Eie stories

Ek het my baba laat aanneem

Ek loop nou al vir maande met SARIE se Maart 2008-uitgawe in my sak rond waarin die artikel “Vreugde van ’n aanneemkind” op bladsy 158 verskyn. Hierin vertel Anadia Serfontein van haar ontmoeting met haar biologiese ma. Toevallig lees ek ’n soortgelyke artikel in ’n ander tydskrif waarin nog ’n aanneemkind háár beste en slegste dag beskryf.

Albei vroue het ’n slegte ervaring gehad toe hulle hul ma’s ontmoet het. Vandag staan ek aan die ander kant van ’n aanneemsituasie – ek is ’n ma wat my baba afgestaan het.

Toe ek gisteraand na my kamer gaan, besef ek skielik dat die baba wat ek laat aanneem het presies oor twee maande 21 jaar oud word. En ek kan nie help om te wonder nie… ek wonder al vir 21 jaar. Ek wonder hoe sy lyk. Is sy gelukkig? Het sy dalk my blou oë? Wonder sy oor my? Het sy my al dalk probeer opspoor, maar kon my nie in die hande kry nie? Het sy dalk een van hierdie artikels gelees en besluit dat sy my nie gaan soek nie omdat sy bang is dat sy ook ’n slegte ervaring gaan hê? Of, miskien stel sy glad nie belang om te weet wie ek is en waar sy vandaan kom nie? 

Ek was destyds 20 en baie naïef, en het jammerte met liefde verwar. Toe ek my weer kom kry, was ek swanger. Ek het met selfverwyte geworstel, want so iets gebeur mos nie met ’n goeie Christen-meisie nie. Wat sou my ouers sê? Hoe sal ek hulle ooit weer in die oë kan kyk?

Ek het vir sewe maande stilgebly en die moeilike pad alleen gestap. Toe ek vir ’n naweek huis toe gaan, moes ek eenvoudig die nuus aan my familie oordra. My ma was hartseer omdat ek dit so lank alleen gedra het. My pa was aanvanklik kwaad, maar het bedaar en gesê hulle sou my bystaan. My familie was vir my ’n groot steunpilaar. 

Die volgende vraag was: “Wat gebeur nou?” Dis seker een van die moeilikste besluite wat ’n vrou kan neem. Ek was jonk, het pas begin werk, was verward, onseker en nie daartoe in staat om ’n baba alleen groot te maak nie. My oumagrootjie het my vertel van ’n tehuis vir ongehude moeders in Port Elizabeth en ek wou regtig doen wat die beste vir my baba sou wees. 

Ek het die maatskaplike werker gaan sien en sy het my vertel van ’n kinderlose egpaar wat smag na ’n babadogtertjie. Hulle sou vir haar ’n goeie ouerhuis en opvoeding kon gee. Ek het deurentyd gebid dat die Here my sal lei om die regte besluit te neem. Die dag toe ek besluit om haar te laat aanneem, het ek ’n kalmte en rustigheid ervaar en ek het geweet ek doen die regte ding vir my kind.

Ek het daarna verhuis, ander werk gekry, en ’n nuwe lewe begin.  Ek het goed ge-“cope” met die situasie, want die Here was saam met my in die besluit wat ek geneem het. Maar daar gaan nie ’n verjaardag verby wat ek nie aan haar gedink het nie. Ek wonder of sy gelukkig is en of sy innerlike vrede het oor haar situasie.  

Ek sal haar graag eendag wil ontmoet, en ek besef ek sal nooit haar ma wees nie. Ek sal haar graag aan my man wil voorstel en aan haar pragtige twee halfsussies wat die Here vir my in háár plek gegee het. 

As sy ooit wonder oor my, wil ek maar net vir haar sê ek is ’n doodnormale mens, dat ek ’n standvastige, beginselvaste gesin het en dat dit lekker sou wees om haar en haar ouers te kon ontmoet.

Aan haar ouers wil ek sê ek sal nooit die geskenk wat die Here vir julle deur middel van my gegee het, van julle wegneem nie. Ek glo biologiese ouers en aanneemkinders kan wel gelukkig herenig word. Dit hoef nie altyd onaangenaam te wees nie.

Maar, ek sal nooit eerste met haar kontak probeer maak nie, want ek voel dit bly haar keuse of sy my wil opsoek of nie. Ek wil net vir haar sê: “Baie geluk met jou mondigwording, en mag Jesus jou pad met rose besaai. Mag Hy jou beskerm en seën en mag jy altyd jou sterkte by Hom vind.”

Intussen kan ek maar net bly wonder ………    

Bea Schaeffer (skuilnaam), Wes-Kaap

  • reana le roux

    Hi Bea
    Ek is ‘n aanneemkind. My naam is Reana. Ek het nog nooit gewonder oor my biologiese ouers nie – want ek is self ‘n ouer en weet dat as daar die besluit geneem is vir aanneming of aftekening – dit net vir die beste vir die kind sal wees. Moet jy nie bekommerd wees nie – ek glo sy is in goeie hande en sy wonder daardie selfde vrae as wat jy nou vra ook in haar hart. Dink ook aan daardie twee mense wie se lewe jy volmaak gemaak het met jou bondeltjie liefde. Glo in God en Hy sal jou verder lei.

  • Troedels

    Ek moet een van die gelukkigste mense op aarde wees. Ek het my dogter wat ek in 1972 vir aanneming gegee het ontmoet toe sy 26 was. Omdat sy toe ‘n maatskaplike werker was het sy op die regter manier met my kontak gemaak. Ek was nog nooit een dag spyt daaroor nie en dis amper 12 jaar gelede. Ek hoop ook nie dat sy al spyt was nie.
    Ons is albei daarna deur ‘n egskeiding en ek beskou haar as een van my beste vriendinne! Sy noem my op my naam.
    Ek het ook ‘n pragtige kleinseun wat ek graag meer sou wou sien.
    Miskien was ek maar net gelukkig.
    Gaan soek julle ma’s. Doen dit net op die regte manier en as sy dan nie met jou wil kontak he nie, moet daar ‘n rede wees.
    Ek het geweet daqt my huwelik dit dalk nie sou oorleef nie, maar dit was die beste ding wat ek ooit gedoen het.
    My ander twee dogters is ook baie lief vir haar!

  • Anadia

    Hi Bea

    Ek kan jou verseker dat jou kind oor jou wonder. Almal wonder, ongeag hoe gelukkig jy is. Dit gaan daaroor dat jy oor baie eenvoudige, basiese goedjies wonder, soos hoe jou ma lyk, waar jy jou talente gekry het, ens. In my geval het ek te doen gehad met ‘n biologiese ma wat na 22 jaar my vir haarself wou he. Sy het glad nie die feit dat ek ouers van my eie het, gerespekteer nie, en sy het ook nie die maatskaplike werkster, wat as middelman opgetree het, se raad en reels probeer volg nie. Dit was regtig baie moeilik om haar so te aanvaar ( m.a.w sy het my ouers glad nie gerespekteer nie en sou alles doen om hulle te verwoes ). Geen verhouding kan op so manier oorleef nie. Daarom het ek besluit om my boek te skryf. Baie van ons ( indien nie almal nie ) idealiseer die onbekende ( die prentjie van jou biologiese ma, ens. ), en is daarom nie bestand indien ons ‘n slegte ervaring het nie. Ek het gevoel ek moes my ervaring deel, sodat aanneemkinders besef dat dit nie net perfek kan wees nie, maar ook traumaties of teleurstellend, of selfs afbrekend. Mense is almal uniek en daarom verskil ons elkeen, so nie een van ons sal dieselfde ervaringe he nie, dalk naastenby dieselfde of totaal anders. Soos ek se, mense verskil. En so het ek dit ook oral in my boek genoem, sodat die kinders nie my ervaring sal koppel aan hulle moontlike ontmoetings nie. Solank hulle net nie die perfekte ontmoeting of verhouding verwag nie, want dit kan vernietigend wees as so iets sensitiefs vir mens nie uitwerk nie. Nieteenstaande is ek bly ek het haar ontmoet, want dit het vir my berusting gebring en hope perspektief. Jy klink na ‘n baie goeie mens en ek glo jou dogter sal ook wees, dalk vind julle mekaar eendag en kan op ‘n goeie manier mekaar se lewens verryk. Maar net ons wonderlike Skepper sal weet. Mag Hy beide van julle seen en verryk. Groete!

  • Bea

    Liewe Reana, Troedels, Anadia en SARIE lesers. Hi, dis ek, Bea. Baie dankie vir jul kommentaar en ondersteuning – dit beteken baie. Ek wil vandag getuig van hoe GROOT die Here se genade is en hoe GETROU God is!! My dogter het my opgesoek en gevind!! In ‘n neutedop wil ek net sê dat dit ‘n "awsome" ervaring was. Sy is pragtig, het geen verwyte nie, het in ‘n wonderlike ouerhuis grootgeword en wou net weet waar sy vandaan kom. Ek en my man het haar ouers en broer ontmoet en sy het ‘n gedeelte van my familie al ontmoet en skielik het en en sy ‘n "extended" familie. Die Here het haar en vir my bewaar sodat ons kon ontmoet en sodat ons saam kan bou aan ‘n pragtige toekoms – alle eer aan Hom!!

  • Amorine Heunis

    Tannie Bea.

    My naam is Amorine. Ek is self `n aanneemkind en dit het my geroer toe ek die brief lees.

    Ek word 17 en ek wonder elke liewe dag hoe dit dou wees om deur my eie ouers grootgemaak te word. Ek en my aanneemma kom nie juis goed oor die weg nie en soms herinner sy my daaraan dat ek dankbaar moet wees…

    Asb moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is dankbaar vir dit wat ek het, maar daar is iets binne my wat nog onrustig is. Ek kan nie verstaan waarom my ma my weggegooi het nie, waarom mag ek haar nie opspoor voor ek 21 is nie en waarom my pa nie eens weet ek bestaan.

    Ek is jammer as dit kras klink… Maar hoe kan mens jou eie kind in die wereld in bring en dan net weggooi en vir 21 jaar vergeet?

  • Leonie Erasmus

    Hi Bea
    Ek sal jou graag help om jou kind op te spoor wat jy laat aanneem het. Ek doen al vir 17 jaar opsporings van biologiese ouers en aangenome kinders met baie groot sukses. Ek het al honderde ma’s met hul kinders herenig. Jy kan vir my ‘n email stuur by: leonieerasmus@telkomsa.net of bel by 028-2715500. Ek sien uit daarna om van jou te hoor. Ek doen ook die opsporings van aanneem ouers en biologiese moeders vir die kantore landwyd wat met herkoms navrae en aannemings werk
    Groete
    Leonie Erasmus

  • Annette

    Liewe Amorine Heunis
    Ek lees jou briefie, my pop en weet jy dit het my baie geroer. Jou ma en aanneem ouers het albei keuses gemaak. Jou aanneem ouers die grootste keuese – want om ‘n kind groot te maak is nie maklik nie en om dan iemand anders se kind groot te maak nog moeiliker – maar my pop glo my hierdie mamma verdien jou nie! Wees net sterk nog net ‘n jaar of twee dan kan jy werk en op jou eie gaan! en dan my liefie kan jy jou eie lewe begin! Sterkte!

  • Annette

    My eie bloedouers by wie groot geword het, het my afgeskryf. Ten spyte daarvan dat ek die een is wat hul help, bystaan en daar was vir hulle. Soms en nou baie meer dink ek dat ek aangeneem is! want hoe kan jy jou eie kind vervang met iemand anders! en dis presies wat my ma gedoen het – sy vervang my met of my skoonsusters of huurders enige iemand wat sy in die hande kan kry en stoot my weg. Al kom ek op vir my ma – niks is goed genoeg nie! Ek wil so graag ‘n ma he wat my onvoorwaardelik aanvaar ongeag of iets verkeerds gedoen het of nie!

  • Louise

    Ek is ook aangeneem ek wou nog altyd weet wie my biologiese ma is, maar dit is nie so maklik om uit te vind nie. Ek is 33, maar dit gaan nie net oor my nie. Ek is self n ma, en ek het geen verwyte dat my biologiese ma n beter lewe vir my wou gee nie, sy was immers net 16, maar ek is seker sy het nou n nuwe lewe, nuwe kinders, nuwe man en dalk, net dalk is ek ietsie wat in die verlede moet bly. Ek dink dit is n struweling wat elke aangenome kind deurgaan. Moet ek of moet ek nie. As ek maar net weet of sy my wil ken, want ek wil haar so graag ken. Ek wil vir haar dankie se dat sy die lewe aan my geskenk het en so n groot opoffering gemaak het. Amorine, ek weet presies wat jy bedoel….. daar is net altyd iets "missing"

  • Louise

    Vir die eerste keer maak ek ‘n stap in dié direksie – my naam is Louise, ek is ook aangeneem, 33 jaar oud, in Kaapstad groot geword en wonder elke jaar hoe dit sou wees om my biologiese ma op te spoor. Ek het geen ideé waarheen ‘n mens moet gaan nie, of wat onderneem moet word nie.. want ek wil ook vermy dat my ouers daarvan weet.
    Lank het ek ook gesé – dis die verlede, moet dit nie uitkraam nie. En ek wou vermy dat ou wonde opkom. Aan die ander kant gee my Bea se storie moed, want dit kan ook wees dat my biologiese ma wonder wie ek is – hoe dit met my gaan, ens.
    Ek wil haar graag ontmoet, hoop baie dit goed gaan met haar, ook omdat ek wil sy moet weet ek is die gelukkigste mens op aarde, waardeer alles van my lewe geweldig. Sodat sy kan ervaar, haar besluit was doodreg…
    Nou leef ek in die buiteland en sal van stappe oor die internet moet gebruik maak om my doel te beryk.
    (verskoon asb. as my Afrikaans nie te goed is nie. dankie.)

  • Elsabe

    Ek lees julle briewe en kommentaar en my hart breek in stukke. Ek wil net graag vir alle aangeneemde kinders een ding sê – julle is aan julle aanneem ouers die grootste geskenk wat hulle ontvang het.

    Ek weet julle sit met vrae sonder antwoorde… Ek het self vrae… Ek sit hier, ‘n 28 jarige, gelukkig getroude vrou, wat nie kan kinders hê nie. Oral om my sien ek swanger vrouens, al my vriendinne en vrouens in my familie het kindertjies – dan wonder ek hoekom dit met my moet gebeur?

    Dit klink selfsugtig, ek weet, maar hoekom sien ek dan ook sommige arm mense wat hulle kinders gebruik om te bedel (En dan het hulle stringe kinders!), of wrede mense wat hulle eie kinders mishandel en vernietig? Ek kan tog meer vir ‘n kindjie bied as dit! Ons het soveel liefde om te gee; ‘n goeie familie ondersteuningstelsel; ons kind sal nooit hartseer, honger, vuil of sonder ‘n gebed gaan slaap nie; ons kind sal op ‘n klein plasie groot word met ‘n verskeidenheid diere. Weet julle hoeveel stads- en voorstedelike kinders het nog nooit ‘n koei in lewende lywe gesien nie?

    Dan het ek so ‘n week gelede gehoor van ‘n jong meisie, 3 maande swanger, wat moontlik haar baba wil afteken. Sy’s gesond, is nie HIV Positief nie, gebruik nie dwelms of drank nie, en sy rook nie. Ek was in die wolke! Om te dink, ek kan oor 6 maande ‘n mamma vir ‘n weerlose kindjie wees! Ek hoop in my hele hart, dat sy nie haar baba wil hou nie.

    "Wat ‘n wrede ding om te sê!" dink julle. Laat ek dit so stel. Dit is haar vierde kind. Haar eerste het sy 3 dae na sy geboorte, sommer by haar ouma gaan aflaai en gese sy moet plan maak, haar tweede, het die buurvrou gevat aangesien sy nie die hart gehad het om ‘n baba na ‘n weeshuis te laat gaan deur haar eie ma, as sy iets daaraan kon doen nie, en die hartseerste van als, haar derde is vir ‘n stel meubels verruil!

    Ek voel glad nie skuldig nie, want watse vrou doen so iets? Drie keer? En watse tipe mens "koop" ‘n baba? As hulle geskik was om ‘n kindjie aan te neem sou hulle dit op die regte wetlike manier laat doen het. Ons het ook besluit dat net direkte familie (boeties, sussies, oumas, oupas en ons ouer) sal weet dat die babatjie aangeneem is, ek wil nie hê dat die babatjie uitvind dat hy/sy aangeneem is nie want ons wil nie hê sy moet eendag verstote voel nie. En dit kan werk. Een van my niggies is aangeneem, sy is 30 jaar oud en weet dit nog steeds nie. Sy is gelukkig en suksesvol.

    Laat die babatjie dan eerder by my en my man land! Die babatjie sal ook my ouers se enigste kleinkind wees.

    So, vol emosie in my hart en trane in my oë vra ek julle om vir my al julle duime vas te hou… Ongeag hoe ek in hierdie brief klink en ter wille van daardie pragtige bondeltjie onskuld wat se toekoms onseker is op hierdie stadium.

  • Maxie

    Ek lees deur al hierdie & kan / wil huil oor die ongelooflike mensie wat my aangeneem het. My ma & ek het die BESTE verhouding ooit gehad & toe sy skielik oorlede is, het my wereld letterlik uitmekaar geval…… Dit het gevoel asof iemand my hart uitgeskeur het & op n ander plek gesit het. My liefste ma het my van kleins af vertel dat ek n aanneem-baba was,en dat sy my sou help om my biologiese ma op te spoor indien ek haar wou leer ken. Ek wou nooit nie. Sowat n jaar voor haar dood het sy skielik eendag vir my gese dat sy my "ma" opgespoor het…….. Hoe wonderlik & onvoorwaardelik van haar! Ek wou egter nie kontak met die persoon maak nie. Al wat ek uitgevind het is dat ek n "broer" het….. Na Mamma se dood het ek, om een of ander onverklaarbare rede, wel die vrou gekontak. Sy stel nie belang nie. Ek’s bly, sy’s nie iemand met wie ek kan identifiseer nie. Sy "weet" nie eers wie my biologiese pa is nie! n Familielid moes my broer vertel hy’t n suster…… Ek het hom wel ontmoet & kan met eerlikheid se dat hy n baie, baie goeie, gawe mens is. Hy’t uit die aard van die saak nie van my geweet nie (hy’s haar enigste ander kind) Persoonlik dink ek sy’s selfsugtig, maar ek’s haar EWIG dankbaar dat sy my vir my ouers "gegee" het. Sy’s miskien skaam oor wat gebeur het, maar ek nie. Die Here kon nie vir my n groter geskenk as n biddende Ma gee nie. Hierdie ander vrou is in my gedagtes nie vir een oomblik my ma nie, sy’s my broer se ma. My liefste ma is by die Vader & ek beter seker maak ek lewe so dat ek haar weer eendag sien. Volgens my is aanneem ouers opreg & wil jou regtig he……..

  • Elaine

    Hou ons asb op hoogte Elsabe! Hoop alles werk uit vir jou. Jy klink of jy die perferkte mamma vir daai babatjie kan wees! Sterkte skat… xxxx

  • Elaine

    Bea… Ek is so bly vir jou! xx

  • Elsabe

    Dankie Elaine. Ons het goeie nuus. Die vrou wil definitief haar baba weg gee en ons het nou kontak gemaak met ‘n maatskaplike werkster wat ons gaan help om die baba aan te neem. Alles word volgens die kinderwet riglyne gedoen en ons is vol hoop dat die proses gaan regloop. My twee susters het nooit getrou nie en hulle gaan ons babatjie verskriklik bederf as ek so kyk na al die goedjies wat hulle al gekoop het. Ons probeer om nie te woes te kere te gaan nie, maar soms as ons ietsie oulik sien, kan ons net nie ons self keer nie, dan land dit so ewe "noodsaaklik" in die trollie. Mans is mos verskriklik skaam om hulle gevoelens te wys… ek vang my man gereeld laat hy na baba produkte en kleertjies kyk… en moet tog nou net nie dat die karstoeltjie nie by die kar pas nie hoor!!! Almal in my familie is so opgewonde en ons is al reeds besig om die babakamer in te rig. Nou hoop ek net die vrou trek nie kop uit nie, maar soos dit klink kan sy nie wag om (in haar eie woorde) "van die ding ontslae te raak nie". Ek kan nog steeds nie glo dat iemand so kan dink oor ‘n geskenk van God nie. Ek is net verskriklik dankbaar dat daardie geskenkie na ons toe kom.

  • Hi
    Vir baie jare help ek al biologiese moeders om met hul kinders te herenig jare na aanneming. Ek help graag enige aangenome kind, kinders wat in pleegsorg was of biologiese ouers wat opsoek is na hul ma of kind. Broers en susters wat ook soek na hul ma se kind wat sy destyds laat aanneem het is ook baie welkom. Besoek gerus my splinternuwe webtuiste wat ek spesiaal vir hierdie doel hoofsaaklik in Afrikaans laat ontwerp het. Op my webtuiste is ook verhale onder andere van twee susters en twee broers wat ek na 64 jaar herenig het! ‘n Mens is NOOIT te oud om te soek nie. My web adres is http://www.adoptedchild.co.za almal is baie welkom om daarvan gebruik te maak. Ek hoor graag van julle! Al is jy in Namibie of enige plek in Suid-Afrika aangeneem, EK KAN JOU HELP.
    Leonie Erasmus

  • christina kemp

    Sjoe ek sit met trane in my oë! Ek is self ‘n aangenome kind wat baie hard na my biologiese moeder soek. Maar orals loop jy jouself net teen mure vas. As jy nie sukkel om inligting te kry nie, kry jy te doen met onprofesionele mense wat al jou inligting uitlap.Maar dit daar gelaat.. ek sal aanhou soek tot ek haar vind. Ek wonder soms of sy ooit na my probeer soek, en of dit die regte ding is om haar te soek, wat daarvan as ek haar lewe heel omver werk? Dan is daar ook die kwessie van my aanneem ouers. Ek het die wonderlikste pa en ma gekry en ek wil hulle nie in die gesig vat nie…maar ek wil weet! Waar kom my talente vandaan, watter siektes is in die familie ens. Ek en my man het self al aansoek gedoen om ‘n babatjie aan te neem omdat dokters vir ons gesê het ons sal nooit ons eie kan hê nie. En in daardie onderhoud het ek besef hoe wreed aannemings in die outyd kon wees.

  • Aida

    ek soek my suster. My ma het haar deestyds laat aanneem. Ek het by my Ouma gebly wat my so te se groot gemaak het. My Ouma se bure het haar aangeneem, en blykbaar het ek met haar gespeel sonder dat ek ooit geweet het sy was my sussie. Ek smag om haar op te spoor, want ek is na my broer se dood die enigste kind. Ek en my ma het nie ‘n band nie en is vervreem van mekaar. As sy die een aand nie dronk verdriet gehad het nie, sou sy my seker nooit vertel het dat ek ‘n sussie het nie. Vandag voel ek bitter alleen, het nie eers ‘n beste vriendin nie.Al het ek vandag 2 van my eie kinders en ‘n liefdevolle man, sou ek so graag iemand wou gehad het om my hartsgeheime mee te deel. Ek wonder soms of my sussie se nuwe ouers vir haar vertel het of sy aangeneem is. Party verkies mos om sulke inligting nooit aan die kind te openbaar nie. Dit sal darem hartseer wees. As sy wel weet, hoop ek tog sy soek na my ook as sy bewus is van my bestaan. Ek het in Mayfair Jhb by my Ouma gebly. Ek is in 1973 gebore en vermoed sy is gebore enige iets tussen 1973-1979. Dalk, net dalk kom lees sy hier.

  • Tania

    Ek is 22 weke swanger en oorweeg dit om die baba vir aanneming op te gee, want finansieel kan ek net nie dit bekostig nie. Ek het al agentskappe gekontak maar dinge sloer, en ek sal verkies om die aanneem ouers voor die tyd te leer ken. Dis die heel moeilikste besluit wat ek nog moes maak. Ek wens net ek kan n paartjie ontmoet wat wil aanneem, waarmee ek gemaklik voel. Ek wens vir n oop aanneming en bo alles n goeie huis vir my kind. As iemand van n paartjie weet, kontak my gerus op moyaombi@yahoo.co.uk

  • Indien u aangeneem is en soek na ‘n biologiese ouer, of self ‘n biol. ouer is wat soek na u kind wat u opgegee het vir aanneming. Besoek gerus my splinternuwe webtuiste in Afrikaans en Engels http://www.adoptedchild.co.za – kontak my vandag nog dat ek u kind/ ouer vir u opspoor terwyl ek u inligting VOOR aanneming gratis op my webtuiste plaas terwyl ek u ouer/kind vir u opspoor. Hou ook die Sarie tydskrif wat op 25 0f 26 Oktober op die rakke sal wees dop en lees "My Storie". Daar maak ek ma’s en aangenome kinders bewus van hierdie webtuiste en my diens wat ek aanbied om hul kind of ma professioneel vir hulle op te spoor. Op hierdie manier sal baie ma’s en kinders herenig word.

  • Elsabe

    Na maande se gebou en breek aan die huis om die babakamer reg te kry, duisende rande se voorbereiding het die vreeslikste ding gebeur… Die ma van die baba dogtertjie wat ons sou aanneem, het besluit om haar te hou… Haar ex-ou se ouers het gese "ons sal ons maar oor die baba ontverm, sy is tog vlees en bloed" . Nogal hartseer om te dink dat ons kleinding nou moet grootword in ‘n familie waar niemand haar eintlik wil he nie, maar grootmaak omdat dit hulle plig is. Ek bid elke dag dat die Here na haar sal kyk, want in my hart is sy my baba. Ek het al die babagoed wat ons gekoop het vir my ma gestuur om in my ou kamer te stoor, kleertjies, skoentjies, storie boeke, speelgoed, kot, draastoeltjie en nog vele meer. Ek neem die ma die kwalik nie, dit is tog immers haar besluit gewees, ek gee ook nie om oor al die geld wat uitgegee is vir die voorbereiding van die baba nie, wat my pla… is die leë gat in my hart!

  • yolande

    die ma wat die baba wil opgee vir aanneming se adres werk nie sy het dit op as moyaombi@yahoo.co.uk-onder tanya het gesê net hier bo.

  • Susan

    Elsabe, as jy ooit eendag ‘n baba aanneem, wees eerlik daaroor. Moenie die feite vir jou kind wegsteek nie : dit sal die grootste fout wees wat jy ooit kan maak. Ek is self ‘n aangenome kind, en het ook ‘n baba vir aanneming afgestaan. Ek het dus die situasie van albei kante beleef. Glo my, die waarheid seëvier altyd.

  • Adrie Booysen

    Ek is die ouer van twee pragtige standvastige, goed gebalanseerde aangenome Seun en Dogter. My Seun het nog nooit in sy 34 jaar belang gestel om enige iets van sy biologiese Moeder te weet of uit te vind nie. My Dogter van 30 het van ‘n baie jong ouderdom al vrae gevra. Albei ons kinders is ingelig oor hul aanneming voor die ouderdom van drie soos versoek deur die Kindersorg.

    Ons Doger het twee jaar terug kontak gemaak met haar biologiese Moeder maar is nog nie gereed om haar te ontmoet nie. Ek self korrespondeer met die Moeder, en sy is een van die bedagsaamste, nederigste persone wat ek ken. Sy sal haar nooit op ons afdwing nie, en respekteer ons gevoelens en alles wat daarmee gepaard gaan. Ek het vir haar ‘n foto album saam gestel oor ons Dogter se lewe vanaf geboorte tot nou toe, en sy het dit geweldig waardeer.

    In die begin was dit nie maklik vir my gewees nnie, omdat ek bedreig gevoel het, maar vandag is ek nie een oomblik spyt dat my Dogter kontak gemaak het nie met haar biologiese Moeder nie. Soos in my Dogter se eie woorde, "Ek het nou al die antwoorde op my vrae". Adrie

  • Colle

    Soms wens ek daar kan n jong meisie op my pad kom en ek kan n baba aanneem. Ek het op 16 swanger geraak en die baba laat aanneem. Ek sien hom gereeld en hy word nou 13. Maar nou smag ek vir n kind en dit is nie moontlik nie.

    Hoe kry ander mense dit so maklik reg om kinders aan te neem. En nie ek nie.

    Ek doen pleegsorg maar dit is nie dieselfde nie. Die kindertjies gaan altyd terug na mamma en pappa toe. En ek is baie bly daaroor. Want n gesin hoort saam. Maar my hart voel elke keer of iemand hom uit ruk en op hom trap.

    En ja ek sal dit nog 10000000000 keer doen as ek weet dit maak n verskil in n kindjie se lewe. Ek bewonder julle mammas met julle kinders. Dit moet "awsome" wees.

  • Adrie

    Beste Colle Dit is glad nie maklik om kinders aan te neem nie. Daar is baie streng rëels en regulasies in plek, en ons was eers na vele onderhoude en mediese verslae goed gekeur.

    Ek wens jou sterkte toe.

  • pq48Ln bezwreabdunv, [url=http://riwqgtcszxkj.com/]riwqgtcszxkj[/url], [link=http://wxualwnozjzr.com/]wxualwnozjzr[/link], http://wacabqaemhsj.com/

  • Phoebe

    Hi Elsabe, ons is deur dieselfde het die mooiste babadogterjie so verloor. Die bio-ma het kort voor die 60 dae die baba terug ge-eis. Ons het ook vir alles betaal, die geboorte, die babakamer reggekry, kraamverlof was gereel, babyshower was agter die rug, die hele familie het haar ontmoet… en toe geen baba meer… Sterkte. dit gaan ‘n rukkie vat om deur daardie seer te werk.

  • chantell

    Ek lees van al hierdie mooi stories en is vreeslik bly om te hoor van al die mammas wat hulle kinders opgespoor het.

    Ek en my lewens maat is al nege jaar bymekaar en is baie gelukkig saam. ons is baie suksesvol in ons besigheid asook vir ons normale dag vir dag werk en het als wat ons moontlik wil he, maar tog is daar maar ‘n lee plekkie.

    Ons is op die uitkyk om ‘n babatjie aan te neem. ons het al baie navrae gedoen en al orals rond gebel moontlik.

    indien daar enige raad is of leiding gegee kan word, sal dit vreeslik baie waardeer word.

    byvoorbaat dank