sr0904brink_2_
Eie stories

Ek & Ingrid

“Dit was in die laatmiddag van ’n blou-en-goue laatsomerdag, Donderdag 18 April 1963, dat Ingrid in my netjies geordende lewe ingestap en alles onderstebo gekeer
het. (. . .)

Ons was bymekaar in die skemerige, stowwerige voorkamer van die ou kasarm van ’n huis in Cheviot Place, Groenpunt, waar Jan Rabie en Marjorie Wallace (en Erik
Laubscher en sy vrou, Claude Bouscharain) gewoon het – miskien die enigste werklik boheemse kunstenaarswoning in die Kaap – ’n groep skrywers wat vergader het om ’n protes te beplan teen die nuwe sensuurwet wat toe besig was om in die parlement vorm aan te neem. ’n Hele paar van ons het toe reeds afsonderlike aanvalle geloods op die voorgestelde aanslag op die kunste (aangevoor deur die prominente regse politikus Abraham H. Jonker, wie se eie eerste pogings in die realisme nooit aan die vroeë belofte voldoen het nie en wat berug geword het nadat hy beweer het dat selfs Shakespeare gekuis behoort te word): maar nou het dit tyd geword vir georganiseerde verset op ’n groter skaal. Die bespreking was geesdriftig en hartstogtelik, maar tot op daardie tydstip was daar nog niks wat die dag uitsonderlik laat lyk het nie.

En toe het sy daar ingestap, klein en stil, maar so gespanne soos ’n opgewende veer, haar donkerblonde krulle deurmekaar, haar bruin oë sku maar smeulend. Die dogter

Dit was in die nag van
17 Julie 1965 dat sy
in Drieankerbaai in die
ysige Atlantiese Oseaan ingestap het, uit die werklikheid tot binne-in
’n mite . . .

van die einste sensuurbeluste Abraham H. Jonker, wat toe al openlik daaroor gedroom het om hoofsensor te word. Sy het ’n los wit manshemp aangehad, ’n paar nommers te groot vir haar; en ’n nousluitende groen langbroek, ’n paar nommers te knap. Sy het ’n sigaret tussen twee vingers gehad. Haar kaal voete was klein en smal en pragtig. Ek sou daarna nooit weer ’n vrou ontmoet sonder om na haar voete te kyk nie.

In die loop van die naweek wat daarop gevolg het, het ek haar oë deur ’n verstommende reeks uitdrukkings sien beweeg, van koel tot afgetrokke tot vlammend van woede, van sereen tot uitbundig tot afgetrokke tot ontnugter tot gretig, van openlik uitdagend tot geskok tot minagtend, van wydgerek in kinderlike verwondering tot brandend van hartstog, van stilweg tevrede tot vernietigend en vlymend. En haar gevoelige, sensuele mond: sinies, tevrede, kwaai, wondbaar, speels, bitter, spottend, vreedsaam, verwoed, gelukkig, geesdriftig, wild. Onvoorspelbaar en eindeloos fassinerend, al daardie kwiksilweragtige veranderinge van luim en uitdrukking.

Dit was vir ons albei liefde met die eerste oogopslag – selfs al was ek getroud en sy toe al ’n hele paar jaar lank (ofskoon ek dit toe nog nie besef het nie) in ’n vaste maar onstabiele verhouding met (die skrywer) Jack Cope, wat meer as twintig jaar ouer as enigeen van ons twee was. Soos die Franse uitdrukking dit stel, was dit ’n bliksemstraal wat ons albei getref het; en dit was eenvoudig onmoontlik om te keer.”

** Lees in jou April-SARIE hoe Ingrid hom een aand gevra het om Verwoerd te gaan skiet. Ook hoe hy gevoel het toe ’n vriend hom bel om te sê sy’t selfmoord gepleeg . . .

** Lees meer oor die skrywer én die boek.

** Bestel ’n Vurk in die pad – ’n Memoir.