Eie stories

Dieremaat sielsmaat

Pleegma vir gidshonde

Jayne Nicolle, oudvoorsitter van die Sa Gidshondvereniging (SAGA) in Johannesburg, was al tien keer “pleegma” vir gids- en dienshonde. (Die ses weke oue hondjie word ’n jaar lank deel van jou gesin. Dan word hy verder by SAGA opgelei en aan sy eienaar oorhandig.) Jayne, direkteur van ’n bedrywige nasionale vragmaatskappy, oorweeg nou nóg een . . .

DIÉ OOMBLIK HET MY LEWE VERANDER
“Jare gelede het ek op ’n skou by SAGA se stalletjie vasgesteek en geweet: Hiér wil ek betrokke raak. Dis 17 jaar later, maar ek onthou nou nog die ontsag en vreugde om my eerste klein labrador te ontvang, van wie daar soveel verwag word . . . sy hartklop, die sagte pelsie, sy hondjiereuk. Ek het gedink my hart breek toe ek ’n jaar later die oproep kry om hom terug te gee, maar ek het ook gevoel ek het iets bereik.

“Op die laaste dag gaan stap ek altyd met my ‘baba’ en huil vreeslik! Maar dis onbeskryflik as jy sien watter verskil hy maak. Ek glo ons karakters word weerspieël in die honde.”

DIT BETEKEN DIE HONDE VIR MY
“Ek het steeds kontak met al ‘my’ honde. Elkeen herken en maak ’n groot bohaai van my, maar gaan sit dan weer by sy eienaar. Ons band word nooit verbreek nie, maar die band met sy nuwe eienaar is sterker – soos dit hoort.

“Die hondjies gaan saam kantoor toe (dis ideale kantoorstres-terapie!) Hulle is al na vergaderings met kliënte en verskaffers. Dis goeie opleiding en wys sakemense hoe maklik gidshond-eienaars onafhanklik kan werk. Deesdae lê my afgetrede blinde gidshond Amelia heeldag by my voete op kantoor. Ook die ronde Ruby gaan saam, en kyk gereeld wat almal in hul kosblikke het. Ons kan nie sonder ons terapie op kantoor nie.”

SPESIALE BELEWENIS
“Ek het geblinddoek saam met my een hond en haar afrigter gaan stap. Dit was asemrowend. Sy moes my lei verby hindernisse op die sypaadjie, in ’n winkelsentrum in – ek was oorbewus van die verkeer, die mense wat verby my stroom. Ek moes haar totaal vertrou. Om eerstehands te ervaar waarvoor ek haar al ’n jaar help voorberei, het my sprakeloos gehad.”

WAT DIERE MY LEER
“Ons het jare op ’n kleinhoewe gewoon – ’n hawe vir wesies, van skape en hoenders tot volstruise. Ek het gesien hoe my honde die lammertjies en varke as deel van hul honde-familie behandel. Dit was vir my ’n les: Aanvaar mense soos hulle is. Almal verskil. Ons lyk verskillend, ons het verskillende talente, sterkpunte en swakhede, maar ons hoort almal hier en ons verdien waardigheid en respek. Ons moet ons sterkpunte en talente met mekaar deel.”

WAT EK NOU WEET

  • Honde is werklik die mens se beste vriend. (Ek het sewe!) Hulle is altyd bly om jou te sien en het soveel geloof dat jy die regte ding vir hulle sal doen.
  • Hulle weet wanneer jy sorg benodig en laat jou soos ’n superheld voel. Hulle verryk my lewe. Twee vroue was my inspirasie: Gladys Evans, 55 jaar gelede die stigter van SAGA, se blindheid het haar nooit gestuit nie. Sy het my geleer om nie my oortuigings en passies te vrees nie, en om probleme geduldig maar ferm te hanteer. En my ma, wat nét die goeie in almal gesien het. Sy het almal se waardigheid gerespekteer en my geleer daar is nie tyd om terug te kyk nie, net vorentoe.
  • Ek glo in klein, medemenslike gebare teenoor elkeen wat my pad kruis. Moenie ’n kans laat verbygaan om jou siel te voed met goedheid en belangstelling in mense en diere nie.
  • Wees rojaal met jou liefde.

Boysie (en Benedict) verstaan

Die sportruiter Philippa Johnson is in 1998 gedeeltelik verlam in ’n motorongeluk. Die eerste ding wat sy gesien het toe sy in die hospitaal bykom, was ’n foto van haar gunsteling-perd, Boysie. (Haar afrigter het geweet dit sal haar herstel aanhelp.) Verlede jaar het sy en haar spanmaat, Benedict, twee goue medaljes by die Beijing Paralimpiese Spele gewen – en twee silwer by die vorige spele. Besoek www.philippajohnson.com

 
DIE OOMBLIK WAT MY LEWE VERANDER HET

“Ná ’n motorongeluk in Oktober 1998 (waarin my broer en kêrel gesterf het), was die dokters onseker of ek ooit sou loop – wat nog te sê perdry. Eendag het ek myself belowe: Teen die einde van die volgende week gaan ek loop, en teen 1 Januarie gaan ek in die saal sit. En ek het.”

DIT BETEKEN MY PERD VIR MY
“Perdry is my passie en my redding. Die beweging versnel jou rehabilitasie – selfs met stap gebruik en stimuleer jy soveel spiere.

“Boysie was my vriend en staatmaker toe ek hom só nodig gehad het. Eers kon ek glad nie my balans behou nie – ek sou sommer omkantel. Hy sou maar geduldig wag . . . ek dink hy was met afgryse vervul toe ek die eerste keer afgeval het! Maar sy sesde sintuig, daardie aanvoeling, het net ingeskop.

“Ek was soms geweldig gefrustreerd. Ek was ’n belowende ruiter wat eersdaags in Duitsland sou gaan ry, en skielik moes ek weer leer om in ’n sirkel te stap. Maar dís die helende kuns van perde – hulle absorbeer daardie gevoelens.

“’n Jaar ná my ongeluk het ek aan my eerste kompetisie deelgeneem en goed gevaar. Maar toe breek ek my rug toe ek alleen op Boysie probleem klim. Die uiteinde: ’n veselglas-rugstut.

“Ek was nog altyd gelykmatig, maar ’n onbeheerbare woede het my getref – ek sou uiting gee daaraan as ek ry. Ek kon nie glo God het als van my weggeneem nie. Ná elke rit sou ek my trane uitstort teen Boysie se nek . . . sy liefde, aanvaarding en vergifnis was onvoorwaardelik. Ná my rugbesering was ek veral bang vir op- en afklim, maar sy rug was my veilige hawe.”

GROOTSTE STRUIKELBLOK
“Dit was moeilik om vrede te maak met my beskadigde liggaam. Ek was sportief en atleties, ek het myself altyd gedruk. Nou was ek ’n pakkie beskadigde goedere. Dit was ’n lang proses om dit te aanvaar en dit bly iets wat ek daagliks leer hanteer.

“Dit was ook ’n aanpassing om so afhanklik van ander te wees – ek was nog altyd ’n alleenloper. Ek moes hard veg om soveel as moontlik van my onafhanklikheid terug te wen. Ek is geseënd. My ouers het my sterk vegtersgene gegee.”

NUWE SIELSGENOOT
“Boysie sal altyd ’n sagte plek in my hart hê (hy’s nou uitgevreet en lekker bederf!), maar ek het geweet as ek internasionaal wil meeding, moet ek Europa toe. In België, waar ek nou woon, het Benedict oor my pad gekom. Dit was liefde met die eerste oogopslag. Hy was so vloeibaar soos kwik in aksie! Skaars vyf minute op sy rug, en ek het besef dis my sielsmaat. Ons het ’n sterk band, veral omdat ek ver was van my familie en vriende . . . dit was net ek en hy. By die Spele het ek gevoel dis vir hom nét so belangrik soos vir my om goud vir SA te verower!”

WAT EK NOU WEET

  • Ek was my lewe lank omring deur diere. Dis waar my hart lê. Daar is nie een dag wat ek nie iets nuuts by hulle leer nie.
  • Daar’s geen verskonings in die lewe nie. Die enigste grense is wat jy self skep.
  • Iemand het eenkeer gesê: dinge word voor jou geplaas om te toets hoe graag jy aan die ander kant wil uitkom. as jy wíl, sal jy.
  • Stop sweating the small stuff. Daar is soveel om voor dankbaar te wees.
  • In Engeland het ’n vrou my gehelp met my uitdagings as gestremde ruiter. Haar raad: as jy net deur die gemors kan druk en oorleef, sal die lewe jou die lieflikste geskenk gee. want jy kry altyd weer balans. Ek het al ongelooflike ervarings beleef, wonderlike mense – en Benedict – leer ken!

Van heroïenverslaafde tot honde-redder

Anoux Massey van Somerset-Wes is die stigterslid van PETS (Pet Empowerment in Townships), ’n nie-winsgewende pro-lewe-organisasie wat in twee jaar byna 1 000 township-diere hervestig het in liefdevolle tuistes én meer as 600 diere gesteriliseer het. Besoek www.petspower.org.za.

Anoux Massey

 
DIé OOMBLIK HET MY LEWE VERANDER

“Ses maande nadat ek heroïene gelos het – ’n uitmergelende verslawing – het ek ’n swart Labrador, Ulla, gekry. Ek het stoksielalleen gevoel en gedink niemand verstaan my of wil by my wees nie. Ek het gehoop as ek Ulla moet versorg, sou dit my besig hou en laat beter voel. Dit was die beste besluit. Sy was ’n bondeltjie onvoorwaardelike liefde. Ek kon my diepste geheime aan haar vertel sonder om oordeel te vrees.
“Sy was my skaduwee. Terwyl mense om my voor dwelms geswig het, het ek geweet sy het my té nodig. Ons sou mekaar vir ewig verloor. Die gedagte was ondraaglik. Dis nou sewe jaar later en ek is steeds dwelmvry! Sy herinner my daagliks aan die pad wat ons gestap het. Sy was my inspirasie om diere te help.”

EK MOET HELP
“Daar is soveel diere wat nie Ulla se kanse gekry het nie, maar die potensiaal het om ’n verskil te maak in iemand se lewe. Ek gee mishandelde, verwaarloosde diere ’n tweede kans. Dis só bevredigend. Daardie uitdrukking van liefde en dankbaarheid as hy weet sy swaarkry is verby . . . ek kan dit nie beskryf nie. Jou hart breek in stukke as hy styf teen jou druk vir beskerming. Dis ongelooflik hoe so ’n dier blom ná rehabilitasie. Die hartseerste is diere wat jy nie kan red nie. Die kyk in hul oë wanneer hulle tou opgegooi het, is ontstellend. Ek kan nie almal red nie, maar ek probeer.”

GROOTSTE STRUIKELBLOK
“Dis erg as mense nie opgevoed is oor hoe hulle hul honde moet hanteer en versorg nie, maar die ergste is as hulle nie wil leer nie, as misbruik ’n magspel is. Ek was nog nooit bang om tussenbeide te tree as ’n eienaar sy hond wil slaan nie – ek het nog nie één geveg verloor nie.”

SPESIALE HOND OP MY PAD
“’n Verbygaande motoris het gesien hoe ’n klomp mans ’n hond mishandel. Ná ’n lang stryd kon hy hom afvat en in ons sorg los. Lucky was erg verniel, jy kon nie sy gesig sien nie. Die veearts wou hom uitsit, maar sy stert het geswaai . . . hy wóú lewe. Ná maande van intensiewe rehabilitasie woon Lucky nou in Johannesburg, waar hy die beste lewe lei. Hy’s een van soveel spesiale diere.”

WAT EK NOU WEET

  • Ongeag wie jy is en waar jy vandaan kom, jy verdien om gelukkig te wees.
  • Daar’s nie slegte diere nie, net slegte eienaars. Diere word met ’n skoon blaadjie gebore, dis die mens wat die indrukke daarop maak. Krag is ’n goeie eienskap mits jy dit reg gebruik.
  • Ek het geduld geleer, om niemand te oordeel nie en dat jy niks kan bereik deur ’n dromer te wees nie. ’n Doener kry dinge gedóén.
  • Moenie verby ’n dier in nood ry en hoop die motor agter jou hou stil nie. Of moenie vra: Wat is die punt, daar is soveel? Leer jou kinders en huiswerkers hoe om diere te behandel, sodat hulle die kennis saam met hulle skool en township toe kan neem.