sr1006hoofself01bw
Eie stories

“Ek begin op 51 wynmaak ná jare in ‘n kantoor” – Vrou vertel

En dit op die familieplaas waar sy grootgeword het. In 2006 is sy bekroon as Produsent-Wynmaker  van die Jaar vir die Olifantsrivierstreek. Verlede jaar het sy wéér die titel verower.

TERUG NA MY WORTELS

In 2000 het ek teruggekom na Lutzville, my tuisdorp. In 2004 het ek en my man, John, die familieplaas teruggekoop. Die wingerd was vir ’n bekende wyngroep aangeplant en was nie vir plaaslike kelders geskik nie. Ons moes dit uithaal – of self probeer wynmaak. Ek het die kans gevat. “John is in die diamantbedryf en het nie tyd gehad nie. Ek het dus op 51, met net een kursus by die Cape Wine Academy agter die blad, my eerste druiwe geoes en wyn gemaak. ’n Goeie vriend en mentor, Sakkie Kotze by Le Bonheur, het my per telefoon die eerste oes in die tenk help kry. Ons maak wyn op die tradisionele manier, en die druiwe word organies verbou.”

STRUIKELBLOKKE

Die eerste paar jaar was moeilik. Ons het laatnag en deurnag gewerk. Ek het foute gemaak – veral om met chemikalieë te werk was vir my onbekend. As jy in jou berekeninge net ’n komma skuif, kan jy die oes vernietig – veral omdat ons op kleiner

skaal werk. Maar dit het nie my geesdrif gedemp nie. Ek wou nie tou opgooi nie. John is my dryfkrag. Hy moedig my aan, maar is ook my grootste kritikus, en dit spoor my net aan. “Dit was interessant om veral wynmakers se reaksie te sien toe ek sonder opleiding deurdruk en wynmaak. Ek dink sommige het gedink dit was net vir een jaar, maar ses jaar later maak ek steeds wyn – goeie wyn! Ek is ook nou betrokke in die wingerd self, soos met die snoei.”

VREUGDES

Dis heerlik as mense Seal Breeze se wyne geniet en terugkom vir meer. Ek kry gereeld oorsese besoekers. As ek geweet het wat ek nou weet, sou ek jare terug al begin wynmaak het. Dis wonderlik om die druiwetrosse so aan die stokke te sien, te sien hoe dit groei.”

VIR ’N GOEIE SAAK

Ons het verlede jaar besluit ons gaan jaarliks die opbrengs van 2 000 bottels wyn aan ’n liefdadigheidsorganisasie skenk. Vanjaar was dit Journey of Hope, wat geld insamel vir vroue wat borskanker oorleef het, maar nie bors-rekonstruksie kan bekostig nie. Vroue van regoor die land het in Maart ’n naweek hier kom deurbring. Hulle moes druiwe pluk en trap. Dit was ’n belewenis om te sien hoe die oorwegend stedelike vroue die ervaring geniet. Die wyn word onder die projek se naam bemark. Ek kry graag in oestyd werkloses as arbeiders en het ook ’n gehoorgestremde opgelei as keldermeester. Hy kan net lippe lees, maar sy proe-sintuig is wonderlik ontwikkel. Daar’s ook pensioentrekkers wat vir my konfyt kook om hul inkomste aan te vul.”

Wat ek geleer het

  • Jy is nooit te oud om iets nuuts te probeer nie. Glo in jouself, in wat jy doen, in jou produk en wees lief vir wat jy doen – dan is niks onmoontlik nie.
  • Leef jou droom. Vertrou op God, dan kan jy alles regkry.
  • Wynmaak is soos enige ander sakeonderneming: Jy moet dit reg bestuur. Jy moet dus sakevernuf hê en weet hoe om bemarking te doen.
  • Gee altyd terug aan ander.
  • Moenie wag tot môre nie.