sr1010myselfhoof
Eie stories

“Ek is nou eers groot” – Vrou praat na haar egskeiding

Karin Crous (32) van Robertson het geweier dat ‘n egskeiding haar onderkry, al was dit ‘n skok om op 27 skielik op haar eie te wees – en enkelma van die driejarige Reynecke. Sy is op 22 getroud – “te vroeg en te vinnig”. Vandag erken sy: “Ek is nou eers groot!”

Sy geniet haar eie geselskap, woeker as ontwerper van skoenbykomstighede en kan nou saam met haar eks-man om die vuur ‘n wyntjie geniet “soos twee normale volwassenes en ouers van ‘n agtjarige.”

HUISIE-HUISIE

“Ek het probeer huisie-huisie speel en was nie volwasse genoeg vir die verantwoordelikhede van ‘n huwelik nie. Ek het myself verloor – ek was altyd kreatief, maar het dit nie uitgeleef nie. Dit was frustrerend. Ek was net vrou en ma, glad nie voluit myself nie – ek het gestagneer.

“Toe ons skei, was ek onvoorbereid op al die emosies . . . ek was eensaam, teleurgesteld en het besef net ek alleen kan die reis na herstel aanpak. Met ‘n egskeiding word vuil wasgoed maar altyd uitgehaal en dit bring ‘n kant in jou uit waarvan jy nie hou nie.Maar ek het ook besef hoe sterk ek was. Elke dag was ‘n stryd om staande te bly, om te sê ek kan heel en beter hierdeur.

“Ek het geleer hoe waardevol mense in my lewe is. Trots is nie altyd goed nie, soms moet jy jou hand uitsteek en hulp aanvaar.”

OP MY EIE

“Ek is mal daaroor om op my eie te wees. Ek het myself herontdek en weer geleer en begin doen waarvan ék hou. Daar was baie eerstes: Alleen braai (ek moes my pa bel met ons eerste vuurtjie en die hoender moes later mikrogolfoond toe!), alleen fliek, uiteet, geleenthede, vakansie. Dit was eers moeilik, maar later het ek dit geniet. Ek weet regtig nie of ek weer sal trou nie. Baie geskeide vroue soek iemand om te help kind grootmaak, maar my seun het ‘n baie betrokke pa. Ek is selfsugtig met my eie tyd en het wonderlike vriendinne.”

GROOTSTE UITDAGINGS

“Om vrede te maak met jou eggenoot. Veral as kinders betrokke is. Reynecke het gewens ons trou weer, maar ek dink ons is na genoeg aan die ‘perfekte’ geskeide ouers. Ons eet minstens een keer per week saam en Reynecke weet ons is net maats. My familie het ook nie van die probleme geweet nie. Dit was vir hulle ‘n taamlike skok en moeilik om hulle gerus te stel dat dit die beste uitweg is.

“Maar my grootste struikelblok was dat ek vyf jaar huisvrou was. Toe moes ek begin werk soek – loutere hel! Ek het byna 400 CV’s uitgestuur, en net een oproep gekry. Ek het werk by ‘n reisfirma gekry. My kind sê maklik Mamma kan alles doen (ek het tot ‘n toolbox as geskenk gekry), maar ek moes aanleer om vrou én man te wees.”

‘N DROOM WORD WAAR

“Katya Shoes het twee jaar gelede begin. Ek het bykomstighede op ‘n paar skoene aangewerk en dit dieselfde dag verkoop. Toe weet ek dis wat ek moet doen. Ek het al skoene aan boetieks verskaf en kry baie belangstelling.

“Soos in enige nuwe onderneming is daar struikelblokke. Maar tot dusver kyk ek nie terug nie. Ek kan tuis werk en by my seun wees. Hy is self kreatief en help soms met die ontwerpe.”

WAT EK GELEER HET

  • Net jy kan jouself gelukkig maak. Leer jouself ken deur alleen te wees. Doen dinge waarvan jy hou.
  • Die lewe is nié regverdig nie. Vriende kan jou maak of breek.
  • Familie is jou steunpilaar. Wees positief. Ek kan dit nie genoeg benadruk nie. Dis soms nie realisties nie, maar flous jouself maar nou en dan.
  • Behou jou identiteit, trots en jou vrouwees. Daar is geluk en liefde ná ‘n egskeiding.
  • Die Here het die vrou geskape as ‘n emosioneel sterk wese – ons moet dit net meer besef.