Eie stories

Ek leer snorkel op 60!

Met alles in die lewe is daar ’n eerste keer. Byna sestig jaar oud en vir die eerste keer gaan ek oorsee op uitnodiging van vriende, wat al vir drie jaar in Maskat in die staat Oman bly. Ek en my vriendin, wat saamvlieg, groet ons mans op die lughawe. Dit voel vir my of ek honderde skoenlappers saam met die koffie, wat ek so pas gedrink het, ingesluk het.

Baie opgewonde en bietjie skrikkerig klim ons op die vliegtuig. Toe die eerste trollie in die gangetjie verbykom, bestel ons vir ons elkeen ’n glas wyn om ons langverwagte oor-die-water-vakansie te vier. Ek bekyk die klein televisieskermpie voor my. Geen idee hoe dit werk nie. Ek loer om my rond, en deur die opening tussen die twee sitplekke voor my, kyk ek af by my medepassasiers wat om te doen en ek kry tien ure se vlieg om deur die heel nuutste flieks te kyk en speletjies te speel. Kort-kort staan ons op en doen strekoefeninge in die klein ruimte voor die vliegtuigkombuis. Ons wil tog net nie trombose kry nie!

In Maskat klim ek vir die eerste keer in my lewe op ’n seilboot om iewers in die Indiese Oseaan te oornag en te snorkel. Die bang sit in my hele lyf, want ek het ’n vrees vir water. Maar ek hou my so braaf soos ’n klein brakkie agter ’n toe hek. Ons drie vroue sit voor op die boot met ons bene in die water. My voete, wat soos visse aan ’n lyn deur die water klief, is veilig, want in hierdie see is glad nie haaie nie. Of so is vir my vertel.

Vir vier en ’n half uur seil ons op die oopsee, later in die pikdonker, op soek na ’n strandjie. Lekker is nou glad nie meer lekker nie. Ek gaan lê later plat op die plat boot, kyk nikssiende in die donker hemel op en bid: “Here, laat daar tog net asseblief iewers ’n stukkie land wees waar ek vannag my voete kan neersit, want die benoudheid is besig om my van alle kante te bekruip en ek sien glad nie kans vir heelnag se op en af wieg nie.”

Die mans swaai die kollig heen en weer oor die water en skielik hoor ek hoe een van hulle sê: “Daar’s land.” Ek spring regop. Sowaar, die boot meer vas by ’n piepklein strandjie. Spesiaal net vir ons met geen ander wese in sig nie. In die donker stap ek ’n entjie strandlangs en druk my voete diep in die seesand en ek dank die Liewe Vader vir sy genade. Slaapsakke word oopgegooi en ek, wat niks van goggas hou nie, raak sonder moeite aan die slap, onbewus van die krappies wat die hele strand vol hol onder ’n maan wat intussen blinkwit van agter die berge te voorskyn gekom het.

Toe die mis die volgende oggend om die bergpunt aangewaai kom, met die son vaal daaragter, klim ons terug op die boot. Ons seil vir ’n halfuur en gooi anker. My vriendin se woorde “nou gaan ek julle leer snorkel”, kom soos ’n doodsvonnis op ’n ligte briesie na my toe aan. Met blou paddavoete aan my voete en ’n pienk poelpoedel in my hand, sit ek op die kant van die boot. “Spring!” sê my vriendin, maar ek kan nie. Die naar sit bo in my sluk. Weet niemand dan dat ek nie eers in ’n swembad inspring nie, wat nog van hierdie dieptes? Almal is later in die water, behalwe ek met ’n lyf vol adrenalien, yskoud en bewerig op die kant van die boot. Ek moet besluit: óf ek gaan heeldag op die boot sit óf ek gaan in die see spring.

Ek skraap die bietjie moed wat ek nog oor het bymekaar en ek spring. Die pienk poelnoedel skiet my terug bo die water uit. My hare hang oor my my oë en ek soek gelyktydig na my asem en na die kant van die boot. Toe ek myself weer gevind het, spuug ek in my snorkelbril, vee die lense mooi skoon en druk dit vas oor my oë en neus, nes daar vir my beduie word. Met die mondstuk in my mond is dit tyd om my gesig in die water te druk, met my paddavoete te skop en te snorkel. Ek kry ’n paniekaanval, my hart klop vinnig. Ek is doodseker ek gaan verdrink. Keer op keer probeer ek, maar dit wil net nie werk nie. In my kop begin ek plannetjies maak om weer op die boot te kom, maar daar is niemand om my te help opklim nie.

Ek onthou my jongste dogter se laaste sms voor ek op die vliegtuig geklim het: “Ma, gaan mal en doen alles. Ma is mos nou al mooi groot.” En ek weet ek kan nie huis toe gaan en sê ek was ’n bangbroek nie. My vriendin kalmeer my en ons begin van voor af. Ek druk my gesig onder die water en haal asem deur die snorkelpyp. Die mooiste van mooi wêrelde gaan vir my onder daai water oop. Die kleurrykste visse en die mooiste koraalriwwe, wat altyd op TV en in boeke ’n wonder was, word vir my ’n werklikheid. ’n Onverstaanbare kalmte kom oor my en vir ’n volle uur snorkel ek met die pienk poelnoedel vasgeklem in my hande en sonder ’n bang nat haar op my kop.

Op pad terug Maskat toe staar ek oor die see en ek kan nie glo wat ek vermag het nie. Ek voel so bevry en ek is so oneindig dankbaar vir ’n geduldige vriendin, wat net besluit het: Niks se gebang-ouma-bang nie – jy sal snorkel, al vat dit die hele dag. My vrees vir water is definitief nie heeltemal weg nie, maar ek gaan verseker weer snorkel, solank ek net ‘n pienk poelnoedel in my hande het!

Marthie Burger, Villieria