sr1208_hjg_5_
Eie stories

‘Ek wag dat sy Pappa sê’

Pippie Kruger (4) is bekend as een van die land se dapperste jong brandslagoffertjies. Sy het anderhalf jaar gelede derdegraadse brandwonde oor 80% van haar lyfie opgedoen nadat ’n bottel vuur- aansteekmiddel in haar pa, Erwin, se hande ontplof
het. Sedertdien spook dié beroepsjagter-pa van Ellisras (Lephalale) in Limpopo met skuldgevoelens. Maar hy besef genesing neem tyd. Hy vertel:

Dit het agt maande geneem voordat ek vir die eerste keer met my vrou [Anice] oor daardie dag kon praat. Ek moes self eers sin maak van wat gebeur het … Ons sou dié oggend by vriende gaan kuier, maar het daarteen besluit.

Nou vra ons onsself hoekom ons nie maar gegaan het nie. Anice het my nog nooit verwyt nie, maar ek verwyt myself. Ek besef dit was ’n ongeluk, maar ek dink nou nog: Wat as ek dit of dat anders gedoen het? Hoekom het ek haar nie eers binne toe geneem voordat ek die vuur aangesteek het nie? Ek onthou nog hoe ek haar gegryp en teen my vasgedruk het, hoe ek haar toe op die gras neergesit en ingehardloop het vir die tafeldoek om die vlamme op haar lyfie te blus.

Ek het teruggekyk en Pippie sien omrol en probeer regop kom. Hoekom het ek haar daar neergesit … so asof ek haar weggegooi het? Ek droom nog baie oor hoe haar gesiggie brand, daai haartjies wat so skroei. Ek sal dit in my lewe nooit vergeet nie …

Dit sal my vir ’n lang ruk nie vang nie, maar wanneer ek alleen is, hol my gedagtes met my weg. Soos nou die dag toe ek op ’n jagtog in Zimbabwe alleen by die kampvuur na selfoonfoto’s van Pippie gekyk het wat Anice die vorige dag gestuur het. Wanneer ek in die week alleen tuis en
Anice, Pippie en Arno [2] in Johannesburg is, hou ek myself maar besig of gaan eet by my ouers, Piet en Carla.

Maar jy kan net soveel keer fliek kyk of op die internet speel. Wanneer die huis tjoepstil is en ek my gesin mis, dán kom daardie gedagtes … In die begin het ek berading gekry. Ek het al dae omgehuil. In een stadium het ek al so sleg gevoel dat ek nie eens die huis wou verlaat om te gaan werk nie. Ek het niks geniet nie. Ek wou opgee, maar mettertyd het dinge beter geraak en nou sal ek gaan jag, visvang of fliek om my gedagtes af te lei. Want net jy alleen kan jou gedagtes orden, jou eie hartseer verwerk, innerlike vrede vind. Ek en Anice het ook al lekker kopgestamp. Sy’t al gevoel ek help te min, maar ek moet die pot aan die kook hou – die finansiële druk van só iets is ongelooflik.
Haar geloof het die laaste tyd vinnig gegroei en soms het sy gevoel ek bly agter. Sy’t ook gewoond geraak aan die lewe in Johannesburg en om huis toe te kom gaan ’n aanpassing wees. Dinge was al so wankelrig dat ons maar moes sterk staan dat hierdie ding nie ons huwelik vernietig nie. Dit was baie moeilik in die begin, en nou en dan nog steeds. Gelukkig erken ons albei ons foute en ons besef kommunikasie is belangrik. Nou praat ons dinge uit. Ek voel ek het as man en pa verander, ek’s baie meer toegeeflik. Voorheen was dit my manier of niks, nou’s ek meer buigsaam. Voor die ongeluk het ek baie gewerk en was min tuis. Maar ek het geleer jou kinders en familie is kosbaar. Dat jy soveel moontlik gehaltetyd met jou gesin moet deurbring, want jy weet nie wanneer is een van hulle weg nie.

Daar het gelukkig positiewe dinge hieruit gekom. Soos dat Pippie se fonds al ’n ander brandslagoffertjie gehelp het. Ek is oneindig dankbaar vir die ondersteuning wat ons
van my ouers en skoonouers, familie en vriende gekry het. Ons huwelik is nou baie sterker. Anice blameer my nie. Sy gun my ook my tyd om te heel en ondersteun my daarin. Wanneer my gesin terugtrek huis toe, glo ek dinge gaan beter wees. Ek kan Anice dan met alles help. Dit sal ’n
nuwe begin wees. Wanneer ek terugkyk, besef ek alles gebeur met ’n doel. Maar jy verstaan dit nie altyd nie en kry nie dadelik antwoorde op die ‘hoekoms’ nie. Dit kan môre wees, of oor 10 jaar, of 40 jaar van nou …eendag sal ek antwoorde kry.

Eendag sal ek weet hoekom dít met Pips moes gebeur. Jy moet jouself net tyd gee, nie op ’n hopie gaan sit nie, nooit hoop verloor nie. Staan sterk as ’n familie. Hou aan glo. Maar om ’n vinnige oplossing te soek help nie. Hoe lank dit nog gaan neem voor die gedagtes my los of ek die gevoelens van verwyt kan laat vaar, weet ek nie. Sal ek ooit closure kry? Ja. Die dag as Pippie om die huis kan hardloop, haar arms om my nek gooi en sê ‘Pappa’. Dán sal ek wéét sy is oukei.”