sr1206praat_met_marcia01
Eie stories

“Ek vergewe jou, Eugene” – jong vrou ontmoet ma se moordenaar

Marcia Khoza (29) het Eugene de Kock, voormalige Vlakplaas-bevelvoerder, in die tronk besoek om vir hom te sê sy vergewe hom vir die moord op haar ma, Portia Shabangu.

Portia was destyds tydens apartheid ’n struggle-stryder en ’n soldaat vir MK (Umkhonto weSizwe) toe sy in 1989 in ’n lokval doodgeskiet is.

Marcia en Eugene het op 12 Februarie vanjaar, op die herdenking van haar ma se dood, in Pretoria-Sentraal-gevangenis ontmoet en ’n lang gesprek gehad (Lees ’n volledige onderhoud met haar in die Junie-uitgawe van SARIE). Eugene het vir haar gesê hy lê snags wakker oor die families van sy slagoffers wat nie weet waar hul oorskot is nie. “Toe besluit ek om hom te help om vrede te kry en om ook die families van daardie mense te help om hul beendere te kry.”

Daarom het sy ná hul ontmoeting die Portia Shabangu-stigting begin. “Ek wil ’n lys name kry van die mense wat doodgemaak is en waar hulle begrawe is. Dan wil ek die name adverteer, sodat hul families na vore kan kom. Dan kan die stigting hulle help om hul geliefdes se oorskot te vind. Hul ma’s en pa’s wonder steeds wat met hulle gebeur het.”

Marcia hoop die stigting kan met versoening help. “Ek wil nie hê die land of die wêreld moet teruggly nie, ons het te ver gekom. Ek wil hê mnr. De Kock en die families van die mense wat hy begrawe het, moet vrede vind.”

Lees die volledige onderhoud in jou Junie 2012-uitgawe van SARIE