nie is oorweldigend.”

Wanneer ons lewe chaoties is en/of ons voel magteloos oor sekere fasette, fokus ons te erg op dinge wat ons wél kan beheer, sê Hugo Theron, sielkundige van Kaapstad. Soos kos.

Benewens die feit dat mense dieet om beheer te kry wissel baie mense ook tussen “reg” eet en dan ooreet – soos Dale oor naweke doen.

“Dis ‘n wipwa-rit tussen goed voel en skuldig voel,”meen Hugo. “Elkeen van ons het basiese behoeftes, en dit sluit nie net kos en water in nie. Op ‘n emosionele vlak wil ons in beheer van ons lewe wees,” sê Trudie du Plooy, Johannesburgse leefstylafrigter en kenner van neurolinguistiek (die dinamika tussen jou brein en jou taal en hoe dié samewerking jou liggaam en jou optrede beïnvloed).

“Ons wil liefde ervaar, spesiaal voel én ons wil op geestelike, emosionele en intellektuele vlak groei.” Die basiese beginsel van emosioneel heel voel, is by elkeen anders. “As jy so heeltyd op dieet is, is jou behoefte om in beheer te wees groter as jou behoefte om spesiaal te voel (mooi te wees),” sê sy.

Volgens Trudie word jou behoefte aan beheer dan ten volle deur jou

dieetgewoonte versadig en is dinge soos ‘n veeleisende werk of ‘n gestremde kind nie werklik vir jou ‘n probleem nie. As jy een van vele vroue is wat soos Dale heeltyd op dieet is (en soms ook ooreet), is die rede nie altyd “iets vreesliks of abnormaals” nie, meen dr. Hannetjie van Zyl-Edeling van Randburg, Gauteng. Sy is ‘n sielkundige wat ook as dieetkundige gewerk het.

Dalk het jou ouers of iemand anders na aan jou ook naweke so oorboord gegaan. Of dit is vir jou net meer prakties om in die week met sy roetine reg te eet. Naweke is meer onvoorspelbaar. Jy voel dalk dan asof jy “van diens af is”, sê sy.

“Maar holderstebolder eetgedrag kan soms ook ‘n uitdrukking van ‘n emosionele warboel in jou lewe wees,” sê Hannetjie. Dit voel dalk vir jou jy het te veel druk by die werk. Of jy is vir lang tydperke ongelukkig of hartseer, of angstig. Jou deurmekaar binnelewe word dan deur jou eetgedrag weerspieël.

Pasop net dat jy nie die diëtery as fokus gebruik en jou energie daaraan bestee nie, eerder as dat jy ander probleme in jou lewe takel waarvoor jy nie opgewasse voel nie, waarsku Trudie.

ontvlug jy van die werklikheid. Dis ook nie net ‘n spesifieke persoonlikheidstipe wat geneig sal wees om heeltyd so te dieet nie. “Jou kinderjare speel eerder ‘n rol in jou vorming en die gewoontes wat jy aanleer,” sê Trudie.

Jy het dalk ook grootgeword met gedagtes dat jy net nie goed genoeg is nie. Dis gekoppel aan “in beheer wees”, om “reg te lyk” of “om dinge reg te doen”, beaam Hugo. Dalk het jou ouers gesê jy is vet of het maats jou gespot. Miskien het jy een oggend in die spieël gekyk en besluit jy sal nooit ‘n mooi lyf hê nie.

Hoe gemaak as jy wel iemand is wat heeltyd dieet, maar jy wil ophou daarmee? Verskuif die fokus weg van die simptoom (dat jy gedurig op dieet is) na die oorsaak, reken Hugo. Fokus op dit wat uit beheer voel – soos jou te vol program of ‘n slegte verhouding – en op gedagtes oor hoe jy dink jy behoort te lyk om vir ander aanvaarbaar te wees. Vra ook: Hoekom voel ek nie goed nie?

Angs kan ‘n rede wees. En wat kan ek daaraan doen? Vra jouself hoekom jy so dieet en dan saboteer jy jouself weer deur te veel te eet. Jy glo dalk jy wil maer wees, maar jou onbewuste sê iets heel anders, sê dr. Hannetjie van Zyl- Edeling. Sommige oorgewig mense is dalk bang vir verhoudings en voel veilig in hul oorgewig lyf, want dit dien as hindernis tussen hulle en ‘n potensiële maat.

Of jou ouers het jou verbaal mishandel. Kos het jou getroos, jou laat veilig voel of jou angstigheid weggeneem. Omdat dit toe vir jou “gewerk” het, sit jy die patroon voort.

Jy glo dalk nou jy verdien steeds “mishandeling”, want dis wat jy ken. Nou “mishandel” jy jouself deur gedurig op dieet te wees. Dié gedrag is onbewustelik, sê Hannetjie.

Wees bewus van dit wat jy beskou as die “positiewe” rede agter wat jy

doen – selfs al is dit iets wat eintlik sleg is vir jou. Die wegbreek oor naweke van die dieet en lekker eet, maak dalk die week se opoffering die moeite werd.

Vra jouself: Watter emosies is hieraan gekoppel? Op watter ander manier kan ek my emosionele behoeftes bevredig? Dalk het jy ‘n onderliggende hartseer of skuldgevoelens waardeur jy nog moet werk.

As jy bewus is van jou emosies, kan jy hulle beheer, sê Trudie. As jy weet sekere goed sneller negatiewe emosies, kan jy leer om dié snellers te verander of uit te skakel.

Wanneer jy doelwitte stel, moenie op die negatiewe fokus nie. Dit is beter om te sê: “Ek is in die proses om gewig te verloor,” eerder as: “Ek wil nie vet wees nie.” Bevredig jou behoefte aan beheer op ander, gesonde maniere, beveel Trudie aan. Wees georganiseerd.

Kry roetine in jou lewe, beplan jou dag. “Hoe meer voorspelbaar jou dag is, hoe minder angswekkend en bedreigend is dit,” beaam Hugo.

Gereelde matige oefening, so drie keer per week, is ideaal, sê Hannetjie. “Want oefening stoot jou metaboliese vlak op en dan is jou lyf nie so geneig om vet te berg nie.” Oefening het ook ander gesondheidsvoordele soos dat jou liggaam endorfien afskei, ‘n hormoon wat jou laat goed voel. (‘n Plus vir die alewige beheer!)

As jy dink jy het nie genoeg balans in jou dieet nie (jy eet te veel oor naweke en te min in die week), kan jydit maklik regstel, sê Hannetjie.Maardan moet dit belangrik genoeg weesvir jou. Dit verg ‘n besluit. Beplan joueetpatroon oor naweke. Pleks van brooden stysel eet, kan jy dit vir byvoorbeeldwyn of poeding ruil. Hou jou porsiegroottesdop en moenie allerhandesnoeperye tussenin eet nie.

  • heni seemann

    ‘Dieet laat my in beheer voel’ van Dale Niehaus vind ek persoonlik nie die ideale eetpatroon nie en is van mening dat sy haar liggaam baie skade berokken!
    hier by ons sê mens "nie alles wat blink is goud nie…" blykbaar skuil baie beroemdes agter n masker weg…