Eie stories

Eksklusief vir SARIE: Amanda Strydom skryf ‘n flitsverhaal

Miss Tillie
Deur Amanda Strydom

“Eish, miss Tillie, dis tyd dat ons hierdie spul blomme uitgooi, hulle is gedaan.” Gladys hark ’n hand vol roosblare met haar vingers onder die koffietafel uit.

Tillie gryp haar pen en skryf driftig: “Los my blomme uit, hulle bly net hier!” Hou dan die notaboek na Gladys uit en staar na die CD-rak.

Gladys lees, sit die boekie op die koffietafel neer, kyk na die bosse vergane ruikers wat die sitkamer vol staan. Daar’s verlepte ruikers in die voorportaal en in Tillie se slaapkamer. In die gang, kombuis en eetkamer. Al maande lank.

“Nou dan loop ek maar, miss Tillie. Ek sien Miss môre.” Sy tel haar handsak op en sê oor haar skouer: “En dit sal nice wees as Miss ’n slag uit die gown en slippers kom en ordentlik aantrek.”

Tillie sê niks. Sy hoor die voordeur toegaan. Die veiligheidshek word gesluit. Dan rommel die elektroniese hek onder in die tuin oop en weer toe. Sy staan op en kyk by die groot komvenster uit.

Gladys, gejas, gehandsak, met wolmus op die kop, word al hoe kleiner in die laatmiddaglig soos sy straat-af loop bushalte toe.

Jy verstaan niks! dink Tillie en kyk weer na die enorme rak vol CD’s. Sy kies twee, haar eerste en haar laaste, skink ’n glas wyn en gaan sit op die rusbank. Hoe yl klink die ou stemmetjie op die eerste een, dink sy, en spring na ’n volgende snit. Maar dan liewer ’n yl stemmetjie as geen stem nie!

Dis vandag presies drie maande sedert die nuus: Sy sal nooit weer kan sing nie. Miskien sag praat, maar nooit weer sing nie. Die veeleisende optredes drie maande gelede en die poliepe op haar stembande . . . sy het jare lank geweier om dit te laat verwyder. Nou het dit die eens beroemde Tillie Malan verander in ’n stemlose pateet.

Sy skop haar pantoffels uit en lê terug teen die groot fluweelkussings. Sy skakel oor na haar laaste CD. Hier resoneer ’n dieper, sterk stem, ’n passie, ’n grootsheid – en sy onthou haar laaste optrede. Die stampvol saal, haar orkes, Nina agter die groot vleuelklavier, Willem op die kroegstoeltjie met sy kitaar, Rico omring met perkussie-instrumente en Henri met die groot kontrabas.

Vasgevang in die kollig, haar kop agteroor gegooi, arms omhoog, het sy asem geskep vir die laaste noot. Maar geen geluid wou uit haar keel kom nie. Sy het weer probeer, maar haar mond het oop- en toegegaan soos ’n vis agter glas.

Agter die klavier het Nina besorg na haar gekyk, toe met ’n vinnige handbeweging die orkes laat afsluit. Tillie het gebuig, die ietwat verwarde gehoor het nietemin opgespring en haar staande toegejuig. Haar orkeslede het langs haar kom staan vir die finale buiging. Die gordyn het gesak onder dawerende applous en sy het met Nina probeer praat, maar tevergeefs.

“Moenie praat nie,” het Nina gesê. “Gaan trek jou jas aan, ek neem jou reguit huis toe. Jy móét vir dr. Naudé môre gaan sien. Ek sal hom bel. Ons sal later die blomme en die res van die kostuums bring.”

Toe beveel sy die orkes: “Niemand word in die kleedkamer toegelaat nie, Tillie sal nie vanaand CD’s teken nie, ons kanselleer die res van die week, hier’s fout.”

Dit word vinnig donker buite. Tillie skakel die leeslampe aan en sit die CD-speler af. Sy kan nie meer na haar eie stem luister nie. Sy glip haar voete in haar pantoffels en inspekteer die een verlepte ruiker ná die ander. Hierdie een was Sint Josefslelies, hierdie een krisante met gipskruid – die gipskruid het mooi uitgedroog. Ook die roosruikers. Daar is nog kleur, van diep wynrooi tot pienk, geel en wit. Kurkdroog en bros – sou sy aan een raak, sal dit verkrummel tot poeier.

Sy stap kombuis toe.

Daar staan vier treurige ruikers in die groot kombuis. Die tierlelies se stuifmeel lê soos oranje strooisuiker die marmerblaaie vol. Net toe sy die nat lappie optel om die blad skoon te vee, gebeur dit: ’n Tipiese, uit-die-bloute Gautengse kragonderbreking. Dis pikgitswartdonker. En doodstil.

Sy staan ’n paar sekondes stil, voel-voel dan haar pad na die sitkamer, stamp in die proses die groot ruiker op die gangtafeltjie om en sak op haar knieë.

“Dêmmit!” fluister sy hees en kruip na die sitkamer. Daar was ’n dosie vuurhoutjies by die kerskandelaar op die kaggel.

Sy stamp haar kop teen die hoek van die koffietafel en swets weer hees. Sy tas rond in die donker tussen die fotorame op die kaggelrak, stamp ’n paar om en hoor hoe val die glas flenters op die teëls. Sy voel oplaas die dosie vuurhoutjies onder haar vingers, en steek die kerse in die silwerkandelaar aan.

***

Sy haal die foto’s uit die gebreekte rame en bekyk dit in die kerslig. Sy en Jacques in Central Park in New York. Hier is hulle in die sneeu in Switserland. Jacques langs die braaiplek op die strandhuis se stoep, sy glas wyn omhoog gelig, bruingebrand, sy lang swart hare in ’n poniestert.

Wat het my besiel? dink sy en sit die kandelaar in die middel van die koffietafel neer. “Los my blomme uit, hulle bly net hier!” lees sy in die notaboek waar Gladys dit neergesit het. Sy gaan sit op die rusbank en pak die foto’s op die koffietafel uit. Sy kyk na ’n foto van haar en die orkes op Trafalgar-plein in Londen. Hulle het so baie gelag. Dit voel asof sy na ’n vreemdeling kyk, nie na haarself nie. Sy kyk weer na die foto van Jacques by die strandhuis. Draai die foto om. Hy het ’n boodskap geskryf: “Op nog baie somers saam, my lief!”

Hy het lank na haar gestaan en kyk met die briefie in sy hand. “Ek dink nie dit gaan werk nie,” het sy geskryf. “Ek wil alleen wees. My loopbaan is verby, los my net uit. Asseblief.”

“Tillie, ek gee nie om of jy ’n stem het of nie. Ek het jou lief. Ek weet daar is baie om te verwerk, maar dis nie asof jy ’n doodsvonnis gekry het nie! Hoekom wil jy jouself so martel?”

“Dit ís ’n doodsvonnis! My lewe was die verhoog, nou is dit verby. Wat verstaan jy nie?” het sy woedend geskryf.

Hy het die briefie opgefrommel en aan haar wang probeer raak, maar sy het teruggedeins, hom in die oë gekyk en haar kop geskud. “Gee jouself tyd, liefste. Ek is daar vir jou.”

Hy het sy sleutels opgetel en weer lank na haar gekyk. “My dilly, silly Tillie,” het hy kopskuddend gesê en toe was hy weg. Gladys het saam met hom gestap, sy het sy motor hoor wegtrek. Toe kom Gladys in die kamerdeur staan.

“Miss Tillie, jy was nou baie stupid.” Net dit. Toe gaan stryk Gladys. Die transistorradio kliphard in die strykkamer.

Sy besef skielik dat sy sedert daardie laaste vertoning drie maande gelede nie ’n enkele besoeker in die huis toegelaat het nie. Die antwoordmasjien is konstant aan. Sy laat Gladys terugbel as dit enigsins belangrik is. Die selfoon is permanent af. Die rekenaar toegegooi onder lap. Sy het haarself in ballingskap geplaas. Die enigste mens wat hier kom, is Gladys.

Ek het ’n monster geword, dink sy. Ek kan hoor. Ek kan sien. Ek het hande en bene. Sy skink nog wyn. Ek weet net nie waar my sin vir humor heen is nie.

“Gesondheid,” mik sy hees na Jacques se foto.

***

En op daardie moment gaan die ligte aan. Tillie skrik so groot dat sy rooiwyn oor haar mors. Sy storm die gang af en struikel oor die blompot wat omgeval het. Die gang is besaai met dooie blomme. Sy vang haarself in die gangspieël – ’n mooi, verslonste vrou met blare en verlepte rose wat aan haar hare en wynbevlekte kamerjas vasklou. Sy kyk lank na haarself, dis of sy haarself vir die eerste keer in maande raaksien.

“Miss Showbizz 2006,” fluister sy. En skielik begin Tillie lag. ’n Heserige gehyg bars uit haar keel, dit klink so potsierlik dat sy op die vloer neersak met haar rug teen die muur en skud soos sy hyg-hyg lag. Sy klink nes ’n gans. Sy vou dubbel op die vloer en rol heen en weer op die mat. Sy lag drie maande se drek uit haar uit.

Toe Gladys die volgende oggend die voordeur oopsluit, staan Tillie in die voorportaal.

“Blaas my siel,” sê Gladys. Tillie, in jeans en ’n pienk bokhaartrui, se hare blink weer, sy het grimering aan, maar daar’s ’n groot knop op haar voorkop van die stamp teen die koffietafel. Weg is die dooie ruikers en die horde blompotte.

“Blaas my siel,” sê Gladys weer. Hulle stap kombuis toe. Gladys kyk intens na Tillie: “Wie’t Miss Tillie so reggefoeter? Dit was ’n helse hou!”

“Ek het self,” fluister Tillie. “Kyk,” sy hou haar varsgelaaide selfoon na Gladys uit, “daar’s baie boodskappe van Jacques en Nina. Gee jy om?”

“Ek bel,” sê Gladys. “Sit nog make-up op daai knop.”

Bestel die SARIE 40 Flitsverhale hier.

  • Annette

    Amanda jou ou doring, jy sing nie net fantasties jy skryf ook wonderlik.. mens kan dit sommer toepas op mens self die storie as mens deur daai dip gaan kort mens net ‘n stamp teen die kop om weer rigting te kry… Pragtig skryf vir ons nog.

  • Andriette Jooste

    Absoluut hoendervleis mooi! My ikoon. Andriette Jooste

  • eHbpzT uaeikltqbwuh, [url=http://aegowsylcexd.com/]aegowsylcexd[/url], [link=http://rswkdiefeebs.com/]rswkdiefeebs[/link], http://iccnrjdlwyqp.com/

  • YG5DNH lgahkixuygor, [url=http://ntssuaggcwbt.com/]ntssuaggcwbt[/url], [link=http://qigfiwxebslq.com/]qigfiwxebslq[/link], http://kugfpoipzpna.com/