Eie stories

‘n Veiliger wêreld vir my kinders

DIE E-BRIEF MOET TRASH TOE GAAN, ASB. WAS REEDS IN LANDBOU-WEEKBLAD. DANKIE – MERCY

 

Ek sit onlangs rustig by my ouerhuis en koffie drink, en staar sommer na niks … tot ek weer die skuifkettinkie aan die deur opmerk. Jy weet, daardie kettinkies wat almal so 20 jaar terug aan hul deure gesit het, lank voor die tyd van sekuriteitshekke wat nou feitlik aan al wat deur in die huis is. Die skuifketting laat jou toe om die deur op ’n skrefie oop te maak, met jou bekende of onbekende gas te gesels en terselfdertyd jou veiligheid verseker.

Maar ’n jaar of wat later was die veiligheidskettinkies is nie meer voldoende om veiligheid in jou eie huis te verseker nie. Daar was skielik ’n splinternuwe “moet-hê” op die mark … die loergat in die deur. Die gaatjie bied jou maksimum sekuriteit, want jy hoef nou jy glad nie eens jou deur oop te maak om te kyk wie klop nie. Jy kan deurloer en self besluit of dit veilig is om oop te maak en gaste in te nooi.

Ek onthou ’n dekade of wat gelede – voor skuifkettinkies en loergate aan die deure op my oupa se plaas – hoe die grootmense gepraat het oor onluste op plase, en my grootouers se veiligheid.

Ek, in daardie stadium seker maar so 10 jaar oud, het net so die agterkant van ’n storie gevang oor kinders wat wreed aangerand in openbare toilette op ’n nabygeleë dorp gevind is. Ek was bang en baie benoud. Wat het ek verstaan van kinders wat aangerand word, honde wat op oupa se plaas vergiftig word en opstande onder werkers? Al wat ek verstaan het, was dat ons nie meer so lekker agter die plaashuis alleen in die plaaspad kon speel nie. Die grootmense het gepraat van dorp toe trek, want dit was veiliger daar.

As ek nou terugdink, was dit was my eerste ware kennismaking met die feit dat almal nie net in harmonie saamleef en speel soos in my onervare kinderwêreld nie.

Loergaatjies, veiligheidkettings en die buurtwag het plek gemaak vir hoë mure met sekuriteitshekke, elektrifiseerde omheinings, veiligheidskameras, alarmstelsels, kwaai waghonde en in talle huise ’n kluis met ’n vuurwapen.

Kinders speel nou eerder binnenshuis, en boomklim en wegkruipertjie speel buite saam met die buurt se kinders is ’n groot taboe. ’n Rustige aandjie om die braaivleisvuur is deesdae eerder ’n bymekaarkom van vriende met ’n bietjie van ’n nagwag-gevoel te midde van nuusflitse oor bendes wat juis toeslaan wanneer mense in die veiligheid van hul eie huise saam met vriende kuier.

Kyk ek rondom my na al die moorde, kapings, rooftogte, inbrake, verkragtings, kom een vraag by my op: Is al wat ons van ’n barbaarse samelewing onderskei, moderne tegnologie?

Hoe is dit moontlik dat die mens, dieselfde spesie wat intelligent genoeg is om die mees gesofistikeerde sekuriteitstelsels te ontwerp, direk die rede is waarom dit benodig word? Is dit dalk moontlik dat terwyl moderne tegnologie daagliks vooruit beweeg, die mens se inherente begeerte om beter en meer te wees besig is om in die teenoorgestelde rigting te beweeg deur dade en aksies wat by die dag meer barbaars raak? Is ons al so gekondisioneer deur skokberigte dat elkeen van ons skuldig staan voor die aanklag van die agteruitgang van die samelewing deur in stille aanvaarding agter peperduur sekuriteitstelsels weg te kruip en te sug van verligting elke keer as misdaad jou gesin en geliefdes “mis”? Is dit realisties om te dink dat ons sal voortgaan om ongeskonde daarvan af te kom in ’n samelewing waar mense siek genoeg is om toe te laat dat misdaad teen onskuldige kinders aan die orde van die dag is?

Ek mis die dae toe my oupa se hond, Boel, met sy lui oë en rustige stappie die enigste vorm van sekuriteit was wat ons nodig gehad het. Ek wil weer sorgeloos in die veld speel en seringsap maak tot donker. Ek wil weer in Vleesbaai vakansie hou sonder om die deure en vensters in die nag toe te maak sodat ek die see kan ruik, die branders kan hoor en die seelug my hare in die nag kan krul.

Ek wens my kinders kon, soos ek, ook grootword met vryheid, ’n lui hond, ’n loergat en ‘n verspotte skuifkettinkie aan die deur.

Nadea Victor, Brackenfell (Kaap)