Eie stories

Die alleenheid kom net wéér …

Ek het weer eens in my bed gelê en bid, dat ek net kan slaap, dat ek net kan wegraak. Maar dit is vergeefs, want hoe slaap jy met die duiwel in jou gees? 

SARIE skryf soveel artikels oor beroemdes, bekendes, geskendes … maar ek wonder dikwels of jul lesers met al die pyn bekend is? Hoeveel mense kan nie slaap nie? Hoeveel mense wens nie dat hul net ’n pil kon drink nie? Net iemand kon vashou nie of ’n laaste glas alkohol skink nie? Hoeveel lesers smag tans na aanvaarding? Hoeveel mense wil net skree, dat hul inderwaarheid net alles wil opgee?

Ons is geskool, geleerd, soms selfs vereerd, maar steeds doen ons als verkeerd. Ons het nie ’n man, ’n kind of ’n toy boy om te verslind. Ons is net hier, alleen, bang en so dikwels onkant gevang, want die lewe is laatnag en van geen belang.

Genoeg van rym. Ek sit hier, met myself, die enigste samesyn. Ek het geleerdheid en verskeie beroepe gehad, maar dit maak nie saak (daar doen ek die rym weer, maar dalk verweer dit my seer), want die waarheid sal nie ophou klop aan my deur. Die behoeftes sal ek nooit kan versweer, want die alleenheid en verlies kom altyd net weer.

Gebore in ’n goeie gesin, dit is ’n begin … al die luukses waarvoor ek kan vra. Jip, ek het die beste etikette gedra. Ek was uitgetof met Italiaanse skoene en al, maar dit het nie gekeer die grote val. Ek was net so verskriklik alleen, en geen mens êrens kon my van hierdie swart wegneem. Waarom? Ek weet nie, want ek het werklik nie daarvoor gevra. Die swart is van kleintyd my skaduwee, wat nie bereid is om op te gee. 

Ek het probeer doen en dink en dazzle, maar op 41 weet ek dat dit nie genoeg was nie, want ek kan nie slaap nie, ek kan nie leef nie en ja, ek kan nie vergeef nie.

Hoe som ons dit op? Wou nie met maatjies speel in die kleuterskool. Wou nie kleinsussie laat ophou droom. Kon nie goed lees in die laerskool, kon nie saamstem met die Calvinistiese droom. Van toe af dra ek die rok met die swart soom. Wiskunde was nooit my sterk vak, dus het die binnekring gedink ek is eenvoudig … swak. Wiskunde is ’n vak waarin jy moet presteer, anders slaan ’n onderwyser jou kop keer op keer. Of hy skiet jy bra-strap, terwyl almal lag, want jy is ’n mishap.

Jy gaan na universiteit, aanvanklik baie jolyt, want jou ouers is nie daar om na jou te kyk.Dan maak jy weer eens ’n gemors, en begin oor … onwetend. Hierdie nagmerrie herhaal hom later telkemale in jou drome. Jy voel trots en begin met ’n werk, maar jou menswees is nie sterk. Word swanger en kry ’n aborsie in die dae toe die agterstraat nog die enigste uitweg was.

(Hier verlaat my rym my totaal en al, want daardie dag het ek ver geval. Daardie dag toe die naald nader kom, het ’n stukkie van “ons” menswees omgekom.)

Het die afdraand toe begin, of was dit met my eerste sin? Wie weet, die fetus sal nooit vergeet. In elk geval, laat ek verder vertel. Ek het aangehou en probeer moed hou, maar in die nagte en later dae, was daar net hierdie geweldige berou. ’n Seer, ’n swart wat my altyd tart, wat skeur aan my hart … iets wat die lewe uit my wil vat.

Ek het egter aanhou probeer, want die gang van die lewe kan niemand keer. Ek het probeer om niemand seer te maak nie, maar ek wonder? Het ek my nie daardeur geskaak nie? Twee keer in ’n psigiatriese kliniek, tussen-in rehabilitasie, want ek is siek. Elke keer moet my geliefdes daardeur, terwyl ek hallusineer in die seer. In die kliniek kry ek pille en terapie. Vra vir nog, want die duiwel is besig om te bie. Wil eerder in ’n waan en waas weggaan, want dit is beter as hierdie aardse bestaan.

Maar dan kom jy uit, en moet weer probeer, op jou eie aangaan met die geweldige innerlike seer. Weens al die pille en luister na die psigiater se grille, raak jy aan nog iets verslaaf. Iets wat jou laaf, maar weer eens jou medemens nerf-af skaaf. In die kliniek is jy ’n kliek. Jy vra en jy kla. Iets moet jou deur die wit gange dra. Jy fake en jy pleit vir nog ’n pil, om die gat mee te vul. Dan kom jy uit en jou geliefdes het verwyt, want die “veilige” dwelms neem nou jou besluit.

Hoeveel moet ek nog dink, hoeveel pille moet ek drink, hoeveel glase wyn moet ek nog skink totdat iemand verstaan wat in hierdie menswees van my aangaan?

Ek wou ook trou, wou so graag ’n baba hê, maar wat het ek nou om te sê? Is ek deur die lewe uitoorlê? Het ek dit verkies, het ek gevra om alleen te wees, getreiter deur hierdie nagmerries, hierdie altydoorheersende vrees? Ek glo nie ek het, maar hierdie alleenbestaan is duidelik al wat ek nou het. 

Waarom skryf ek juis vanaand? Die woorde was al so dikwels op my tong – onbeskaamd – want ek weet nie meer hoe lank ek nog kan wakker lê en dan wel sal opstaan om iets te sê.

Aan almal wat die son kan sien, wil ek vra: “Kan jul dalk so ’n bietjie van my swart dra?”

  • Marise van Wyk

    Watter ongelooflike skrywe. Wens ek kon dit doen. Die pille, die dwelms en die terapie…als om kamstig vir ons verlossing te gee. Ek stem saam met Marie: so dikwels gaan ‘n mens na ‘n psigiater of sielkundige OF later na ‘n kliniek, en wanneer jy uitstap na 3 weke, 3 maande of 3 jaar, is daar geen antwoorde nie. NUL: net al die vrae van die begin. Ook geen antwoorde op jou roepe vir hulp met jou ongedelgde skuld vir die behandeling nie.
    Alle verstaan en hoop vir Marie.
    Groete
    NS: Ek dink dit sal verfrissend wees indien DIE SARIE dalk die kwessie van klinieke, rehabilitasie fasiliteite en die gee van onnodige medikasie aan "sielkundige" pasiente, sal aanspreek, aangesien daar baie, geweldig baie onwyse praktyke plaasvind.

  • Joy

    Hier is ek…die gehoorsame een. Jy vra ek moet bietjie van jou swart dra- ek kom sit en skryf..tik dit wat op my hart lê, want net dalk sê ek die regte ding. Ek kan nie help dra nie, niemand op aarde kan nie. Hy het dit klaar vir jou gedra, daardie dag toe Hy die Via Dolorosa gestap het. Ek probeer nie sê dat as jy Hom aanneem dan is alles eensklaps rooskleurig nie, nee, daar gebeur nog steeds swaar dinge, moeilike dinge, seerkry dinge. Maar in die sleg en seer wéét ek is nie alleen nie. Sy stok en staf dié vertroos my. Dit is vir my genoeg. Hy beskerm my, Hy help my, Hy stort Sy genade oorvloedig oor my uit. Onverdiend. Dit lê vir jou daar, soos ‘n geskenk, onoopgemaak. Maak dit oop, beleef dit, proe sy goedheid en Sy guns. My Herder kan ook jou Herder wees. Hy het jou al lankal gekies, Hy wag net op jou reaksie.

  • Ek ook

    Met een of twee verskille kan dit my storie ook wees. Daai swart gaan nooit weg nie maar ek het geleer hoe om dit te hanteer en verwerk. Ek kan dit voel aan kom maar dan baklei ek terug. Party dae beter as ander maar ek gaan le nooit! Ek wil net nooit weer n pil daar voor he nie, dit maak dit net erger. Na n lelike egskeidig en 40 wat my roep weet ek ook ek gaan alleen oud word, maar dinge kon erger (dis wat ek bedoel met terug baklei, soek die positiewe uit elke negatief) jou artikel is baie goed en tot die punt, ek wens net jy wou nie heeltyd probeur rym nie.
    Sterkte.

  • Heila

    Liewe Marie, ek voel jou seer en ek wil vir jou se, ek verstaan so effe van jou pyn… aan Ek ook – dalk is die rymery iets soos wat ek gehad het net in n ander vorm:hande was/gesig-was— kort-kort! Joy, hoe reg is jy nie – God dra alreeds jou kruis vir jou – jy praat van vergeef? Vergeef jouself en vergeef di mense teen wie jy dalk iets het want dit gaan die begin wees van gesond word…pille het my sieker laat voel en met groot gesukkel het ek begin stap, naderhand gehardloop en aerobics gedoen – elke dag van die week, sondag tot sondag, siek of te nie. Ek het my dieet verander – nie rooivleis, fizzy drinks, gemorskos maar net die varste groente/vrugte (het later SAMe gedrink mr NIE mt ander meds nie) – die natuur was n wonderlike ontvlugting en dan het ek op my kniee gebly dag en nag. Ek wou ook uitgil vir die wereld los my net uit ek is nie mal nie ek is siek maar ek gaan weer beter word ek weet dit, los my net uit! En Marie, ouderdom is nie n doodsvonnis nie – jy kan nog n huweliksmaat kry wat jou ondersteun en sal liefhet maar eerste kyk in daardie spieel en se dankie Here dat jy leef – ons is hier vir jou – ek bid jou en elke ander persoon wat ‘alleen’ voel, God se genade toe en dat Hy julle sal aanraak want Hy het my aangeraak na 3 lange jare van hel is ek gesond. Ek is steeds op die uitkyk wanneer die donker gedagtes kom plek soek in my lewe, dan drink ek SAMe en glo dit as jy wil, ek takel wasgoed en begin stryk… net die beste wense vir jou Marie.. laat weet hoe dit gaan. Groete