Eie stories

Eileen Pretorius van Kriel, skryf:

My liefste Carel

Ek is lief vir jou! Ek is vandag om 12h34 in die dokter se spreekkamer gediagnoseer met die VV-siekte (die Verlief-virus). Die simptome wat ek het, is glo algemeen en normaal, maar een van die ergste gevalle wat die dokter nóg gesien het. Ná ’n deeglike ondersoek het die dokter in detail aan my verduidelik wat die virus is, wat dit veroorsaak en wat al die simptome is. Hy’t my die nommer van ’n goeie dokter in die Kaap gegee, indien ek sou besluit op behandeling.

Die plooitjies om my mond en oë wat daagliks meer en meer sigbaar word, is glo ’n algemene verskynsel. Die plooitjies word veroorsaak deur al die kere wat ons so lekker saamlag en die onwillekeurige glimlaggies wat daagliks op my gesig verskyn sodra ek aan jou dink of van jou praat. Ek het sommer ook die oorsaak gekry vir daardie skurwe kolletjie tussen my blaaie waarmee ek so gereeld sukkel. Die skurfheid word veroorsaak deur jou groot growwe hande, met die velletjies by jou naels, wat my gedurig oor my rug streel wanneer ek hartseer is en in jou arms lê. Dis wanneer ek soos ’n klein voëltjie in jou bak hande gaan sit sodat jy my kan beskerm teen die wolwe daarbuite.

Al die tydskrifte vermaan vrouens om nie in warm water te lê en week wanneer hulle bad nie, want dit veroorsaak spatare. My spataartjies word veroorsaak deur die lang tye wat ek snags op my knieë deurbring om vir jou te bid. Ek vra elke aand dat jy gelukkig sal wees en dat die wêreld met sy mense wat op hom krioel, jou sag en met respek sal behandel, want jy is dierbaar en só kosbaar vir my. 

Ná die ondersoek het die dokter vir my gekyk en breed geglimlag. Die plooie om sy verrimpelde mond en oë was diep en duidelik sigbaar. Ek het dadelik gedink: “Foei tog, die arme man het seker ’n rowwe en harde lewe of net ’n baie hardkoppige vrou.” Tot my verbasing het die dokter my meegedeel dat hy self al vir meer as 10 jaar aan dieselfde toestand ly, maar téén behandeling besluit het.

Toe sê hy vir my ek is ’n baie gelukkige vrou en ek moet al hierdie simptome van my aanvaar as ’n geskenk van God. Ek het net verdwaas rondgekyk en effens geglimlag (sodat my plooitjies nie te duidelik sigbaar is nie). Op pad huis toe was ek verlig dat ek nou uiteindelik weet wat my “vroeë veroudering” veroorsaak en dat daar wel ’n dokter iewers is wat my kan help met ’n inspuiting of ’n snytjie hier en daar.  

Dis eers toe ek jou vanmiddag op die trappe sien dat ek besef jy is my geskenk van God. Jy staan daar met jou ongelooflike selfvertroue, integriteit en liefde vir my en wag .Jy maak my waarlik gelukkig en ’n beter mens. Jy’s opreg en my steunpilaar wat altyd daar is vir ’n vinnige als-gaan-oraait-wees-drukkie en oë wat onvoorwaarlike liefde uitstraal.

Al laat ek ’n dokter toe om al hierdie sogenaamde simptome van my te laat verdwyn, sal hulle net weer die volgende dag terug wees wanneer ek opstaan, want ek gaan nie dan minder lief wees vir jou nie. Mag my plooie ook eendag só duidelik wees sodat mense kan sien ek het waarlik liefgehad in my lewe en elke oomblik daarvan geniet. Jy is my kosbare geskenk van God en elke plooi, spataar en skurwe kolletjie op my lyf werd.  Ek is lief vir jou!!

Met al my liefde

Jou verloofde