sr0905ma_dogter_7_
Eie stories

Dit het ons by mekaar geleer

Jackie Nagtegaal (24), skrywer en uitgewer by Joho!, en Reinet Nagtegaal (52), regsgeleerde en ook skrywer

‘My ma het my nooit in ‘n boks gedruk nie’

“As kind was die eerste begrip wat ek geleer het audi alteram partem,” vertel Jackie.

“In Latyn beteken dit om jou kant van die saak te stel. Dis die grootste geskenk van ‘n ouer aan ‘n kind.” Daar was min konflik tussen haar en Reinet.

“Die fase waarin ek die meeste van haar gehou het, was toe ek ‘n moeilike tiener was. My vriende het aan haar lippe gehang. Sy was nie voorskriftelik nie en het saam met ons goed ondersoek. Sy was die coolste ma, want sy het in ‘n geel kar gery en in plakkies met dalmation prints rondgeloop . . .”

Jackie wil nie met haar ma wedywer nie, maar wil graag Reinet se sukses en soortgelyke mylpale behaal, met ‘n Jackie-twist. Soms wil sy wel haar ma se afstandbeheerknoppie na slowmotion draai. “Sy deurdink nie alles 100% nie en tree soms tot haar eie nadeel op, of maak dalk mense seer deur nie te dink voor sy iets sê nie.”

Jackie hanteer haar seuntjie, Dirk (16 maande), nou nés haar ma háár grootgemaak het. Sy besef ook vir die eerste keer wat ‘n ma wérklik alles agter die skerms vir ‘n kind doen. Die beste raad wat sy van haar ma gekry het, is dat die wêreld jou niks skuld nie. Jy staan regop ná elke terugslag, herevalueer jou lewe, werk daardeur, en gaan aan.

Soos sy sê: “Sukses is vir my sinoniem met geluk. Dis om aan die einde van die dag by jou huis te kom en gelukkig te voel oor waar jy is, wat jy doen en waarheen jy gaan. Ek wou van kleins af die murg uit die lewe suig en goed dóén. En my ma het my nooit in ‘n boks gedruk nie.”

‘Jou dogter se prestasies laat jou suksesvol voel’

“Ek en Jackie is in baie opsigte mekaar se teenpole, maar omdat ons mekaar mateloos respekteer, kon ons afsmeer op mekaar,” sê Reinet.

Sy is “voortvarend en opvlieënd”, maar Jackie het haar geleer jy kan meer gedoen kry deur kalm te bly.

“Dis deel van ons albei se genetika dat ons moeilik nee sê. Ek sien haar dikwels swaarkry onder al die ja’s wat sy op haarself laai – dit maak dit vir my makliker om haar te wys hoe om nee te sê.”

Jackie laat ‘n mens ook in jouself glo. “Sy sal my net een kyk gee en sê: ‘Jy weet wie jy is. Moenie worry nie. Jy kán dit doen.'”

En konflik?

“Toe Jax jonger was, sou ek haar maklik stoomroller. Sy sou net stil word en onttrek. Dit het my gewoonlik lang toesprake laat hou oor my eie swak punte en hoe sy asseblief daaruit moet leer. Vandag bots ons net sekondes lank oor dinge soos dat Dirkie nie sjokolade moet eet voor ete nie.

“Jackie was nooit regtig ‘n tiener nie. Sy was van kleins af ‘n eienaardige kombinasie van ouwêreldse wysheid en kinderlike naïwiteit.”

Die band tussen ma en dogter is meer kompleks as die verhouding tussen vriendinne, vertel Reinet.”Daar is baie vriendin-oomblikke en die deel van geheimpies, maar die ondertoon van die verhouding is ernstig. Ek kan soms my tong afbyt wanneer ek vir Jackie iets sê wat ek weet ek nooit vir ‘n vriendin sal toevoeg nie.Dis ‘n mengsel van bewondering en ‘n soms oordrewe versorgingsbehoefte.”

Reinet glo ‘n sukesvolle verhouding vereis bo alles respek en bewondering vir mekaar. “En raas het ‘n sperdatum. Daar kom ‘n punt dat ouers net raad gee en hul kop skud vir blapse.”

*Jackie en Reinet se gesamentlike boek, In limbo (Joho!, R159), het onlangs verskyn.

Zetske van Pletzen (21) en Elzette Maarschalk (49), aktrises

Zetske en Elzette

‘Jy aanvaar nie nee vir ‘n antwoord nie’
Haar ma se gunsteling-aanhaling is “life is not a dress rehearsal; every day is opening night”. Zetske van Pletzen glo dít dra by tot háár sukses, omdat sy van vroeg geleer is om alles met oorgawe aan te pak. Sy het reeds op 16 as aktrise begin speel en kon sedertdien altyd werk kry.

Deesdae sien ons haar as Kara, Chris van Deventer se dogter, in die sepie Binnelanders op kykNET en M-Net.

“My ma het my geleer om onafhanklik te wees. Dís baie belangrik in die bedryf.” Elzette het nog nie een keer vir haar ‘n oudisie gereël nie. Zetske staan op haar eie voete.

In haar grootwordjare het Zetske gesien haar ma het deursettingsvermoë, iets wat ook deel van háár persoonlikheid is. Elzette sê altyd: “Jy aanvaar nie nee vir ‘n antwoord nie.” Maar nóg ‘n waardevolle les wat Zetske van haar ma geleer het, is om nie te veel hooi op haar vurk te hê nie.

“My ma is geneig om te veel te doen en sy stel ander mense altyd eerste. Ek sien wat dit aan haar doen. Daarom doen ék wat ek kan hanteer.”

‘Sy het gesien my manier is nie noodwendig die regtemanier nie’

Die een ding wat Elzette haar dogter van vroeg af ingeprent het, is dat die oomblik wat jy nou beleef, ál is wat jy het. Jy moet nóú jou beste gee.

Elzette is van die akteur en regisseur Pierre van Pletzen (Oubaas in 7de Laan) geskei toe Zetske sewe was en dit het tot die kinders se onafhanklikheid bygedra. Wanneer daar lang ure gewerk is, was Zetske die een wat inkopies gedoen en kos gemaak het.

“Ek het nooit haar of haar broer, Pierre-Henri, se skool- of naweektasse vir hulle gepak nie. Ek het hulle geleer om vir hulself te dink. Ek het altyd raad gegee, maar nooit hul besluite vir hulle geneem nie.”

Vasberadenheid is dalk eerder ingebore by Zetske as wat dit aangeleer is, meen Elzette, wat vanjaar vir die eerste keer in 14 jaar op die verhoog te sien is in die musiekblyspel Houtkruis Die Musical.

Zetske wou al op vyf jaar skool toe, maar Elzette het vir haar gesê sy kan eers op ses gaan. Toe sy in Maart ses word, het sy ‘n skoolrok aangetrek wat sy by een van haar boetie se maatjies gekry het en in die motor geklim toe Elzette hom skool toe vat.

“Haar skoolrok het byna op die grond gehang, so lank was dit. Sy het saam met haar broer in sy graad 3-klas gaan sit. Teen die vyfde dag het die skoolhoof gebel om te sê ons moet Zetske óf by die skool inskryf óf by die huis laat bly. ‘n Arbeidsterapeut het haar getoets en gesê sy’s reg vir skool.”

Elzette erken ook: “Ek doen te veel en kom dan soms op ‘n punt waar my gestel byna ingee. Ek is trots dat Zetske tyd vir haarself neem. Ek dink sy het gesien my manier is nie noodwendig die regte manier nie.”

Hul idees van sukses stem ooreen: Wát jy doen is nie belangrik nie,maar eerder om gelukkig te wéés met wat jy ook al doen. Sukses is iets waaraan jy heeltyd moet werk.

Rehane Abrahams (38), aktrise en regisseur in Ubud, Bali, en Cass Abrahams (60-plus), kosskrywer en speserykenner

Cass en Rehane Abrahams

‘Ek probeer sagter met myself wees’

Gedrewenheid, om hard te werk, kreatiwiteit en om altyd in jouself te glo. Dís die belangrikste lewenslesse wat Rehane by haar ma geleer het. Hoewel sy haar mateloos bewonder, dink sy Cass werk soms té hard. “Ek probeer sagter met myself wees en meer balans handhaaf.”

Albei is hardkoppig en dit het in die verlede tot baie argumente gelei. “Ek was ‘n verskriklike tiener en het my gevoelens uitgestort in digkuns en die struggle teen apartheid. In my jeug wou ek onafhanklik wees en ek het dikwels néé gesê vir my ouers se manier van doen. Ek en my ma het mekaar vergeef vir al die dinge wat ons vir mekaar gesê het en ek het sagter geword.”

Sy reken sy is suksesvol, want sy is gelukkig in haarself en in haar wêreld.

“Sukses het baie fasette. Ek wil in voeling wees met my diepste bronne van kreatiwiteit en in my verhoudings en skeppingsdrange dít met ander deel.My ma het ons geleer om só, eerlik en vrygewig, te leef. Sy laat mense gemaklik voel, is warm, nie veroordelend nie en moedig ander aan om hul volle potensiaal te ontwikkel.”

Sy dink dikwels in die vreemde met groot heimwee aan haar ma se hande, haar vel, hoe sy ruik en hoe “stout” sy is. En die beste raad wat Cass haar gegee het? Om haar nie te bekommer oor wat mense van haar dink nie.

‘Ek is spyt ek het my kinders so hard gedryf’

Cass Abrahams se ma, Gwendolein Weimers, was op 40 ‘n weduwee wat vier kinders moes grootmaak. “My pa is doodgeskiet in Johannesburg en my ma was ‘n hoedemaker,” sê Cass. “Ek is op 16 universiteit toe en het tóé reeds selfstandigheid by my ma geleer. En dís hoe ek my dogters, Rehane en Shakira (34), en my seun, Zaid (31), grootgemaak het.”

Dit was vir haar nie aldag maklik om Rehane te verstaan nie.

“Rehane het as tiener al haar eie styl gehad en klere by tweedehands-winkels gekoop – tot haar pa se skande. En sy was báie hardkoppig en het al die antwoorde gehad. Ek het haar toegelaat om op 16, toe sy drama aan die Universiteit van Kaapstad gestudeer het, op haar eie in ‘n woonstel in Oranjezicht te gaan woon. Dís ongewoon vir Moslemmeisies, hulle bly by hul ouers totdat hulle trou. Maar ek was nét so toe ek jonk was!”

Konflik was volop. “Ons het baie gestry en dit was vir ons moeilik om jammer te sê,maar gewoonlik was ek die een wat die minste was. Ek is nogal spyt ek het my kinders so hard gedryf om altyd besig te wees. Vandag nog sê hulle hulle raak angstig as hulle nie iets het om te doen nie.”

Rehane het ‘n gesonde selfbeeld en stuit vir niks. Sy het al tradisionele Java-danse bestudeer en in Indonesië, Amerika en Japan gewoon.

“Dalk het ek dit oordoen, maar ek het altyd vir my kinders gesê hulle is die mooiste en die beste in alles wat hulle aanpak. Rehane dink sy is God se geskenk aan die heelal!”

Sy het haar dogter ook gemaan om versigtig met haar lewe te wees.

“Jy besit nét jouself. Daar is altyd dinge wat ‘n mens skaam maak as jy terugkyk op jou lewe.” Baie van dié lewenswaarhede deel hulle as hulle saam kook.

“Dis net jammer ons sien mekaar so min.”