sr0907hoetjygevoel_7_
Eie stories

Hoe’t jy gevoel toe . . .

Kevin Leo, Mathys se vriend van die afgelope vyftien jaar (en saam met Danie Niehaus sy sangmaat in die groep Drie van die Bestes), vertel:

“Ek het die oggend van die ongeluk George toe gevlieg vir die KKNK en my vrou het my gebel. Ek het so ’n dooie gevoel oor my hele lyf ervaar. Byna soos wanneer jy jou been of arm verslaap. Nie vir een oomblik het ek gedink hy sal nié oorleef nie, maar ek was bekommerd oor die sielkundige impak. ’n Mens is aanpasbaar en kan seker ’n ‘gewone’ werk kry, maar jou kuns is deel van jou ‘vleis’ en dit sal jou van jou kop af maak as jy dit nie meer kan beoefen nie . . .

 

Hy kan al die humor sien

 

Ek wou die kunstefees so gou as moontlik agter die rug kry en hom besoek. Mathys het gelukkig ’n ongelooflike familie wat hom bystaan. Ek het geweet die enigste ware manier waarop ons hom kon help, was deur gebed en ek het God gesmeek om genesing.  

Ek glo die Here gaan hom genees en dat hy weer sal loop as dit deel is van Sy meesterplan. Die manier waarop mense oraloor hom bygestaan het, was vir my ’n bevestiging dat God Mathys as ’n instrument wil gebruik. Hy het geweet Mathys is geliefd. Die omvang daarvan het my verbyster.

Ek weet Mathys se toekoms as kunstenaar en mens sal baie suksesvol en geseënd wees. Hy het vir my gesê hy sien op ’n vreemde manier uit na dít wat voorlê. Hy kan al humor in sy omstandighede sien. Hy reken nou sal ek en hy minstens dieselfde lengte op die verhoog wees!

Ons is vinnig om te kla, maar vergeet daar is baie ander mense met wie dit swaarder gaan. Gebeurtenisse soos dié mag vir ons onregverdig lyk, maar God sien die groter prentjie.” - Marguerite van Wyk

Akteur Erik Holm het besondere begrip vir Mathys, want hy’s ’n kwadrupleeg nadat hy twee jaar gelede in ’n meer geduik en sy nek gebreek het.

“Ek wens niemand toe waardeur Mathys nou gaan nie. Benewens die skok en fisieke aanpassing, gaan jy deur geweldige emosionele trauma. Tot jy uiteindelik by die draaipunt kom en besef: Ek kán dit doen. Vir party neem dit maande, vir ander jare.

Ek weet natuurlik nie hoe hy dit beleef nie, ek kan maar net my eie emosies destyds weergee. Met die impak van rugbeserings wat so radikaal verskil van mens tot mens, is die onsekerheid erg, veral die eerste maande. Jy wil so graag ’n antwoord hê: ja of nee. En hulle kan nie vir jou sê nie.

En dan is daar daai woordjie: hoop. Al is jy hoe erg beseer, koester hoop solank jy kan – juis omdat die wetenskap van spinale beserings nie vasgelê is nie, daar’s radikale ontwikkeling en deurbrake . . . (Daarom gaan hulle my eers ná drie jaar finaal diagnoseer.) Die ideaal is om by daardie effens teenstrydige balans te kom: Aanvaar wat gebeur het en gaan aan met jou lewe, maar moet terselfdertyd nie ophou hoop dat jy eendag weer jou bene sal kan gebruik nie.

 

Jou situasie is anders, maar

jy’s nog dieselfde mens

 

Ondersteuning van die publiek en uit jou persoonlike kring, soos wat Mathys ook kry, het vir my al die verskil gemaak – dis ’n seëning, dit red jou.

As ek hom kan raad gee: Kry die beste rehabilitasieterapeute. Dit het my lewe verander. Wees geduldig met jouself. Dis belangrik vir jou geliefdes dat jy nie voel jy’s ’n las nie – mense wil help. Wat jy uitstraal, kry jy terug.

Ek lees Mathys gaan weer kitaar speel. ’n Mens moet doen wat vir jou lekker is. Ek skryf aan ’n Afrikaanse musiekblyspel, ek gaan Mosambiek toe . . . ek het pret.

Ander rolstoel-pasiënte het vir my kom sê: ‘Dit gaan oukei wees, dit word beter.’ Al wil jy dit hoe graag glo, kan jy aanvanklik nie. Maar glo my, dit word wél beter. Jou situasie is anders – maar jý is nie anders nie.” - Suzette truter

Karen Roets, van wie Mathys vroeër vanjaar geskei is, moet ook hul twee seuns, Liam (links) en Yuan, help om alles te verwerk.

“Mathys se broer, Pierre, het my by die werk gebel en vertel van die ongeluk. Ek was geskok en paniekerig, maar dit het terselfdertyd onwerklik gevoel. Asof ek gaan wakker skrik en besef dis ’n nagmerrie. Dit voel steeds só.

Ek was altyd bekommerd oor Mathys se motorfietsryery, veral as hy die langpad vat. Al het hy gesê hy’s dan ekstra versigtig: Al sy sintuie is skerp en hy dagdroom nie.

Eerste in my gedagtes was ons kinders, Yuan (6) en Liam (9). Hoe beskerm jy hulle? Wat is die vinnigste manier om in Bloemfontein te kom, die vliegtuig, die motor? Jy is so half van koers af.

Ons het gevlieg. Mathys was in die waakeenheid en ons het nie geweet of hy gaan leef nie. Dit was vir my belangrik dat Yuan en Liam hom moet sien. Almal om hulle was só ontsteld en ek wou vir hulle wys Pappa is hier, hy leef. Liam is ouer en ervaar alles meer intens. Hy is soos Mathys in die opsig dat hy wil wéét wat die feite is.

Hy wou weet wat sy pa se kanse op herstel is. Ook die X-strale sien, maar hulle wou dit nie vir hom wys nie. Hy’s egter nog te jonk om sy emosies te verwoord.

 

Mathys sál die

beste daarvan maak,

want dis hoe hy is

 

Yuan, die kleintjie, is verward. Ek is baie emosioneel en huil sommer. Dan kyk hy my só en slaan sy armpies om my been. Hy besef nie die volle implikasie nie. Albei gaan vir trauma-berading om hulle te help.

Geloof word nou vir die kinders iets konkreets. Toe Mathys die eerste keer met ons kon praat, het Yuan gesê: ‘Mamma, lyk my bid werk tog!’ En nadat Mathys se dreineringspype uitgehaal is, het Liam opgemerk: ‘Dis waarvoor ons gebid het.’

Jy vra of die gebeure ons dalk weer bymekaar sal uitbring? Maar dis nie wat nou belangrik is nie. Ons fokus daarop dat hy gesond word en by sy nuwe omstandighede aanpas. Hy sál die beste daarvan maak, want dis hoe hy is.” - Lydia van der Merwe

Lucas Bezuidenhout, paramedikus en takbestuurder van ER24 in Bloemfontein, was saam met Mathys in die ambulans ná die ongeluk.

“Ek het ‘n man in die veld met sy gesig na die grond sien lê. Ek het gevra of hy my kan hoor en wat sy naam is. Toe sê iemand dis Mathys Roets. En toe sién ek dis hy. Dit was baie onwerklik. ‘n Mens verwag hom mos nie daar van alle plekke nie.

Hy was baie deurmekaar en ek het dadelik gedink hy het sy kop seergemaak. Ek kon sien daar was fout met sy rug en borskas. Ons het dadelik begin om suurstof te gee en hom te verdoof. Ná sowat twintig minute het ons hom in die ambulans gelaai.

Ons het nét betyds gekom. Sy longe het platgeval en ons het ‘n prosedure uitgevoer om sy longe op te
blaas. Dít was ‘n deurslaggewende faktor vir sy behandeling. Anders was dit dalk te laat . . .

Heelpad in die ambulans, sowat 25 minute na Bloemfontein, het ons aan hom gewerk. Ek en ‘n hospitaalsuster het vir hom drups ingesit, en medikasie en suurstof toegedien.

Nadat ons hom by die hospitaal afgelaai het, het ek nog nie weer sélf met hom gepraat nie, maar wel gaan hoor hoe dit met hom gaan. Dis half eienaardig as iemand só bekend is om sommer net in te loer. Dis bevredigend om te weet jy kan help as iemand in nood is.

Ons is dikwels in so ‘n situasie en jy leer kalm bly. Om dié rede is dit belangrik om ‘n stokperdjie te beoefen waar jy heeltemal ontspan. Ek bou graag modelskepe uit hout.

Ek wens Mathys sterkte toe en hoop hy kan gou weer vir ons ‘n paar songs gooi!” - Marguerite van Wyk

  • Sandra Strydom

    Mathys jy is ‘n inspirasie vir elkeen wat deur die "dal van doodskaduwee" gaan.

    Graag wil ek kontak maak met Joy Anderson maak wat die Camino de Santiago aangedurf het. Des 2009 se Sarie in die Artikel: "Hoe’t jy gevoel" Ek het ook kanker oorleef en sal graag meer wil weet oor haar ondervinding gedurende die pelgrimstog.

  • http://tdnupkrohlcf.com/ xwhvodzy

    VAJ71L vdszvpadaifd, [url=http://wemismhmsllv.com/]wemismhmsllv[/url], [link=http://hdfkmbscrcaz.com/]hdfkmbscrcaz[/link], http://wjlrdbadppvs.com/