sr0907styldinge25
Eie stories

Ek verwyt nie my biologiese ma nie

‘n Dankbare aanneemma van Gauteng laat weet: Ons is die afgelope 26 jaar geseën met twee pragtige aangenome kinders. My dogter se biologiese ma wou in haar matriekjaar met haar kontak maak, maar my kind het vir haar ‘n briefie geskryf oor haar lewe. Sy het haar broer gevra of hy sý biologiese ouers wil ontmoet, maar hy stel nie belang nie. Albei kinders is baie kreatief en sit vir ons ore aan! Ons dogter was hoofmeisie en was in haar gr. 10-jaar vir drie maande op ’n uitruilprogram in Duitsland. Hieronder is ’n brief, wat my dogter tydens haar studiejare as ’n werkstuk ingehandig het. Dis háár verhaal, en dit roer mens nogal … Plaas dit asseblief.

“Is jy aangeneem?” Die advertensie vang my oog so in die verbydwarrel, haastig op pad klas toe. Ek stop, draai terug en lees verder.

“Ek soek my dogter, gebore op 8 September 1987. Bel 076 … ….” Stomgeslaan. Ek voel naar.

“Is dit nie dan, juis dán, dat ek my sterre dank dat ek jou het nie,” herinner Chris Chameleon my hoe gelukkig ek is.

As aborsies in 1987 reeds wettig was, was ék dalk die een in die “moeilikheid”. “Dankie” is seker in orde. Ek wonder net wie dit verdien? Die staat wat aborsies eers tien jaar later – op 1 Februarie 1997 – amptelik toegelaat het? Dalk ’n trotse oupa of ouma te bang vir die kerk of vir skandaal?

Die Here.

Ek het nog altyd geweet ek is aangeneem. Dis een van die heel eerste dinge wat my ouers my vertel het, al was ek nog te klein om te verstaan. Hulle wou ongemaklike vrae soos: “Ma, is ek die melkman se kind?” bitter graag vermy. Sou hulle gekies het om my nie te vertel nie, glo ek dat ek die waarheid gou genoeg vir myself sou kon uitpluis.

Sien, ek is die enigste “blue-eyed blonde” in die familie. Hoe’s dit nou vir subtiel?

Vakansietye wat ‘n besliste hoogtepunt. Wanneer Jan Tuisbly kom kuier het, het ons die bus na die middestad geneem en die dag daar deurgebring. Was dit nou vir jou ‘n gedoente! Op so ‘n uitstappie het ons gewoonlik eers by my ma se ou werk gaan inloer. Nuuskierige ooms en tannies wou dikwels weet waar my ligte haarkleur vandaan kom, maar ons het net gelag en speels saam daaroor gewonder.

Oor die jare heen sou ek leer dat dit nie iets is jy vir almal kan vertel nie.

“So, dan is jy mos eintlik ‘n weggooiknd.” Pa en Ma moes my trane afdroog. Kinders kan tog so wreed wees.

Ons stelsel het goed genoeg gewerk. Vreemdelinge is gewoonlik in die duister gehou, terwyl die mense na aan ons gesin almal van die aanneming geweet het. Vandag is ek nie skaam om te erken dat ek aangeneem is nie, en het selfs al ‘n vent in die bek geruk omdat hy teen “my soort” veralgemeen het.

“Julle twee lyk nogal na mekaar.” Dit het nou die dag weer gebeur. Nou lag ek my broer net daaroor. Hy is ook aangeneem. Ek onthou nog toe ek uit respek vir hom nie vir almal van die aanneming wou vertel nie, maar dit het gou verander. Die feit dat ons nie bloedverwante is nie, het intussen al vir talle snaakshede gesorg.

Hy: ”Ag, jou ma, man!”

Ek: “Sy’s jou ma ook …”

Ons gesprek vorder selde veel verder, altyd deur ‘n spontane lagbui onderbreek.

Ek en hy het ons eie stel grappies ontwikkel en dis lekker om uiteindelik so oop daaroor te kan wees.

Ons omstandighede en dié van ons biologiese ouers is heel verskillend van mekaar em daarom voel ons vandag ook heel anders.

Ek verwyt nie my biologiese ma nie en eendag sal ek dit vir haar wil sê. Ek weet nie wat dit verg om ‘n baba te moet weggee nie. Sy was net 16 jaar oud en ek ‘n pap babatjie met ‘n kans op ‘n beter lewe.

Dankie daarvoor. Ek is jou innig dankbaar.

Daar is nie nou plek vir haar in my lewe nie, 21 jaar het verbygegaan. My aanneemouers is, wat my betref, in al die opsigte wat saak maak, my enigste ouers. Hulle het my gevorm en ‘n groot deel van wat ek vandag is, is te danke aan hulle. Ek het aanbeweeg, en ek hoop sy ook. Maar ek glo nie jy kan ooit sommer net van jou kind vergeet nie.

In my matriekjaar het sy navraag oor my gedoen, wou weet hoe ek uitgedraai het. Ek is ook nuuskierig oor haar storie, per definisie ook mý storie. Was die aanneming háár keuse? Het my pa ooit van my bestaan geweet? Het sy ‘n nuwe gesin. Weet húlle van my?

Indien ek wil, sal ek haar kan opspoor. Dit het ek ook nog altyd geweet.

‘n Advertensie om haar dogter te vind. Dié vrou wat die advertensie op die kennisgewingborde geplaas het, het by ‘n maatskaplike werker verneem dat haar biologiese kind haar nie wil ontmoet nie. Sy het besluit om self haar dogter op te spoor – ‘n daad van pure selfsug of ‘n bewys van haar innige liefde? Ek voel naar omdat ek weet sy met haar desperate pogings die hele stelsel omvergewerp het.

Ek wonder soms wie die seerste kry. Die ma, wat van haar eie vlees en bloed moet afskeid neem, of die kind, dikwels in twee geskeur deur die werklikheid en die illusie van ‘n moontlike werklikheid?”

Hier’s 5 wenke aan aanneemouers:

1. Wees van dag een af eerlik met jou kind oor die feit dat hy/sy aangeneem is.

2. Maa dit duidelik indien daar ‘n moontlikheid is om die biologiese ouers op te spoor en gee jou kind die opsie om self te besluit.

3. Besluit hoe om die situasie te hanteer as mense julle daaroor uitvra.

4. Maak seker jou aangenome kind twyfel nooit aan jou liefde nie.

5. Moet nóóít in ‘n oomblik van woede die aanneming in hul gesigte teruggooi met ‘n “jy’s tog nie my kind nie”.

  • Marietjie Gordon

    Hester Aletta (Selma) du Plessis was ons ma. Ek het twee broers wat nie van my bestaan bewus is nie. Ons ma is gebore om en by 1939 en oorlede op 7 Augustus 2011 in Kaapstad.
    Sy was vroeer verpleegster in Kaapstad. Nou soek ek na my biologiese familie. Skakel asseblief vir: Marietjie Gordon by: 082 717 0222

  • Nadia Pretorius

    Ek is baie lank al opsoek na my biologiese ma, maar tevergeefs.
    Dit kan tog seker nie so moeilik wees nie?! Tot die dokumentasie wat sy geteken het met my aanneming, het nie ‘n ID no in nie. Was dit wettig in 1983?

    Ek is defenetief voorbereid op enige gedrag of voorkoms, sou ek haar wel opspoor.
    My aanneem- ouers was perfek. Het nie altyd finansiel goed gegaan nie, maar dit was vir my perfek.

    Monica Labuschagne, sou jy dalk dit lees, ek soek jare vir jou en ek sal 1 Mei 1983, 30 jaar oud wees.
    Laat weet my net of jy ook aan my gedink het, al was dit een keer.

    Nadia Pretorius