Eie stories

Eksklusief! Koos Kombuis se flitsverhaal vir SARIE

Die boom van ou skoene

Sedert ons in hierdie vakansiedorp aangekom het, het ek al twee keer by daardie huis verbygery.

Die eerste keer het ek per abuis daarop afgekom, en ek het geskrik toe ek die plek sien – nog feitlik onveranderd ná al die jare. Die tweede keer het ek spesifiek daarvoor gaan soek, een dag toe ek kastig kafee toe is vir brood en die koerant.

Dis ‘n klein, bruingeverfde huisie, gebou van bakstene pleks van hout, soos die meeste ander huise op Nature’s Valley.

Ek ry vinnig verby, en vergeet dadelik weer van die plek van skande. Die huis van pyn.

Ek en my vrou en kinders kuier op Nature’s Valley, en soos elke jaar, huur ons ‘n huis. By ‘n eiendomsagent. Plekkies waar ons alleen kan bly, met net die see en die plantegroei en die wilde diere as geselskap.

Een jaar was dit ‘n bosvark wat ons elke nag kom wakker maak het, tot ons geleer het om vir hom kos te los. Vanjaar is dit ‘n alleenloper-wildsbok. Hy hou van muffins en brood, maar verkies appels en piesangs.

Toe ek ‘n kind hier was, in die bruingeverfde huis, was hier ook wilde diere. Daar was elke Kersfees minstens een pofadder in die tuin.

“Ek hou nie van Kersfees nie,” het ek al ‘n paar keer vir my vrou gesê. Sy het my nie gevra om uit te brei nie.

Ons gaan eet sommige aande in die enigste restaurant op die dorp. Hulle het ‘n boom waaraan dosyne en dosyne ou deurgeloopte bergklimstewels hang. Nature’s Valley is die einde van die Otterwandelpad, en hierdie restaurant is die laaste baken op die pad van duisende moeë stappers wat weekliks hier aandoen om hul eerste restaurant-maal in ‘n week te eet. En dan hang hulle sommer hul stukkende skoene hier aan die boom op. Dis ‘n tradisie.

My lewe tot dusver laat my dink aan ‘n paar ou, stukkende skoene. Ek sou so graag daardie skoene ook aan hierdie boom wou ophang.

Ek sou so graag wou vergeet van die agtermiddag toe ek bolmakiesie geslaan het op die strand. Wat ‘n simpel ding om te doen! En dit nogal om ‘n meisie te beïndruk wat op daardie oomblik verbygestap het.

Ek het bolmakiesie geslaan op die sand en bly lê. Ek het geweet dat ek my rug seergemaak het.

“Ek hou nie van Kersfees nie,” sê ek nou nog dikwels aan my vriende en kennisse, of aan almal wat bereid is om te luister. Hulle dink ek sê dit omdat ek – soos alle mans – Krismis-shopping haat, die ure in die malls.

Maar vir my is dit die herinneringe. Spesifiek die herinnering aan een Kersfees wat ek nooit weer wil oorhê nie.

Mense wat verbygestap het, het my gelukkig daardie aand gesien waar ek myself met moeite aan my hande voortgesleep het tot by die pad. Ek het hulle vertel wat gebeur het. Hulle het my in ‘n Kombi getel en tot by my huis geneem en gehelp tot by die voordeur.

Toe ek die sitkamer binnekruip, het hulle my geïgnoreer.

Ek het myself voor hul voete op die mat verbygesleep tot by die rusbank in die verste hoek van die vertrek.

Die tyd het al jare lank stilgestaan in die huis van pyn. Die tyd staan nou nog stil daar.

Dit mag dalk niks beteken nie, maar sedert ek my vrou en my skoonfamilie ontmoet het, hou ons elke jaar Kersfees met Kersbome en ballonne en presente en groot etes en jolyt.

Maar soms, te midde van die tinsel en die goeie wyn en die gefuif, maak ek my oë toe en onthou ek ‘n ander Kersfees, dekades gelede. ‘n Kersfees toe ek een noodlottige nag alleen op die rusbank van ons bruingeverfde huisie gelê en kreun het van die seerkry terwyl my familie net daar gesit het sonder om op te kyk van hul paperback-moordstories.

Kersfees, so weet ek, is die tyd van vergewe.

Maar hoe kry ek reg om te vergeet?

Wanneer gaan ek dit eendag regkry om my ou skoene aan die boom te hang . . . en vry weg te stap van my ongelukkige jeug?

Ek het dit nie so beplan nie, maar vandag, die laaste shopping-dag voor Kersfees, moet ek weer kafee toe ry vir iets.

Toe ek by die erf met die bruingeverfde huisie kom, ry ek oudergewoonte stadiger. Maar hierdie keer kyk ek nie.

Dis die eerste keer dat ek dit regkry.

Aan die oorkant van die pad, op ‘n leë erf, staan die wildsbok. Die een wat hou van appels en piesangs.

Ek draai die ruit af, en sê: “Geseënde Kersfees.”

Hy kyk stip na my met sy hartseer bruin ogies. En knik sy kop net een keer.

Ek trap die petrolpedaal in en ry kaalvoet verder.

KOOS TREE VIR DIE EERSTE KEER IN JARE IN KAAPSTAD OP!
Vrydag (24 Julie) by die Gatta Patat Teater, Cape Diamond Hotel, op die hoek van Parlement en Langmarkstraat.
Die optrede begin 20:30 en kos R85. Daar is ook ‘n tweegang- (voor- en hoofgereg) buffet teen R125 pp vanaf 18:30 te ete.
Besprekings kan gedoen word by 021 461 2519.

  • Martjie

    Knap geskryf, soos alles wat Koos doen. Maar nie regtig ‘n verhaal nie – eintlik net ‘n kans om in die openbaar nog ‘n klip te gooi na sy ouers en die gesin waarin hy grootgeword het. Ek aanvaar dat hy ‘n ongelukkige jeug gehad het – hy was sekerlik nie ‘n maklike kind om te verstaan nie. Wanneer gaan ons van sy kant af ‘n meer volwasse blik kry, wat ook ‘n poging aanwend om die ander ou se kant raak te sien en te verstaan? Die dag as dit gebeur, gaan ek glo Koos het nou regtig grootgeword. (Ek is mal oor Koos – het al vir hom gese ek is een van die (min?) ma’s wat nie my kinders teen hom waarsku nie).